Sê jou sê oor taalbeleid by Maties

Universiteit Stellenbosch (Foto: US)

Te midde van ’n herrie wat oor Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch (US) heers, het die US mense vandeesweek genooi om kommentaar te lewer oor die eerste konsep van die universiteit se hersiene taalbeleid.

Die 2016-beleid word vanjaar hersien.

Die universiteit sê die beleid “verval vyf jaar ná die instellingsdatum daarvan” en dit moet “gedurende sy vyfde geldigheidsjaar hersien word”.

Die huidige beleid het in 2017 in werking getree.

Die eerste geleentheid vir openbare deelname begin op 20 Maart en sluit op 12 April 2021. ’n Tweede geleentheid vir openbare deelname word vir later vanjaar beplan.

Kommentaar op die eerste konsep van die hersiene beleid kan slegs ingedien word via ’n digitale platform wat op die US se taalwebblad (www.sun.ac.za/taal) beskikbaar is.

Die eerste konsep van die hersiene beleid en ’n skakel na die indieningsplatform sal vanaf 20 Maart toeganklik wees. Die US sê geen kommentaar op die eerste konsep sal ná die sluitingsdatum van 12 April 2021 moontlik wees nie.

Die US sê volgens die statuut van die US moet sy raad die taalbeleid van die instelling bepaal met die instemming van die senaat en ingevolge die Wet op Hoër Onderwys.

Die hersieningsproses is in Oktober verlede jaar van stapel gestuur en die doelwit is om op 2 Desember vanjaar ’n finale konsep van die 2021-taalbeleid aan die universiteitsraad vir goedkeuring voor te lê.

Die US sê aangesien die Konstitusionele Hof in 2019 bevind het dat die taalbeleid van 2016 grondwetlik geregverdig is en dat die universiteit se proses om die beleid te aanvaar “deeglik, uitvoerig, inklusief en behoorlik beraadslagend was”, is die huidige beleid as vertrekpunt vir die hersieningsproses gebruik.

Die universiteit is die afgelope ruk skerp gekritiseer nadat Afrikaanssprekende studente in verskeie koshuise verbied is om Afrikaans met mekaar te praat.

Die DA het die US-bestuur Woensdag by die Menseregtekommissie verkla “aangesien die bestuur van die US steeds weier om daadwerklik ondersoek in te stel na klagtes dat Afrikaans by verskeie koshuise verbied is”, sê dr. Leon Schreiber, ʼn DA-LP en die party se kiesafdelingshoof vir Stellenbosch.

Die US-senaat moet ook ’n voorstel oorweeg waarvolgens alle nuwe kursusse tydens die eerste semester slegs in Engels aangebied mag word. Sommige kenners meen dié besluit sal deurslaggewend wees om die universiteit se werklike houding jeens Afrikaans en meertaligheid te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Sias ·

Simple situasie. Wat gaan demand doen as jy Afrikaans praat….jou in die taaltronk gooi:)

4ntj13 ·

Ongelukkig is jongmense baie vatbaar vir sulke intimidasie.
Maar, die groter probleem is dat nagraadse studie al hoe moeiliker gaan word vir Afrikaanssprekendes. Asof ander tale net sal kan voortbestaan as mense Afrikaanssprekendes uitroei. My oupa het in die 1920s daar in Afrikaans gestudeer. So het ek. Met báie moeite uit arm omstandighede. Niks wat enigiemand aan my taal kan doen kan dit verander nie. Hier is geen regstelling by betrokke nie.

Riana ·

Bou nog instansies en mask hulle almal Engels los ons ou paar ou Afrikaanse instansues in vrede

Spook ·

As die plek net in Ingils gaan klasgee, verander die naam terug na die Victoria College.

Elize ·

Die probleem is as hulle klaar hulle mind opgemaak het is al hierdie samesprekings net ‘n rookskerm. Ons kla en baklei en dis alles verniet. Hulle sal nie ophou totdat die hele land in puin le nie. Hoe gaan hulle gekeer word?

Karlahari ·

Kan van die studente nie asseblief vir ons n vlag verf met Wim de Villers se naam daarop nie sodat studente van die spesifieke koshuise daaroor kan loop nie?
Soos wat daar met ons vorige landsvlag gehandel is.

JohanR ·

Goeie plan Karlahari, maar met tong in kies vra ek hoekom die studente nie net oor Wim de Villers loop nie. Moenie nog bekommer oor ‘n vlag nie!

JohanR ·

Jare gelede was daar groot ongelukigheid oor ‘n gebou wat sou op gaan in die Suidelike Stede van Kaapstad. Daar is 1000000 handtekeninge gekry teen, en die gebou het nog opgegaan. 2de December? Nee die besluit is al klaar gemaak.

Adri ·

Ons word gedwing om weer on eie Afrikaanse instellings van die grond af op te rig. Maar onderkry sal hulle ons nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.