Seksvoorligting: ACDP ‘slaggereed’ om hom na hof te wend

Angie Motshekga. Foto: Jacques Naude/ANA

Die ACDP sê hy is gereed om hom indien nodig na die Konstitusionele Hof te wend rakende die departement van onderwys se benadering oor omvattende seksualiteitsonderrig, algemeen bekend as CSE.

Eerw. Kenneth Meshoe van die ACDP het Donderdag gesê Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, is ‘behep’ met die onderrig van eksplisiete seksuele inhoud by skole en moet eerder onderrig in syfers, geletterdheid en wetenskap prioritiseer.

Dit volg nadat berigte aan die lig gekom het dat Motshekga na bewering onderwysers wat nie onderrig in CSE in skole wil gee nie met dissiplinêre stappe gedreig het.

“Dit is ongrondwetlik en daarom ’n ydele dreigement,” het Meshoe Donderdag gesê.

Volgens Meshoe sal die ACDP nie skroom om hom na die Konstitusionele Hof te wend nie.

Hy het gesê die ACDP wil die minister daaraan herinner dat artikel 15 van die Grondwet die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, geloof en mening waarborg.

“Die ACDP hou vol dat die onderrig van ’n kind oor seks primêr die verantwoordelikheid van ouers is en dat die minister geen wettige reg het om die wense van ouers te ondermyn nie,” het Meshoe gesê.

Hy het ook gesê die algemene sekretaris van die nasionale vereniging van skoolbeheerliggame (NASGB) beweer die departement het nie met hulle oorleg gepleeg oor die nuwe CSE‑kurrikulum wat vanaf 2020 in skole geïmplementeer moet word nie.

“Die ACDP sal aanhou baklei vir die regte van ouers om te besluit of hul kinders eksplisiete CSE in skole moet leer of nie. Die ACDP sal nie huiwer om hierdie saak na die Konstitusionele Hof te neem indien nodig nie. Ons glo dat Suid-Afrikaanse kinders aan hul ouers behoort, nie die staat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Zel

Ons ondersteun jou, Kenneth Meshoe. Dankie!!

Pieterd

Dit is kommerwekkend dat onderwysers met ‘n gewete met dissiplinêre stappe gedreig word. Al is dit ongrondwetlik, wat word van so ‘n onderwyser se loopbaan en bevorderingsmoontlikhede?
Dit help nie om die regering/onderwysowerhede te dreig met regstappe as hulle onderwysers onregmatig benadeel nie. Die leerplan moet gestuit word voordat dit implementeer word.

Dr Phil

Hierdie is nou een saak wat ALLE Suid – Afrikaners behoort te ondersteun: CSE is uit die bose en het ‘n sinister doel, basis en oorsprong. Dit klink miskien oordrewe wat ek hier skryf, maar doen gerus navorsing oor dit.’ n Goeie beginpunt om jou self te bemagtig, is ‘n dokumentere film oor die walglike meesterbrein agter alles, Alfred Kinsey, wat met behulp van’ n klomp pedofiele se noukeurige aantekeninge oor hul molestering van kinders, sy boeke geskryf het. Dit wys ook hoe die Amerikaanse regering, regslui, akademici, media en skoolsisteem vir sy leuens geval het en abnormale seksuele gedrag… Lees meer »

Corne

Al wat ek kan se is my twee dogters sal nie so klas bywoon nie maak nie saak wat hulle se nie. Dit hoort nie in skole nie, dan kan hulle netsowel pornografie begin wys by skole. Wat gaan deur die vrou se kop, Slaag syfers van Wiskunde ook nou 20%, sy hoort nie in daai pos nie.

Suzette

Dit is my kinders en ek besluit oor hulle. Die amtenare wat meen dit is nodig, en nie self hul ouerlike plig kan uitvoer nie, kan maar gerus in hul peetjie vlieg.