Selfaangestelde puntdiensbeamptes ‘problematies’

(Foto: Douglasdale CPF Sector 4/Facebook)

Die Automobiel-Assosiasie (AA) is bekommerd oor die selfaangestelde, onopgeleide puntdiensbeamptes wat verkeer tydens kragonderbrekings reguleer en meen hulle kan meer skade as goed doen.

Volgens die vereniging moet die verkeersowerhede ingryp om die verkeer in sulke situasies te reguleer.

“Hoewel die bedoeling edel is, neem dit net een ernstige ongeluk om die dwaasheid van hierdie poging te besef. Omdat dié puntdiensbeamptes geen wetlike magte het om verkeer te reguleer nie, kan geen stappe teen hulle gedoen word as iets skeefloop nie,” sê die AA.

Die vereniging sê motoriste het egter geen ander keuse as om aan die aanwysings van hierdie puntdiensbeamptes te voldoen nie, aangesien die res van die motoriste dit volg. “Dit is onmoontlik vir een motoris om hierdie aanwysings te ignoreer, want dit kan chaos veroorsaak.”

Die vereniging sê beurtkragskedules is wyd beskikbaar en verkeersowerhede kan meer moeite doen om personeel te ontplooi na die gebiede wat die meeste verkeer het, veral tydens piekverkeerstye.

“Ons sien al hoe meer dat privaatsektor-puntdiensbeamptes na sekere padkruisings ontplooi word, maar nie na ander (besiger) oorgange nie. Dié ‘selfaangestelde puntdiensbeamptes’ sien dan die geleentheid om in te gryp.”

Die taakspan van die oorsigkomitee vir die toepassing van verkeerswette, wat deur die regering op die been gebring is, het in 2019 gesê dat die land dubbel die aantal verkeersbeamptes benodig as wat daar tans is.

“Die gebrek aan verkeersbeamptes tydens kragonderbrekings lig egter hierdie behoefte uit.”

Die vereniging sê motoriste moet versigtig wees as hulle tydens kragonderbrekings ry en bied die volgende raad aan motoriste:

  • Kyk altyd vooraf na die beurtkragskedules en beplan jou roete noukeurig om verkeer te vermy. Neem, indien moontlik, ’n ander roete.
  • Bly kalm tydens swaar verkeer en wees hoflik teenoor ander bestuurders.
  • Wanneer verkeersligte weens beurtkrag buite werking is, benader dan enige kruising as ’n vierrigtingstop.
  • As selfaangestelde puntdiensbeamptes die verkeer reguleer, is dit die beste om hul leiding te volg, maar hou steeds ander motors dop.
  • Maak voorsiening vir onbeplande kragonderbrekings en laat genoeg reistyd toe om betyds te kom vir vergaderings of afsprake. As jy laat is vir ’n afspraak of vergadering, kan dit verhoogde spanning en angs veroorsaak, wat weer in padwoede kan omskakel.

“Beurtkrag is ’n werklikheid vir almal in Suid-Afrika, en verkeerskwessies wat daarmee verband hou, moet doeltreffend bestuur word. Motoriste moet te alle tye die nodige padreëls nakom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Eden ·

Die spul irriteer my grensloos en het uiteraard geen idee wat hulle doen nie. Interessant is dat Tshwane se metrobeamptes, wat oral motoriste voorkeer, die oomblik as beurtkrag begin verdwyn soos mis voor die moreson.

Dis seker te veel gevra dat hierdie parasiete hul eintlike werk moet doen?

Dat die “metro” nog geen plan het om verkeersligte aan die gang te hou tydens beurtkrag nie, is natuurlik te verwagte. Die stomme DA-beheerde metro het geen plan gehad nie, en ons weet mos die ANC-EFF metro stel nie belang om enige iets van waarde te doen nie.

Talia ·

Hoeveel ongelukke was daar waar die selfaangestelde puntsmanne is in vergelyking met waar daar niemand is nie?

Hulle doen ons almal n groot guns, ipv dan hulle verwyder word moet hulle dan eerder georganiseerd word en vergoed word.

Om te sê beplan my roete en tye is onregverdig. Die beurtkrag is te gereeld en orals. Ons stop en ry maar deur die hele dorp.

Frederik C ·

Meeste van die selfaangesteldes is beter as die opgeleides. Ten minste is hulle lus vir werk.

Axel ·

Hier verskil ek van die mening. OutSurance het hulle motorfiets brigade onttrek. Naby my in Hurlingham, op William Nicol doen hulle fantastiese werk!!! Ons gee ook geen fooitjies nie. WELL DONE ????

Vettiemaragartos ·

Die Tshwane metropolisie is altyd baie sigbaar waar daar geen krisis is nie, maar daar waar hul moet wees word hul net nooit gesien nie. Dink ook nie hulle is opgelei om verkeer te begelei nie. Soek net bribes vir KFC. Useless verby!!!!

Well done Outsurance wat klokslag op hul pos is by ‘n baie groot interseksie op Solomon Mahlangu waar die verkeersligte nou al vir 3 jaar buite werking is.

Dit al male sonder tal aangemeld. Tot vir die geagte heer Williams (ja toe hy nog die septer geswaai het) ‘n e-pos gestuur. Geen terugvoer!!!!

Johan ·

Ek twyfel sterk of die Tshwane Metro Polisielede weet hoe om verkeer te beheer. Dit is blykbaar nie deel van hul posbeskrywing nie. Kruip eerder agter brue en bosse weg.

Hennie ·

Ons stad het al die hoofroetes se verkeersligte met bystand krag toegerus. Wes-Kaap natuurlik…..

Wielspore ·

Ons het onlangs gesien hoe mense net voor Nelspruit op die Kaapsehoop pad gewone sand wat langs die pad voorkom in die slag gate gooi. Dan staan hulle op die middel lyn met houers en hou dit uit vir geld. Hierdie tipe herstelwerk is nutteloos en die slag gate is weer oop in ‘n uur of twee. Hierdie pad herstellers is ernstig oor hulle vergoeding en wys met die hand dat mense moet stilhou en betaal, dit veroorsaak amper ongelukke en die mense kan raak gery word.

domheks ·

“”selfaangestelde puntdiensbeamptes”” is dalk beter om die werk te doen, want ons verkeersbeamptes te rond om die verkeer te reguleer. Te veel KFC en bribes!

Debbie ·

Hier by ons een kruising wys hulle verkeer aan tydens loadshedding maar van hulle is gedrink en dit is nie goed nie want hulle werk nie saam mekaar nie en dan is dit chaoties. In elk geval behoort almal wat n lisensie wettig gekry het by nou al te weet as robots nie werk nie jy dit as n 4 rigting stop hanteer.

Johanna ·

Shame hulle ag hul te hoog Om verkeer te regular. Sit in kantoor of in kar en slaap

Daizee ·

Miskien moet die verkeersmense in Johannesburg ophou om mense voor te keer vir hulle lisensies en die verkeer by die robotte gaan reguleer, dan hoef die Publiek nie op die bedelaars by kruisings staat te maak nie??!!!!!

Jacques Dawie ·

Altyd n vlieg in die salf wat wil vooskryf, maar niks self doen nie.

Heinrich ·

In die verlede was daar verkeersbeamptes wat puntdiens by dooie verkeersligte gedoen het.
Deesdae staan daar mense met uniforms aan ‘n paar meter van die dooie verkeersligte af en trek mense af om geld van hulle te eis. Met trots geborg deur die ANC. Hou daarvan of nie; die selfaangestelde ouens doen stukke meer as die ouens in die kamptige uniform.

Heinrich ·

In die verlede was daar verkeersbeamptes wat puntdiens by dooie verkeersligte gedoen het.
Deesdae staan daar mense met uniforms aan ‘n paar meter van die dooie verkeersligte af en trek mense af om geld van hulle te eis. Met trots geborg deur die ANC. Hou daarvan of nie; die selfaangestelde ouens doen stukke meer as die ouens in die kamtige uniform.

Pietertjie ·

Kan mens iets aan die regering doen as iets skeefloop by nie-werkende verkeersligte?

jou gewete ·

groot vraag is kan hulle veel swakker wees as die kfc brigade, hulle probeer minstens iets doen. dis meer as wat van meeste van die goed betaalde kfc klomp gese kan word

Patch ·

Soms is hierdie mense se hulp van waarde maar ek het al ‘n ongeluk sien gebeur by ‘n verkeerslig waar een “diens” gedoen het in Solomon Mahlangu Rylaan, Pta Oos. Van hulle is onder die invloed van drank of dwelms en veroorsaak meer probleme. Miskien kan sommige van hulle as volwaardige Outsurance puntsmanne opgelei word. Dit skep werk en kan van waarde wees wanneer die verkeersligte buite werking is. As Tshwane Munisipaliteit nie so geld verduister of mors nie kan verkeersligte sonpanele kry wat die ligte kan aanhou.

Dandeleen ·

Die taxis wat ry waar hulle wil en wanneer hulle wil is ‘n groter probleem in my oë as die outjies wat mense wys wie moet ry.

Perdeby ·

Dit is hoekom julle AA is ( Altyd af) soos al die puntdiens ouens wat nooit op hulle poste is nie. Tenminste probeer hulle die verkeer beter maak, wat doen julle, behalwe bla bla bla bla. Julle suig net so lekker aan die speen van niks doen nie. Hou op kla en doen iets soos Outsurance wat nou die verkeersafdeling se pligte oorgeneem het.

Piet ·

Almal hier wat hierdie selfaangestelde spietkops ondersteun en prys vir hulle onbaatsugtige, roekelose en onverantwoordelike optrede is in die bol gepik. Die motoriste wat hulle slaafs navolg, nou ja….

Prikkie ·

Die “regte” verkeersbeamptes is te besig om spoedkameras te beman.

nellaj413 ·

Die mense is soms ons redding by die Moloto kruising in die oggend terwyl Tshwane metro 100 meter verder onder die boom staan en boetes gee vir mense wat nie sitplek gordels dra nie. Wie se werk is dit nou eintlik of is die reguleer van verkeer nie meer die metro polisie se werk nie?

Nico ·

Hoekom doen die witman met die kennis nie die punt dienste nie, dit sal beter gaan.

christo ·

Die AA moet die inisiatief neem om hierdie beamptes op te lei om as puntdiensbeamptes te kan optree. Die spietkop wat puntdiens in Witbank doen, moet nog gebore word.
Ek sal graag wil weet of daar in ander stede verkeersbeamptes is wat wél puntdiens doen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.