SA’ners bestee meer op Valentynsdag

Die petrolprys, swak ekonomiese groei en die hoë werkloosheidsyfer stuit klaarblyklik nie Suid-Afrikaners se hunkering na romanse nie.

Die hoeveelheid geld wat Suid-Afrikaners uitgee op Valentynsdag het tussen 2017 en 2019 met 11% toegeneem. Dit volgens Mastercard se liefdes-indeks, wat die bestedinggewoontes van 53 lande rondom dié dag meet, deur te kyk na transaksies op krediet-, debiet- en voorafbetaalde kaarte.

“Om vir iemand te wys jy gee om op Valentynsdag is nou meer gewild as ooit tevore,” sê Mark Elliot, afdelingshoof van Mastercard in Suid-Afrika. Suid-Afrikaners het verlede jaar op Valentynsdag die meeste geld bestee aan hotelbesprekings. Dié uitgawe het met 22% gestyg. “Dit dui op die tendens dat mense deesdae eerder gedeelde ervarings wil skep as geskenke gee,” sê Elliot. “Dit is ook deesdae makliker om hotelverblyf en vliegtuigkaartjies aanlyn te bespreek, wat waarskynlik ook tot ʼn toename in dié uitgawes gelei het.”

Besteding bereik gewoonlik ʼn hoogtepunt op 12 Februarie, twee dae voor Valentynsdag.

Die hoeveelheid geld wat by restaurante bestee is op Valentynsdag het ook met 39% toegeneem sedert 2017. Die geldwaarde van dié transaksies in al 53 lande wat gemeet is, was R171,9 miljoen. Mense het minder juweliersware en kaartjies gekoop verlede jaar en dié uitgawe het onderskeidelik met 3% en 2% afgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.