Seer nog rou jaar ná ouerpaar se selfdood

Jason Jonker se familie het Woensdagaand bymekaargekom om sy lewe te herdenk. (Foto: Verskaf)

’n Jaar nadat ’n jong pa van Bloemfontein sy eie lewe in Griekwastad geneem het, is die seer vir sy geliefdes nog steeds rou.

Jason Jonker (26) se ousus, Jessica (28), het vandeesweek aan Maroela Media gesê dat sy dood ’n wond is wat nooit ’n roof sal maak en eindelik gesond word nie.

“My ouers worstel elke dag met sy dood. In dié stadium doen ek my bes om sterk te wees vir hulle en hulle te help soveel as wat ek moontlik kan. Sy seuntjie vaar baie goed. Hy is net so besig en hardkoppig soos sy pa was. Hoe groter hy word, hoe meer kan jy sien hy’s my boetie se kind.”

Die familie het Jonker se dood, oftewel “eerste hemelse verjaardag”, Woensdag saam met geliefdes herdenk. Tydens dié geleentheid is 53 briefies met ballonne in die lug opgestuur. Elke briefie het ook ’n nommer op, wat mense kan bel om te sê waar dié briefie eindelik geland het.

Die kristal wat aan die familie geskenk is. (Foto: Verskaf)

Die Centre for Tissue Engineering by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie het Woensdag ’n pragtige kristal aan die familie laat aflewer wat simbolies is van Jonker – ’n orgaanskenker – se vel, weefsel en bloed wat hy geskenk het.

Sy ma, Maureen Labuschagne, sê baie van haar seun se organe is ná afloop van sy dood geskenk.

“Hulle kon baie organe oes en met die volledige skenking kan hy tientalle mense help,” het Labuschagne gesê.

Maroela Media het destyds berig dat Jonker en sy vriendin, Rochelle Drury (24), ’n dag uitmekaar hul eie lewe geneem het. Jonker is op 2 November oorlede en Drury die dag daarna in Bloemfontein.

“Daar is nog soveel vrae, maar ons het ’n briefie op sy foon ontdek wat hy vir ons gelos het. Dit het darem baie van ons vrae beantwoord. My ouers het nog nie die volle berusting gekry wat hulle nodig het nie, maar ek glo mettertyd sal dit hopelik kan gebeur,” het Jessica gesê.

“Die groot ding is, hulle wou gehad het hy moes net om hulp vra, want hy het ’n magdom mense gehad wat hom sou help en bystaan.”

Jonker en Drury het saam ’n seun wat binnekort twee word en Drury het ook ’n ouer seuntjie uit ’n vorige verhouding. Die kinders was ten tyde van die ouerpaar se afsterwe onderskeidelik tien maande en vier jaar oud. Dit is nie duidelik wat die aard van Jonker en Drury se verhouding ten tyde van hul afsterwe was nie. Jessica het destyds gesê hulle was albei wonderlike mense en ouers wat baie lief vir mekaar en hul kinders was.

Die kinders woon tans albei by Drury se ouers, Myrtle en Pieter. Jonker se ma en familie sien sy seuntjie egter gereeld en het gedeelde toesig oor hom. Hy bly naweke en vakansies by Labuschagne en hulle deel die koste van sy versorging.

“Ons sien hom ten minste elke naweek. Hy is naweke by my ma en hy geniet die plaaslewe baie.”

Jason Jonker en Rochelle Drury. (Foto: Verskaf)

“My ma praat gereeld met Rochelle se ouers. Hulle is altyd daar vir mekaar, veral op 2 en 3 November. Hulle het ’n goeie verhouding met mekaar, want albei kante verstaan die seer en wil net die beste vir albei seuntjies hê.”

Jessica sê die twee boeties is ook baie lief vir mekaar.

Nog verlies weens selfdood

Labuschagne het intussen ’n Facebook-blad, Hope to the hopeless: Stop the silent killer, gestig.

Hiermee probeer sy bewustheid skep oor hoe selfdood gesinne en families raak, en wil sy mense wat depressief voel, aanmoedig om met iemand te praat en nie stil te bly nie.

Labuschagne sê ná haar seun en Drury se dood het hulle verskeie vriende, familie en kennisse weens selfdood verloor.

Drie van Jonker (en Labuschagne) se vriende, asook sy tannie het in Januarie vanjaar hul eie lewe geneem. In April het Jonker se niggie ook selfdood gepleeg. ’n Vriend van Labuschagne en haar man, Riaan, het ook in Januarie sy eie lewe geneem.

Labuschagne sê een van dié vriende, wat ook haar boesemvriend was, se laaste oproep voor sy dood was na Jonker gemaak, hoewel Jonker in dié stadium reeds twee maande dood was.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marcello ·

Ek glo nie ‘n ouer kom ooit oor ‘n kind se dood nie, veral as selfdood die oorsaak is, ons is gekondisioneer dat jy jou ouers aan die dood afstaan, en nie ons ouers, ons kindcers 1ste afstaan nie. Sterkte aan die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.