SAPD versuim om enige rekrute vir 2020, 2021 te werf

Argieffoto (Foto: SAPS)

Die DA doen ʼn beroep op polisieminister Bheki Cele om dringend ʼn aksieplan voor te lê vir die werwing van polisiekwekelinge.

“Ons wil ook weet hoe hy die geweldige tekort aan personeel by die SAPD gaan takel,” sê Okkie Terblanche, die DA Se skadu- adjunkminister van polisie.

Dit volg ná ʼn voorlegging aan die polisie se portefeuljekomitee vandag waar die SAPD onthul het dat geen nuwe polisiekwekelinge tussen 2020 en 2021 gewerf is nie en dat die SAPD tussen 2020 en 2022 altesaam 11 178 lede verloor het.

“Dit is ʼn angswekkende onthulling van hoe ver agter die polisie is in hul pogings om misdaad te takel. Die SAPD se pogings om massawerwing te doen word gepootjie, omdat hy nie voldoende opleidingsentra het om die getal beplande rekrute (naamlik 10 000) op te lei nie. Verlede jaar se 10 000 rekrute is by die SA Infanteriebataljon-weermagbasis gehuisves en moes onder onmenslike omstandighede opgelei word.”

Terblanche sê akkommodasie vir dié rekrute was onvoldoende en hulle het nie enige warm water gehad nie.

“Ondanks die president se belofte van 12 000 bykomende rekrute in 2022 en ʼn bykomende 10 000 in 2023, beraam die SAPD dat hul arbeidsmag teen die einde van die finansiële jaar waarskynlik op 178 708 sal staan. Dit is 2 528 meer as wat tans beskikbaar is – so waar is die bykomende 7 500 rekrute wat volgens die staatsrede beloof is?”

Terblanche sê die voorlegging het ook onthul dat sommige van die opleidingsbeamptes nie enige van die vereiste kwalifikasies het nie. “Dit het ʼn negatiewe effek op opleiding – gestaaf deur voorvalle waar twee mense op skietbane dood is tydens opleiding. Die SAPD se rekruteproses is uiters afhanklik van die gebruik van handleidings en voorafgoedkeuring van die aanstelling van kwekelinge val buite die gerekenariseerde stelsel. As dit gedigitaliseer en geoutomatiseer was, sou dit baie meer vaartbelyn gewees het.”

Terblanche meen Cele is nie ernstig oor die beskerming van burgers teen misdaad nie. “Die Wes-Kaap veg byvoorbeeld die oorlog teen bendes en misdaad sonder voldoende hulp van die nasionale regering. Die Philippi-opleidingsentrum het ʼn kapasiteit van 560 rekrute, maar het tans slegs 24 opleidingsbeamptes – ʼn tekort van 25 opleidingsbeamptes. Die gebrek in opleiding sluit ook ‘straat-oorlewingsopleiding’, driloefeninge, fisiese opleiding en akademie in.

“Tydens Maandag se kabinetskommeling het pres. Ramaphosa die perfekte geleentheid gehad om Bheki Cele van sy pligte as polisieminister te onthef, maar hy is gespaar. Dié besluit sal rampspoedige gevolge bly hê. Die DA benadruk sy versoek aan die president om Cele die deur te wys en die lewens van burgers eerste te plaas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Miskruier ·

N 3% verhoging is ook nie n trekpleister vir sommige nie.

Cornrit ·

Ek, persoonlik dink dat die SAPD nie genoeg ordentlike, eerbare instrukteurs het nie. Die draak se kop moet eers waai, voordat iets positiefs in die SAPD gaan gebeur. Die draak is nog steeds daar, springlewendig.

SjN ·

Hoe kan huidige een met sy 30% wat nie die job kan doen die ander een oplei, maw nuwe rekrute gaan minder as niks kan doen.

Helgard ·

Liewe genade, jaag net vir Cele weg, die man is toetaal onbevoeg!!!!
Ns. Die hele regering is!!!

Harley Davidson ·

Ek verstaan hierdie nie wat help dit om ‘n miljoen nuwe lede aan te stel maar jy het nie die nodige bevoegde instrukteurs om die lede ten volle op te lei om hulle werk reg te doen nie.Die opleiding bestaan uit akademiese kant sowel as ‘n fisieke kant en soos ek verstaan.het die polisie nie meer daardie kundiges by die opleiding kolleges nie.

Lillian ·

Maak maar sommer die deure van al die polisie stasie toe, hulle is hopeloos

Busy Body ·

Daar moet ernstig gekyk word na die eerbaarheid van die toetse. Dit is vir my vreemd dat wit en bruin applikante vlgs die polisie se psigometriese toetse nie die vereistes slaag nie. Gaan kyk na die equity by studente. Geen wit studente, weinig bruin studente. . By navrae word daar net eenvoudig gese hulle het nie die toetse geslaag. Gaan kyk verder hoeveel studente raak of is reeds tydens hul opleiding betrokke by kriminele aktiwiteite dan kan mens nie anders om te wonder oor die psigometriese toetse se kwaliteit nie. Dit laat mens net wonder watter tipe persoonlikheid moet n polisie beampte dan nou in die huidige era he. Duisende en ek bedoel regtig Duisende applikante doen jaarliks aansoek. Provinsie sukkel om hul target te kry uit die duisende aansoeke – ingevolge die psigometriese toetse. Intussen wemel die polisie van kriminele. Siek storie. Wens politieke party wil bietjie vrae begin vra. Die keuringsproses is net so korrup soos die polisie bestuur.

Vriendelike Frikkie ·

Is maar net soos apartheid, nou net in trurat.

Danie ·

Wat her die sapd met daai 2 jaar budget gedoen in die sakke?

John ·

Daar is nie genoeg bevoegde instrukteurs met kennis om die nuwe kadette op te ly nie.

Manie ·

As ek die verhouding van instrukteurs tot rekrute volgens die syfers in die berig uitwerk, gee dit vir my ongeveer 1-11. Hulle benodig 49 intrukteurs om 560 man op te lei? Nee wat in die goeie ou dae was dit 1-33 in die weermag en opleiding was puik. Lyk eerder vir my asof die instrukteurs treurig geword het.

Amelia ·

Nee wat sommiges word net opgelei om beter kriminele te wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.