Die SAUK het erken dat die normale programskedule by ten minste drie van sy radiostasies ontwrig is as gevolg van die voortgesette staking van werknemers.
SAUK-werknemers wat verbonde is aan die Broadcasting, Electronic, Media & Allied Workers Union (Bemawu) en die Communications Workers Union (CWU) het hul staking Donderdag hervat nadat salarisonderhandelinge met die openbare uitsaaier ʼn dooiepunt bereik het.
Verlede maand het lede van die twee vakbonde begin staak nadat hulle geëis het dat werkers deur die bank ʼn 10% salarisverhoging ontvang wat teruggedateer word tot April 2017. Die SAUK het gesê hul kan net ʼn verhoging van 4,5% bekostig.
Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, het in ʼn verklaring gesê programskedules is minimaal beïnvloed ondanks die staking. Dit kom ná berigte dat sekere aktuele programme en nuusbulletins nooit Donderdag uitgesaai is nie.
“Programme op televisie het voortgegaan soos beplan, met geen onderbrekings nie. Uit die 19 SAUK-radiostasies is net Thobela FM, Munghana Lonene FM en Ikwekwezi FM beïnvloed. Hul aktueleprogram-aanbieders het op die laaste minuut kop uitgetrek,” het Kgangayo gesê.
Kganyago het gesê die SAUK het maatreëls in plek gestel om te verseker dat alle programme verder sonder ontwrigting verloop.
Volgens hom het die SAUK berigte ontvang van werknemers wat glo by ingange na hul werksplek geïntimideer word, of dat ingange afgesper word deur stakende werknemers. Kganyago het gesê die SAUK beskou dié berigte in ʼn baie ernstige lig en sal met verskeie veilligheidsdienste, insluitend die polisie, in verbinding tree om dringend aandag aan die saak te gee en diegene wat nie aan die staking deelneem nie se veiligheid te beskerm.
Kan nie minder omgee wat by en met die sauk gebeur nie.
Stem baie,baie, baie, saam. Die plek moes lank al verval het.
Sluit die karkas toe