Schalk, Demi Lee laat Afrikaners skater in musiekadvertensie

Demi Lee Moore in Spotify se nuwe advertensie. (Foto: Skermgreep)

ʼn Advertensie waarin die akteur en komediant Schalk Bezuidenhout saam met die blondekop sangsensasie Demi Lee Moore verskyn, word soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei.

Die tong-in-die-kies advertensie, wat die kollig op Afrikaanse musiek op die Spotify-stromingsplatform plaas, is duisende kere op Facebook gedeel.

“Dit raak al hoe moeiliker om Afrikaans te praat, want ons sing dit,” lui die slagspreuk van die advertensie.

“Dis moeilik om te erken, maar dalk was Charlize reg. Mense praat deesdae al hoe minder Afrikaans. Afrikaners praat al hoe minder ons pragtige taal, want hulle sing dit nou,” skerts Schalk in die advertensie.

Demi Lee vertolk ook ʼn komiese rol. “As jy vir iemand net sê: ‘En ek mis, eet, slaap, herhaal’ het dit geen impak nie. Dit val plat, dit klink dom,” spot Demi Lee.

Schalk Bezuidenhout in Spotify se nuwe advertensie. (Foto: Skermgreep)

“Maar as jy dit sing …,” sê sy, waarna sy dan saggies lostrek met die koorgedeelte van die treffer, “Mis eet slaap herhaal”, wat van haar ʼn plaaslike popster gemaak het.

“Sien?” sê sy dan.

Dit lyk of die advertensie veral Suid-Afrikaners in die buiteland se lagspiere geprikkel het.

“So lekker om nog steeds hier in Australië Afrikaans te kan praat met my dogter! Orals in die winkels waar ons gaan vra almal watter land ons vanaf is … hulle kan dadelik hoor hier is ‘n taal van formaat!” sê ene Debbie Steyn op Facebook.

“Al tien jaar weg en steeds praat ons trots Afrikaans hier in Melbourne en ons kinders se Aussie-partners leer die taal ook praat deur middel van YouTube,” sê Ronel Burger.

“Baie snaaks. In my huis praat ons Afrikaans, my kinders weet anders bly jy stil! Groete van Southland, NZ [sic],” skryf Melissa Churr.

Dit is baie tragies, ja. Maar met Spotify raak dit al hoe moeiliker om Afrikaans te PRAAT! Nuwe stukkie werk saam met my nuwe vriendin Demi-Lee Moore. Download die app en kom sing saam met my en Demi Lee Moore op Spotify Africa #Spotify #AfrikaansOpSpotify #ad

Posted by Schalk Bezuidenhout on Tuesday, March 28, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gert ·

Afrikaans is trap sulke diep spore op die blad dat selfs 100% engelse mense nogsteeds die naam uitspreek as “Meroelamedia”….lol

Freda ·

Wonder nog steeds waarom ons mooie Afrikaans deur kampvegters vir die taal, so verniel word deur alewig Engelse woorde te gebruik wanneer hul onderhoude voer? Is dit “cool” of “grand”?

Leana ·

Dit steek my regtig dwars in die krop as die klomp hulle taal so meng. Ons het regtig ‘n baie mooi taal met baie beskrywende woorde. Wees trots op jou taal.

Nettie ·

Het julle al daaraan gedink dat Afrikaans gevorm is deur Duits, Frans, Kreools, KhoiSan, ens. IN te bring in Nederlands?

Die Nederlanders het GEGRIL. Hulle het vinger gewys en mense beskuldig hulle praat nie meer “suiwer” nie.

Ons taal is nog ‘n baba! In die ’83 Bybel gebruik ons “Egiptenaars”. Vandag is dit “Egiptenare”.

Die proses is NOG STEEDS aan die gang, deur God se werking. Tans bou God Engelse Woorde in hierdie Taal in.
Vra Hom hoekom! Hy het GROOT planne met Afrikaans. ;-)

melaney ·

Ek stem saam met Freda en Leana. Afrikaners (nie almal nie) verdraai hulle mooi taal deur dit met engelse woorde te meng. Dit klink darem erg.

Jakkie ·

Knap gedaan, net so snaaks is nuwe Lekkeslaap advertensies.

Nettie ·

LOL. Daai een met die klomp kindername van Lekkeslaap is skreeusnaaks!

Theunis ·

Suiwer Afrikaanse sin van humor, uirstekend !!!!!!!!
Nêrens anders te vinde in enige ander kultuur nie. Afrikaanse kunstenaars, ek saluut julle.

Nettie ·

Baie oulik julle!! Ek hou van die onderliggende sarkasme en vinger wys na Charlize en almal wat dink hulle kan of gaan Afrikaans OOIT onderkry! Julle probeer al amper 300 jaar!! Een of ander tyd gaan julle maar moet erken… Afrikaans is HIER OM TE BLY.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.