SAKP-leiers moet tydlyn verskaf vir breuk met ANC

Dr. Blade Nzimande, algemene sekretaris van die SAKP (Foto: Zanele Zulu/African News Agency/ANA)

Die Wes-Kaapse provinsiale leierskap van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het hom ten gunste van ʼn verbreking van die SAKP se verkiesingsalliansie met die ANC uitgespreek en wil hê partyleiers moet aandui wanneer dit gaan gebeur.

Die voorstel is dat die SAKP op eie stoom en afsonderlik aan verkiesings deelneem, het Benson Nqweshu, provinsiale sekretaris van die Wes-Kaapse SAKP, bevestig.

Dit sal ʼn herbevestiging wees van ʼn vroeëre besluit om van die ANC-geleide regerende alliansie weg te breek. Die SAKP in die Wes-Kaap wil egter hê daar moet op ʼn duidelike tydlyn ooreengekom word waarvolgens hierdie wegbreking sal plaasvind. Die voorstel sal dien voor die SAKP se nasionale kongres wat in Desember vanjaar plaasvind.

Waar so ʼn besluit om afsonderlik van en teen die ANC deel te neem aan verkiesings reeds geneem is, het die SAKP-leierskap, en by name die algemene sekretaris, dr. Blade Nzimande, die besluit so getooi dat daar wel een of ander tyd ʼn breuk met die ANC sal wees, maar geen besluit is geneem oor wanneer dit sal gebeur nie.

Dit het weerstand teen Nzimande laat ontstaan binne die SAKP, en luidens ʼn berig in die Sondagkoerant City Press is daar nou ook druk dat Nzimande en ander SAKP-leiers wat die uitvoer van die besluit vertraag, vervang moet word.

Daar is tans meningsverskil oor die moontlikheid om Nzimande tydens die kongres as leier uit te stem, want dit is nie tans ʼn kongres waar leiers veronderstel is om verkies te word nie. ʼn Mosie van wantroue word egter oorweeg.

In die verlede het die SAKP-leierskap aangevoer die tyd is nie geleë om met die ANC te breek nie omdat die SAKP nie goed voorbereid is vir ʼn verkiesing nie en die SAKP meer invloed op regeringsbeleid kan uitoefen van binne die ANC en as ANC-LP’s.

Teenstanders van Nzimande en ander SAKP-leiers in die kabinet soos Thulas Nxesi, minister van arbeid en werkskepping, voer aan die geldelike voordeel wat hulle uit hul kabinetslidmaatskap put, sal beteken dat die SAKP-leiers nooit met die ANC sal breek nie. Hierdie teenstanders meen ook dat die ANC te korrup is en te min doen vir die proletariaat om die SAKP se teenwoordigheid in die regering te regverdig.

ʼn Groot geveg lê dus in Desember voor, met moontlike impak op die ANC, die SAKP en die regerende alliansie.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dereck Le Roux ·

Die SAKP sal nie sonder die ANC oor die weg kan kom nie, hulle het te gewoond aand die soustrein met al sy byvoordele en om nou van die rug af te klim van die wat hulle abba terwyl hulle nog nie kan loop nie sal vir hulle politieke selfmoord wees en daar is hopeloos te veel kamerade wat al die politieke voordele gesmaak het wat hulle nie sommer so net sal versaak nie.

Akademi Buktu ·

Kyk gerus hoeveel “ANC” parlementslede is eintlik van die SAKP – ver buite verhouding met die hoeveelheid ingeskrewe SAKP lede. Breek hulle weg van die alliansie, sal talle van die grootbekke na “werkloos” en dus inkomsteloos verskuif.

Anoniem ·

Verban asb die SAKP vlag tot haatspraak, ek voel gegrief wanneer ek dit sien.

Abe ·

Manie W,
Jy rig n versoek dat die vlag van die SAKP verban moet word. Aan wie rig jy die versoek? Wat van die organisasie, SAKP, is dit maar in orde as hulle voortbestaan/ nie verban word nie?

KrokodilBotha ·

SAKP moet liewers Sjina of Rusland toe trek met hul volgelinge.

Abe ·

Krokodil Botha,
Jy stel voor n hele politieke organisasie moet van tuisland, duisende kilometers oorsee verhuis: Het jy al daaraan gedink of dit moontlik is? Al was dit moontlik, hoe kan hulle oortuig word om te gaan? Ek dink jy is stapelgek !

Jerry ·

Die SAKP is nie teen korrupsie nie, was nog nooit nie. Die SAKP wil n groter deel van die staatskoek he en om deel te wees van die ANC in verkiesings, het dit nie laat realiseer nie, want die ANC het nie hulle beloftes teenoor die SAKP nagekom nie. Die SAKP hoop dat as hulle dreig om as n party te registreer vir die verkiesing, die ANC sal toegee aan hulle eise en indien nie, dat die SAKP dan by die stembus n groter deel van die koek kan bekom. Dit gaan dus vir die SAKP, net soos vir die ANC, oor meer mag en geldelike gewin. In die parlement gaan hulle in elk geval steeds saam met die ANC stem oor sake en beleid van gemeenskaplike belang!

Abe ·

aj,
Weet jy wat “good riddance”, beteken? (Dis Engels). Waarvan is jy nou ontslae waaroor jy so bly is? Sover ek weet, is die SAKP gesond en nog met ons, trouens ek verstaan hulle wil onafhanklik van die ANC word. Is dit nou waaroor jy so bly is? Ek weet nie of jy die berig reg verstaan nie.

aj ·

GOOD RIDDANCE!

Watter SA Kommunistiese party?

Hoe kan die SAKP aanspraak maak op status as politieke PARTY sonder dat hulle aan verkiesings deelneem?

Is die SAKP ooit geregistreer by die IEC as politieke party? Hulle depositos betaal voor elke verkiesing … en die geld verloor omdat hulle geen stemme gekry het in die verkiesings nie?

Namens wie praat die SAKP as hulle nog geen stemme ontvang het vanaf SA burgers nie?

‘Fake’ party, ‘fake’ leiersposisies, ‘fake’ beleid?

Die SAKP was die eerste staatskapers wat sedert 1994 hoë posisies (en salarisse) ontvang SONDER enige bewese steun van kiesers.

Parasiete wat teer op die bloed van die ANC kiesers?

Windsakke! Leë blikke wat ‘n helse lawaai opskop …!

Uitgevang!

tw ·

@aj. hulle het gerigistreerde lede. Hulle weet presies hoe sterk/swak hulle staan. Hulle is beslis is bietjie slimmer as wat jy wil voorgee.

aj ·

Tw
Jy speel met woorde.

” geregistreerde lede” … soos ‘n teeklub … beteken niks in ‘n demokrasie waar kieser STEMME (wat in wettige verkiesings uitgebring is), ‘n mandaat verleen tot leierskap posisies (toegang tot die staatskas!).

Wie het vir Blade Nzimande gestem in die vorige verkiesings? Niemand!

Met watter (kieser) mandaat beklee hy sy bevoorregte posisie? Hy sit die plek vol van iemand anders van die ANC wat wél ‘n mandaat gekry het van kiesers.

Jy sê die SAKP is slim?

…. eerder SLINKS!

Hoe anders kom jy op die soustrein
… SONDER dat jy STEMME gekry het in ‘n verkiesing?

Abe ·

aj,
Jy moet onthou dat elke kieser wat vir die ANC gestem het, ten volle daarvan bewus was dat die ANC en die SAKP aliansievennote was. Elke stem vir die ANC was dus ook n stem vir die SAKP. ‘n Mandaat vir die ANC is dus ook n mandaat vir die SAKP.

Abe ·

aj,
Waarvan is jy ontslae waaroor jy so bly is? Tog nie die SAKP nie? Sover ek kan aflei is hulle gesond en met ons, trouens, ek verstaan hulle beplan om binnekort onafhanklik te word van die ANC. Vind bietjie uit hoe sterk hulle is, voordat jy hulle name noem en slegmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.