SA’ners in Ekwatoriaal-Guinee: Eerste kontak, verlowing ná maande

Peter Huxham (Foto: Verskaf)

Peter Huxham, een van twee Suid-Afrikaanse ingenieurs wat tans tronkstraf in Ekwatoriaal-Guinee uitdien, se geliefdes kon onlangs vir die eerste keer met hom oor die foon praat sedert hy in Februarie in die Wes-Afrikaland op dwelmverwante aanklagte in hegtenis geneem is.

Huxham het tydens die onverwagte oproep sy lewensmaat van die afgelope 30 jaar, Kathy McConnachie, gevra om met hom te trou wanneer hy tuiskeer.

Die paartjie is al meer as 30 jaar lank saam en het saam twee kinders grootgemaak. McConnachie het nie geskroom om “ja” te sê nie.

Die onverwagte oproep is moontlik gemaak deur die Britse hoëkommissariaat in Kameroen. ʼn Verteenwoordiger van die hoëkommissaris het Huxham in die Mongomo-gevangenis besoek aangesien hy Suid-Afrikaanse sowel as Britse burgerskap het.

Frik Potgieter, Huxham se kollega, wat in dieselfde sel as Huxham aangehou word, het slegs Suid-Afrikaanse burgerskap en is nie tydens die besoek toegelaat om met sy familie te praat nie aangesien die Britse hoëkommissaris slegs toestemming gekry het vir ʼn ontmoeting met Huxham.

Huxham en Potgieter skryf sedert hul inhegtenisneming elke dag briewe aan hul families. Nie een enkele van die briewe is tot op hede afgelewer nie.

Francois Nigrini, Huxham se swaer en die familie se woordvoerder, sê McConnachie was uit die veld geslaan toe sy op 14 September ’n oproep uit Ekwatoriaal-Guinee ontvang het.

McConnachie was die betrokke dag by haar huis in Langebaan toe sy ’n oproep van die verteenwoordiger van die Britse hoëkommissaris in Kameroen ontvang het. Die verteenwoordiger het aangedui dat hy by Huxham is en gevra of sy met hom wil praat.

Nigrini sê dit was uiteraard ’n baie emosionele oproep aangesien McConnachie sewe maande laas met Huxham gepraat het.

Frik Potgieter (Foto: Verskaf)

“Daar was soveel om te deel en sy het nie geweet hoe lank die oproep sou wees nie. Op die ou end was die oproep 21 minute lank. Sy het uitgevind dat Peter en Frik ’n sel deel, en dat hulle, ten spyte daarvan dat hulle mekaar nie voor die dag van hul inhegtenisneming geken het nie, nou voel of hulle broers is aangesien hulle saam die verskriklike en onregverdige situasie waarin hulle verkeer, verduur.

Nigrini sê Huxham het haar daarvan verseker dat hoewel hy en Potgieter geweldig baie gewig verloor het, hulle twee maaltye per dag ontvang en twee uur lank per dag uit hul sel toegelaat word om vars lug en oefening te kry. Hulle het ook toegang tot medikasie.

“Dit was ’n enorme verligting vir albei gesinne, maar dit verlig nie die oorweldigende angs en pyn waarmee hulle elke dag saamleef nie, aangesien daar geen aanduiding is of Peter en Frik bevry sal word en kan terugkeer huis toe nie,” sê Nigrini.

Maroela Media het vroeër berig Huxham (van Langebaan) en Potgieter (van George in die Wes-Kaap) is op 9 Februarie op verskillende tye by die Anda China-hotel in Malabo aangekeer en in hegtenis geneem nadat die polisie glo dwelms in Potgieter en Huxham se bagasie in hul hotelkamers gevind het – bewerings wat glad nie klop nie aangesien die polisie glo nie eers op dié bagasie beslag gelê het nie.

Die twee mans werk al jare lank as ingenieurs vir ʼn Nederlandse olie- en gasmaatskappy, Single Buoy Mooring (SBM), en sou die volgende dag weer huis toe keer.

Potgieter en Huxham het in daardie stadium in verskillende afdelings van die maatskappy gewerk en was net kennisse.

Hul geliefdes hou vol hulle is onskuldig.

Nigrini sê McConnachie het Huxham tydens die oproep op datum gebring met die droomhuis wat hulle in Januarie – kort voor sy inhegtenisnemings –  saam begin bou het, ’n projek wat McConnachie deur al die maande van onsekerheid aan die gang gehou het.

“Peter was oorweldig en trots om te hoor dat Kathy aanhou bou het terwyl hy weg was; sy het vir hom gesê die mure en dak is op. Maar hy het haar gevra om te wag tot hy huis toe kom om die elektriese installerings te doen. Hy is immers ’n elektriese ingenieur!” skerts Nigrini.

Dit is toe dat Huxham haar vra om met sy tuiskeer te trou.

McConnachie het Potgieter se vrou, Sonja, onmiddellik, ná die oproep gebel. Sonja was natuurlik baie verlig om nuus van haar man te ontvang, maar was ook terselfdertyd hartseer, teleurgesteld en gefrustreerd dat sy nie met Frik kon praat nie.

Volgens Nigrini het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) sedert die mans se inhegtenisneming sewe maande gelede slegs ’n enkele besoek aan hulle gereël. Die besoek het geen persoonlike kontak vir hul families behels nie.

“Die families sukkel regtig. Ons het ’n politieke oplossing nodig om hul vrylating vinnig te verseker, en intussen het ons ’n meganisme nodig om gereelde persoonlike kontak met Peter en Frik te verseker, waarmee Dirco onderneem het om te help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Althes ·

Ñ Groot dankie vir die Britse Hoëkommissiaraat. Ons kan maar net op ons knieë gaan en bid dat hul vrygelaat sal word.

Vettiemaragartos ·

So bly vir hulle! Jammer ou Frik maar Dirco kan nie eens hulleself help nie.

Karoo ·

Potgieter en Huxham julle moet vasbyt manne, wanneer Huxham huistoe kom gaan hy en Kathy die grootste bruilof en makiete hou. Ons hoop en vertrou dat julle spoedig en veilig terug gaan kom huistoe. Weet dat daar is baie mense wat vir julle bid en hoop het, maar meer belangrik julle vriende en familie ook.

Stephen ·

The useless anc government. They do not even deserve their name in capital letters.

Marius ·

Waar is die Suid-Afrikaanse ambassade… Waarom doen hulle niks… Kyk hoe lyk SA van Afrika lande wat hier met dwelms handel…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.