ʼn Suid-Afrikaner se foto het ʼn eerste plek behaal in die Britse ekologiese vereniging se gesogte jaarlikse fotokompetisie.
Dr. Chris Oosthuizen, ʼn nadoktorale genoot in die departement dierkunde en entomologie aan die Universiteit van Pretoria, se foto van ʼn eensame volwasse koningpikkewyn wat tussen ʼn klompie kuikens staan, het vir hom die gesogte prys in die sak gebring.
Die onafhanklike beoordelingspaneel het bestaan uit ses ekoloë en bekroonde natuurfotograwe. Oosthuizen het die foto op die subantarktiese Marioneiland geneem.
“Sommige foto’s het die krag om veel meer te sê as woorde,” het prof. Richard Bardgett, president van die Britse ekologiese vereniging, gesê. “Chris se foto, wat die merkwaardige kolonielewe van ʼn ikoniese voëlspesie vertoon, verhoog die bewustheid van hul onseker toekoms weens klimaatsverandering.”
Oosthuizen het die wenfoto geneem terwyl hy besig was met navorsing oor robbe en moordvisse as lid van die 68ste oorwinterspan (2011 tot 2012) vir die Marioneiland-marienesoogdierprogram. Hy het ook as wenner weggestap in die kategorie vir dinamiese ekosisteme met sy foto van ʼn reusestormvoël wat jag gemaak het op ʼn koningpikkewynkuiken.
“Fotografie is ʼn belangrike manier om mense by wetenskap te betrek en kan belangrike bewaringsboodskappe oordra,” het dr. Oosthuizen gesê. “Hoewel die wêreldbevolking van koningpikkewyne groot is, het bevolkings wat op subantarktiese eilande woon ʼn onseker toekoms. Klimaatsverandering kan die oseaanfronte waar hulle voed verder wegskuif van waar hulle voed en die pikkewyne dwing om verder te reis.”
Dr. Oosthuizen werk sedert 2007 saam met die Marioneiland-marienesoogdierprogram en het in daardie jaar die eerste keer op Marioneiland oorwinter. Hy het daarna sy MSc- en PhD-grade voltooi en uitgebreide veldervaring opgedoen deur deel te neem aan verskeie nasionale en internasionale navorsingsekspedisies, waaronder ʼn tweede ekspedisie na Marioneiland en somerekspedisies na Antarktika en ander subantarktiese eilande soos Macquarie, Bouvet, King George en Gough.
Die wenfoto’s sal in Desember tydens die Britse ekologiese vereniging se jaarlike konferensie in Birmingham uitgestal word. Dit sal ook van 21 tot 27 Januarie ʼn week lank deur lede van die publiek in Londen besigtig kan word.
Hier volg al die wenfoto’s:
Vreeslik dankie. Die fotos is pragig! Veels geluk Chris.
Dit lyk vir my Photoshopped…
Jy kan nie die foto in n shop koop nie Sulet
Dis 100% gephotoshop, en nie eens goed nie!
Ai as n mens jaloers is op iets sal jy altyd iets sleg se. Hierdie fotos is pragtig want die natuur is betrokke daarin en nog n ding die mense wat die beoordeling doen weet wat is eg en wat nie. Geluk aan die wenners.
Baie geluk Chris. Ek hoop nou net nie iemand gaan staan en maak ‘n puzzle uit jou foto uit nie, dit sal ‘n moelike een wees :-)