Sasol onder wêreld se grootste koolstof-besoedelaars

(Argieffoto: Du Preez de Villiers)

Deur Liezl Human, GroundUp

Sasol is op die lys van maatskappye wat van die grootste hoeveelheid koolstofdioksied in die atmosfeer vrystel. Dít volgens ʼn onlangse Carbon Majors-verslag vir die tydperk tussen 2016 en 2022.

Hiervolgens is Sasol 56ste op die lys. Carbon Majors se databasis bestaan uit historiese produksiedata van 122 van die wêreld se grootste olie-, gas-, steenkool- en sementvervaardigers.

Die maatskappye wat die meeste gasse vrystel, is staatsbeheerde steenkoolmaatskappye in China (wat vir doeleindes van die verslag as een saamgegroepeer is), gevolg deur Saudi Aramco, Gazprom, Coal India en National Iranian Oil Company.

Sasol is ook 47ste gelys op Carbon Majors se lys vir historiese uitlatings tussen 1854 en 2022. Twee ander Suid-Afrikaanse maatskappye, Seriti Resources en Exxaro Resources, is ook op die lys vir  onderskeidelik 2016 tot 2022 en 1854 tot 2022.

Verder is daar bevind dat, ondanks die 2015-Parys-ooreenkoms oor klimaatsverandering, koolstofvrystellings van fossielbrandstofmaatskappye op die Carbon Majors-lys in die afgelope sewe jaar toegeneem het.

Verlede jaar het koolstofvrystellings selfs wêreldwyd rekordhoogtes bereik.

Sasol se algehele koolstofuitlatings het verlede jaar, volgens sy klimaatsveranderingverslag, effens toegeneem vanaf 2022 tot net meer as 64 000 kiloton.

Die maatskappy het die toename toegeskryf aan “hoër produksie”, ʼn tekort aan natuurlike gasse, asook onderbrekings in produksie te wyte aan “eksterne kragonderbrekings”. Sasol verwag dat sy uitlaatgasse in die huidige jaar verder sal styg weens produksie wat veral by sy Secunda-raffinaderye sal toeneem.

Met verwysing na dié verslag het Matebello Motloung, Sasol-woordvoerder, gesê die maatskappy het wel ʼn vermindering van ongeveer 5% behaal sedert sy 2017-basislyn “deur voortdurende ingrypings”.

Daar moet egter in gedagte gehou word dat Sasol se verslag nie die uitlatings van enige van sy aanlegte in Mosambiek of sy Natref-raffinadery insluit nie.

Oor die Carbon Majors-verslag sê Motloung Sasol is nie die geleentheid gegun om oor die inhoud daarvan te konsulteer nie.

Die oliereus het onderneem om sy kweekhuisgasse teen 2030 met 30% te verminder en ʼn netto nul-vrystelling teen 2050 te bereik wat strook met die Parys-ooreenkoms.

Die aktivisgroep JustShare is egter nie oortuig dat Sasol die spertye kan haal nie.

Emma Schuster, senior klimaatrisiko-ontleder van JustShare, sê Sasol het geen noemenswaardige vordering gemaak om sy teikens te haal nie.

“In 20 jaar het die maatskappy versuim om uitlatingsdoelwitte te bereik en is daar nog geen meganismes ingestel om diegene verantwoordelik daarvoor aanspreeklik te hou nie.”

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alta ·

Ag nonsens,julle word almal om die bos gelei,daar bestaan nie so iets soos aards verwarming!Doen Jul eie navorsing ,dis propaganda van NWO!!!

Drikus ·

Ek/almal is teen besoedeling, maar koolstof is nie besoedeling nie, dit is plantkos. As mens die Co2 verdriedubbel dan gaan plante optimaal groei. Die gras gaan so groei, jy sal nie kunsmis benodig nie. Verder gee die mens in totaliteit net 2% koolstof aan die sisteem. Die see is by verre die grootste verbruiker en gewer van Co2. Dit laat mens net weer wonder wat sit agter hierdie klimaat agende .. los SASO uit dit is ‘n groot welvaart skepper !

Danie ·

Gou om te kla oor Sasol maar Sasol voed duisende en vergemaklik miljoene se lewens omstandighede met hul produkte. Ons haal nog asem, maar kan julle brompotte wat so kla sonder water lewe. Indien nie dan dink ek julle moet eerder gaan kla oor waterbesoedeling deur die mens self. Sasol is een van die beste maatskappye indien nie die beste nie wat derduisende voed en miljoene se lewensomstandighede vergemaklik deur hul produkte wat hul vervaardig. So gaan kla oor iets anders.

Republikein in die Wes Kaap ·

Vulkane is ook verantwoordelik vir baie gasse. Maar ek sal vir geen geld op die hoëveld woon nie. Dapper mense kan dit waag.

kragaap ·

Die kaartehuisie is baie vinnig besig om ineen te stort. En nie net agv besoedeling nie. Eskom in the making.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.