SA’ners bestee 52% minder op Swart Vrydag

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Dit blyk dat die Covid-19-pandemie ’n gat in Suid-Afrikaners se sakke vreet.

Besteding op Swart Vrydag het vanjaar met 52% gedaal vergeleke met verlede jaar en die meeste Suid-Afrikaners wat wel verlede Vrydag winskopies losgeslaan het, het hul kredietkaarte gebruik om daarvoor te betaal.

Die betalingsklaringsonderneming BankservAfrica het Donderdag onthul die pas afgelope Swart Vrydag het sy swakste jaarlikse groei getoon in die vier jaar dat die onderneming data oor dié dag insamel.

Die onderneming se data toon dat die aantal transaksies op Swart Vrydag vanjaar met 33% gedaal het. R2,9 miljard is op dié dag bestee hoewel Suid-Afrikaners verlede jaar R6 miljard op Swart Vrydag uitgegee het.

Volgens BankservAfrica was vanjaar se transaksies van vroeg af al aansienlik minder vergeleke met vorige jare. Altesaam 25 450 transaksies is teen 06:00 verlede Vrydag aangemeld. Dit is 82% minder as 27 November 2019 toe 139 684 teen 06:00 reeds deurgegaan het.

Suid-Afrikaners het deur die loop van die dag egter al meer begin koop.

Teen 18:00 is 370 609 transaksies aangemeld – 3% meer as verlede jaar.

“Suid-Afrikaners het later as gewoonlik inkopies gedoen aangesien sommige winkels nie middernag oopgemaak het soos verlede jaar nie. Sommige kleinhandelaars het ook spesiale aanbiedinge  gedurende November gehad om die lang rye op Swart Vrydag te vermy,” sê Martin Grunewald, sakehoof by BankservAfrica.

Volgens Grunewald is altesaam R2 miljard met kredietkaarte bestee. Die hoogste transaksie op ’n kredietkaart is omstreeks 07:52 aangemeld. Altesaam R514 484,64 is bestee.

Die hoogste transaksie op ’n debietkaart was R264 709,30.

“Dit lyk asof sukkelende Suid-Afrikaners hulle eerder tot hul kredietkaarte gewend het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Retha ·

Ek foto’s op FB gesien hoe mense by een sentrum, behoorlik op mekaar seskouers lê terwyl hul by betaalpunt in rye staan. Pragtig vir voorkoming né?

Anon ·

Nou wie gee nou eintlik iemand die reg om persoonlike transaksies te monitor en bekend te maak, of daar ‘n naam by is of nie. So twee mense se transaksies is nou uitgewys, so asof dit saak maak want wie ookal soveel geld het om eenmalig op “Black Friday” te spandeer hou van geld mors.

Heinrich ·

Baie van die spesiale aanbiedinge was maar min afgemerk, my opinie is dat die winkels ‘n kans gevat het en gedink almal gaan iets koop as daar ‘n ‘special’ plakkertjie op geplak was.

Jan ·

Simpel foefie wat ook weer eens op ‘n tyd van amerika af hiernattoe ingevoer is, om mense net nog meer slawe van die sisteem te maak. In elkgeval die afslae was so belaglik laag dis nie eers die moeite werd om die huis te verlaat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.