Senekal: AfriForum reël vreedsame protesaksie teen plaasmoorde

(Argieffoto)

Die burgerregteorganisasie AfriForum sê hy gaan voort met reëlings om Vrydagoggend in Senekal ’n vreedsame protesaksie teen plaasmoorde en geweld te hou.

“Dié besluit is geneem om te verseker dat die vreedsame meerderheid, wat op ’n geordende wyse hulle woede en misnoeë oor terreur op plase wil toon, se stem nie stilgemaak word deur ’n klein groepie opstokers en die uitlokkende optrede van die EEF nie,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Kriel meen AfriForum en geweldgeteisterde gemeenskappe het die volste reg om woedend te wees oor moorde soos dié op die jong Brendin Horner. Hy sê AfriForum glo dit is belangrik dat die billike saak om optrede teen plaasmoorde te eis, nie besoedel moet word deur diegene wat die stryd teen plaasmoorde in onguns wil bring nie.

Kriel sê AfriForum se veiligheidspan gaan in gesprek tree met ander rolspelers, wat landboustrukture soos Saai en die polisie insluit, oor ’n geskikte perseel vir die protesaksie en die maatreëls wat getref gaan word om te verseker dat groepe met ander motiewe nie die protesaksie ontwrig nie.

Kriel het daarop gewys dat AfriForum inligting ontvang het dat die land se veiligheidsdienste ’n klein groepie aanstokers tydens verlede week se protesaksie in Senekal ontplooi het om geweld aan te hits en sodoende die stryd teen plaasmoorde en die vreedsame meerderheid deelnemers aan die protes in onguns te probeer bring.

Hierdie inligting strook volgens Kriel met AfriForum se veiligheidspan en ander strukture se waarnemings tydens verlede week se protesaksie.

“Daar is waargeneem dat ten minste vyf mans op strategiese plekke in die skare geplaas was en opruiende uitsprake gemaak het. Hierdie mans het deurlopend op hulle selfone met mekaar gekommunikeer en sommige het selfs maskers gedra wat die hele gesig bedek het om hul identiteit te verdoesel. Toe ’n klein groepie mense, wat deur hierdie opruiende gedrag opgesweep is, die hofsaal bestorm het, het hierdie groep mans na hulle voertuie gehardloop en weggery.”

AfriForum doen ’n beroep op mense wat op geordende wyse hul misnoeë met plaasmoorde wil toon, om aan te sluit by die protesaksie wat AfriForum reël en nie toe te laat dat diegene wat protes teen plaasmoorde in onguns wil bring, hulle opsweep tot onaanvaarbare gedrag nie.

Die protesaksie vind voorlopig Vrydag om 10:00 plaas, maar sodra al die reëlings gefinaliseer is, sal AfriForum meer besonderhede oor die protesaksie op sy Facebook-blad en ander mediakanale bekendmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andrew ·

sommer 4 optogte van noord suid oos en wes in senekal in en senkal self.

Henk ·

Nou ja, daar het jy dit. Afriforum se veiligheidspan het 5 mans wat strategies geplaas is en geweld aangehits het “geidentifiseer”. Lê ‘n klag met bewyse dat die ware opstokers aan die pen kan ry. As hulle nie vervolg word nie, daar is mos ‘n privaat vervolgingseenheid. Dit is ‘n baie ernstige bewering om te sê dit was nie ons nie, dit was hulle. As dit bewys kan word sal dit ons sonder twyfel die morele hoëgrond gee. Ons wag in spanning…

Albert Willem ·

Ja wonder hoe gaan hulle uitgeken word as gesigte so goed bedek was.

annie ·

Indien geen waarskuwing oor die moontlike uitloop van ‘n hoogs emosionele saak aangehoor wil word nie, moet diegene wat keer dat dit gehoor word, deels die gevolge dra. Malema hou van vars rooi. Hoekom? AfriForum het ‘n uiters belangrike taak. Dit moet nie nou ‘n klankie van rewolusionèr bekom nie. Dit is maklik. Moeiliker is slim werk en rustig dink. Die taak word taaier en die vyand sluwer. Dink tog. Ons kan nie nog lewens opoffer nie.

Erika ·

Dit is wyse besluit van Kallie Kriel dat protes op beskaafde wyse geskiet word (want Julius en sy ondersteuners sal die situasie gerieflik uitbuit . en juis teen minorty gebruik………..dit gaan oorlog veroorsaak ..teen die minderheid ..

LiveAndLetLive ·

En dan?
Na die vreedsame optog verby is, wag ons dan net vir die volgende berig van nog n boer wat wreed vermoor is?
Wat van, dit stop of?
Ons kan nie so aangaan nie, dit gaan al jare so aan – iewers gaan iets moet verander om ander resultate te kry mense.

Jack ·

Ek sien dat hierdie indien daar nie absolute beheer oor die mense behou word nie dit n kruitvat is. Die gebied moet afgesper word verkieslik deur die sapd sodat dit nie dalk ook kan oorkook tot geweld soos wat malema en sy tjotsies dit wil he nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.