Sassa beken skuld oor ongeskiktheidstoelaes

(Argieffoto)

Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa), Totsie Mamela, het skriftelik bely dat die agentskap geen ongeskiktheidstoelaes verwerk het tydens vlak 4 en vlak 5 van die landswye afsonderingsperiode nie. Dit was in reaksie op ʼn brief van die voorsitter van die Wes-Kaapse komitee oor maatskaplike ontwikkeling.

Gillion Bosman, DA-LP, het gesê Mamela het hom laat weet dat ongeskiktheidstoelaes eers nou, tydens vlak 3 van die afsonderingsperiode, geassesseer word. “Prioriteit word gegee aan persone wat aansoek gedoen het voor 27 Maart vanjaar, voor die afsonderingsperiode ingestel is. Sassa toon egter geen teken van ʼn agterstand nie.”

Bosman het gesê buiten ʼn rits verskonings, het Sassa gesê sy kantore was nie tydens vlak 4 en vlak 5 oop nie, weens druk van vakbonde. “Dit beteken effektief dat die nukke en grille van vakbonde verhoed het dat Sassa as ʼn noodsaaklike diens verklaar kon word tydens die pandemie en dit laat die vraag ontstaan hoe ʼn nasionale minister die opheffing van die mees kwesbare persone kan benadeel in ʼn tyd wanneer hulle die meeste hulp benodig.”

Dit volg ná die DA in die Wes-Kaap vroeër onthul het dat Sassa ongeskiktheidsaansoekers wegwys en hulle verwys na die nood-Covid-19-toelaag. Die Covid-19-toelaag is R1 500 minder as die ongeskiktheidstoelaag.

“Mamela het erken die enigste ‘groot’ poging wat die agentskap aanwend om hiervoor te vergoed, is moontlik – geen waarborge nie – dat bestaande ongeskiktheidstoelaagbetalings van Oktober tot Desember verleng kan word. Dit neem egter nie die ongeprosesseerde aansoeke tydens en voor die afsonderingsperiode in ag nie.”

Bosman het gesê, om skande by skade te voeg, is die betaling van tydelike ongeskiktheidstoelaes wat in Julie verval het, en ander wat in Augustus en September sal verval, nie ingesluit by die verlenging nie. Minister Lindiwe Zulu moes die verlenging tydens die afsonderingsperiode uitgereik het, maar sy het versuim om dit te doen. “Dit is ondanks die feit dat haar departement op die voorpunt staan en sy op die nasionale koronavirus-beheerraad dien en dus van die eerste persone sal wees wat weet wanneer die afsonderingsregulasies ingestel word.”

Bosman het gesê Sassa se bewerings, dat hulle nie toegang kon bekom tot fasiliteite in Stad Kaapstad nie, is absoluut onwaar. “Stad Kaapstad het meer as 20 sale vir die agentskap se gebruik beskikbaar gemaak en veel meer gedoen as sy rol binne plaaslike regering. As nog fasiliteite benodig word, moet Sassa en die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, bloot in gesprek te tree met haar kollega, minister Patricia de Lille van die nasionale departement van openbare werke.”

Bosman het Sassa en die departement vroeër ook genooi om rekenskap te gee aan die provinsiale komitee oor sy R1 miljard se onreëlmatige uitgawes. “Ná hulle vroeër versuim het om op te daag en geen verbintenis gegee het vir ʼn toekomstige datum nie, sal ek met die komiteelede in gesprek tree om ʼn regsmening te bekom. Ons sluit nie die moontlikheid uit om die agentskap te dagvaar om rekenskap te gee aan die provinsiale regering kragtens artikel 115 van die Grondwet nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Julle klomp narre kan en sal nooit n land kan best nie gaan orals in afrika so. Julle ANC regering het nie die geld nie kop doek dink mos sy is slim.

Pompies55 ·

Ek wou aansoek doen maar is weggewys by Kroonstad Sassa want eks mos wit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.