Sekuriteitshonde word ‘opgeskerp’ by Voortrekkermonument

Red spring teen sy eienaar op voordat hy begin met die opleiding (Foto verskaf)

Genesis K9 is aktief besig om die Voortrekkermonument by te staan om die veiligheid by dié monument op te skerp.

Die maatskappy is ’n geregistreerde hondeopleidingsentrum wat nasionaal en internasionaal instansies help om honde vir sekuriteitsdoeleindes op te lei.

Dié groep het Vrydag weer die Voortrekkermonument besoek om met hul eie honde te oefen en ook die monument se opgeleide honde se “tande weer te slyp”.

“Vandag gaan alles oor opskerping en inoefening,” sê Christene Voorendyk. “Ons honde moet by verskillende omgewings leer en oefen, soos winkelsentrums, parkeerterreine en vandag ook die Voortrekkermonument.”

Genesis K9 het verlede jaar drie honde aan die Voortrekkermonument geskenk en ook help oplei. Die monument se honde is reeds volledig opgelei as sekuriteitshonde en het Vrydag dus net hul vaardighede opgeskerp.

Thys Kleyn, direkteur van Genesis K9, sê dit neem baie tyd om honde op te lei en dat die standaard konstant gehou moet word.

Thysen oefen om ‘n voorwerp in ‘n groot vertrek uit te snuffel (Foto verskaf)

“Ons honde verrig verskeie rolle. Hulle kan byt, spore volg en dwelms uitsnuffel, maar die belangrikste rol wat hulle verrig, is sigbaarheid,” sê Kleyn.

Hoekom hulle die Voortrekkermonument gebruik om die honde op te lei, sê Thys is dit gedeeltelik om die monument by te staan en op hoogte te bly met die sekuriteitshonde.

“Ons het ’n sekuriteitsbehoefte gesien by die monument en wou graag betrokke raak. As ons nou met ons honde hier kom oefen, is dit ook ’n goeie geleentheid om die monument se honde weer op te skerp en te sien hoe dit met hulle gaan,” sê Kleyn.

Danie Dreyer, sekuriteitshoof van die Voortrekkermonument, sê hy is dankbaar vir die blootstelling wat die honde kry. “Dit is belangrik dat die honde in oefening bly. Dit is ook vir die Voortrekkermonument ’n voorreg om ons terrein aan Genesis K9 te kan te bied om meer blootstelling vir hulle honde te gee.”

Genesis K9 is ook verantwoordelik vir die opleiding van die honde in SANParke soos die Krugerwildtuin waar die honde opgelei word om renosterstropers uit te snuffel en spore te volg.

Die Voortrekkermonument is dankbaar om sy terrein te bied vir Genesis K9 en hulle hulp met die honde. Jou vriendskap kan die Voortrekkermonument bystaan in soortgelyke aksies: www.vtm.org.za\donasies\.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.