San Michele-krisis: Vakbond sê staking is verby

Marius Bosman en Mariette van de Werken spreek stakende werkers toe ná die staking opgeskort is (Foto: Helpende Hand)

Die National Union of Public Service and Allied Workers (NUPSAW) het Maandagmiddag bevestig ʼn staking by die San Michele-tehuis vir psigiatriese en gestremde staatspasiënte in Brakpan aan die Oos-Rand is verby.

Tony Gumede, ’n verteenwoordiger van NUPSAW, het laat Maandagmiddag skriftelik bevestig werkers sal Dinsdag terugkeer werk toe.

Maroela Media het vroeër berig sowat 200 pasiënte in die tehuis is aan hul eie genade oorgelaat nadat nagenoeg 90 personeellede, wat onder meer versorgers, kosmakers en skoonmakers insluit, Vrydag oor lone en bonusse begin staak het. Lede van die publiek het Sondag ingespring om hand by te sit om pasiënte te bad, te voer en te versorg nadat die personeel van dié tehuis begin staak het.

Die staking is ʼn beskermde staking aangesien onderhandelinge by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) vasgeval het. Die stakers het aangedring op ’n 6%-verhoging, terwyl die tehuis slegs 5% kon aanbied. Hulle het ook griewe oor hul bonusse gehad. Die tehuis het intussen ingestem tot ’n 6%-verhoging, maar kon nie die behoeftes rakende die bonusse bekostig nie.

Inwoners van San Michele geniet middagete te danke aan die hulp van nie-stakende werkers en vrywilligers (Foto: Helpende Hand)

Die KVBA het aanvanklik verlede week die staking goedgekeur, maar Maandag van deuntjie verander toe Marius Bosman, administrateur van San Michele, ’n klagte daaroor by die KVBA ingedien het. Die KVBA het vervolgens Maandag die staking onwettig verklaar, aangesien die tehuis noodsaaklike dienste lewer aan die meer as 200 staatspasiënte wat van permanente sorg afhanklik is.

Bosman het die nuus verwelkom, maar gesê voorbereiding is getref indien die werkers nie Dinsdag opdaag nie.

Hannes Noëth, besturende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het Maandag die dood van ʼn pasiënt, wie se naam weerhou word totdat al haar naasbestaandes van haar dood in kennis gestel is, betreur. “Hoe kom ’n samelewing tot ’n punt waar kwesbare en weerlose mense soos bejaardes en gestremdes as wapens gebruik word vir onderhandelinge? Dit is heeltemal onaanvaarbaar,” het hy gesê.

Maroela Media het berig ’n 56-jarige vrou is Sondagaand in dié tehuis oorlede. Dit is in dié stadium egter onduidelik of die staking ’n rol in haar dood gespeel het.

Bosman het Maandagoggend aan Maroela Media bevestig dat ’n “hoësorg-pasiënt” dood is. “Dit is verskriklik. Dit is egter nog te vroeg om te sê of die pasiënt se afsterwe aan die wegbly-aksie toegeskryf kan word. Ons wil in dié stadium nie oor die oorsaak van haar dood bespiegel nie, maar ’n nadoodse ondersoek sal gedoen word om dit vas te stel. Sodra ons al die feite het, sal ons ’n gesamentlike verklaring met Solidariteit Helpende Hand uitreik,” het hy gesê.

Mariette van de Werken vertroos n inwoner (Foto: Helpende Hand)

Noëth het bygevoeg Helpende Hand gaan in die nabye toekoms ’n gebeurlikheidsplan bekendmaak sodat soortgelyke voorvalle verhoed kan word. Dié gebeurlikheidsplan word beplan ná dié staking by San Michele en twee onlangse stakings by Huis-Davidtsz, ’n ouetehuis in Pretoria se middestad, waar talle bejaardes die slagoffers was.

“Ondanks ons vrywilligers se hulp oor die naweek en die feit dat Helpende Hand gekwalifiseerde verpleegsters en versorgers gehuur het, was dit steeds nie genoeg om die nodige stabiliteit te handhaaf nie. Vyf dokters was vandag by die tehuis om elke pasiënt behoorlik te ondersoek. Ons hoop saam met die tehuis dat bedrywighede Dinsdag na normaal sal terugkeer, maar sal ook intussen volhou om te sorg dat die basiese behoeftes voorsien word,” het Noëth bygevoeg.

Mariette van de Werken, streekbestuurder van Helpende Hand se Gauteng-Suidstreek wat sedert Vrydag reëlings getref het om die inwoners te versorg, het Maandag almal wat hul harte vir die weerlose pasiënte oopgemaak het, bedank. “Hier was soveel hartseer en onsekerheid die afgelope vier dae. Die gemeenskap het net hul harte oopgemaak en ons kom bystaan. Ek wil graag dankie sê aan die gemeenskap en al die rolspelers wat saamgekom het in ’n tyd van nood. Om te kon sien hoe die familielede, Helpende Hand se vrywilligers en inwoners van die Oos-Rand saamgestaan het, het my hart warm gemaak. Dit het ook ’n reuseverskil aan die tehuis se inwoners gemaak en mens kon dit op hul glimlagte sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann cb ·

Dit is vreeslik jammer dat iemand eers moes sterf! Hopelik is daar geen herhalings nie! Dankie aan almal wat vrywillig help!

Andrea ·

Die klomp stakendes voel v veer. As ond ons mense wil help en beskerm, sal ons ons eie ouetehuise en versorgingsoorde moet open. Privaat. Soos ons privaatskole vir ons kinders moet begin. Te duur? Ek dink nie só nie. Gaan vra die ARSO skole en AROS. Begin klein, en brei uit. Dis al wat gaan werk.

Alida ·

Die pasiente was gelukkig om deur mense wat omgee versorg te word en nie rondgepluk en dalk geslaan word nie. As die stakers hulle net so kan los sal mens nie weet wat agter geslote deure aangaan nie. Hoop daar is kamaras.

D P ·

Gebed en harde werk verander dinge. Geloof bring wonder na vore.

Calamarie ·

Kry mense wat wil werk en n passie het om daar te werk!!!

Johan H. ·

Die Staat is verandwoordelik vir geldelike bystand. Dagvaar die betrokke ministaa.

De Villiers ·

Dankie aan die bestuur, personeel en vrywilligers wat ‘n verantwoordelikheidsin het vir die gestremdes.
Dis hartseer dat daar ‘n pasiënt oorlede is tydens dié staking. Indien daar bevind word dat die pasiënt oorlede is weens die staking, kla die vakbond wat die staking gereël het asook die beampte van die KVBA wat aanvanklik die goedkeuring vir die staking gegee het, aan vir moord. Hulle het nie geleer uit die Life-Isidimeni sage nie.

Dina ·

Dagvaar die vakbond! Dit is verby onmenslik om gestremdes so te ontwrig. Dit wys net hulle het geen gevoel nie en hits mense aan om harteloos en gierig te wees. As ons weer orde in ons land wil hê moet vakbonde tot niet gemaak word. Dit is hulle wat chaos veroorsaak.

Skroef ·

Die pasiënte kom aldus die foto’s baie “spasties” voor. Gaan kyk maar gister se foto waar n groep van hulle op swart plasrie stoele sit met hulle bene opgetrek. Is hulle nie veronderstel om daagliks fisio en oefening te kry nie? Dit lyk nie na my beskeie mening, na geoefende ledemate nie. Is San Michele die inrigtinf in Lemmer weg?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.