Sersant met eie vuurwapen doodgeskiet

Argieffoto. (Foto: Kent Williamson)

ʼn Wes-Kaapse polisiesersant is Woensdag doodgeskiet toe hy en sy kollega op ʼn voorval van huishoudelike geweld in Mamre gereageer het.

Die 44-jarige beampte wie se naam nog nie bekend gemaak is nie, is met sy eie dienspistool geskiet. Die voorval het omstreeks 12:45 plaasgevind.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, sê ná die polisie se aankoms by die betrokke huis in Klapmutsstraat het ʼn stoeiery tussen die verdagte en die beampte ontstaan waartydens die verdagte die sersant se dienspistool gegryp en hom geskiet het.

“Die verdagte het ook skote op die tweede polisiebeampte afgevuur en te voet van die toneel gevlug,” het Potelwa gesê. Dié polisiebeampte is nie in die voorval beseer nie.

ʼn Grootskaalse soektog is intussen na die verdagte van stapel gestuur.

“Bykomende hulpbronne is ontplooi om die soektog uit te brei. Die Valke ondersoek die moord.”

Lt.genl. TE Patekile, polisiekommissaris in die Wes-Kaap, het die voorval veroordeel.

“Dis ontmoedigend dat ʼn polisiebeampte wat op ʼn klagte reageer met sy dienspistool geskiet word. Die polisie is daar om die publiek te beskerm en nie deur hulle aangeval te word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Vonkprop ·

Polisiebeamptes moet beter opgelei word. ‘n Mens hoor al hoe meer van polisiebeamptes wat ontwapen word. Een tot een konflik behoort die polisie die oorhand te hê.

Michael ·

Dit is hartseer maar die realiteit wanneer daar nie meer respek is vir die polisie nie,waar sou so iets voor 94 gebeur het?

ES ·

Dis bitter hartseer dat die polisieman sy werk gedoen het en met sy lewe moes boet. Ons kan baie praat oor die polisie se opleiding maar situasies soos hierdie kan baie vinnig hand uit ruk, en die mees opgeleide polisieman kan sy lewe verloor.

Die probleem le by huishoudelike geweld en mans (en vroue) wat nie respek het vir mekaar nie en wat eerder probleme met geweld oplos. Dis ‘n probleem wat by die huis ontstaan waar kinders nie basiese maniere geleer word nie en sodra hulle grootmense is, dan gedra hulle hulself so.

Casper ·

Vonkorop,dit was ‘n een op een konfrontasie en die lid is doodgeskiet.Nou vra ek net,waar was die ander lid dat hy nie bystand aan sy kollega verleen het nie.

Mira ·

Vrees en respek is al lankal weg vir SAPS.Dit is so tragies want SAPS het ook gesinne wat wag hulle moet huistoe kom vanaand.

Bolandse Nooi ·

My vraag en standpunt is: (1) kry beamptes nog voldoende opleiding om sulke situasies eerstens te probeer voorkom, ontlont of te vermy en op te reageer op die korrekte wyse en (2) waarom het die 2de beampte nie sy/haar kollega beskerm toe hy/sy sien dat die situasie handuitruk nie?

Wondermaarnet ·

Hartseer. Dalk moet die polisie meer intense opleiding ondergaan.

trotsNAMSA ·

SAPD se opleiding is glad nie op standaard nie. Lede word nie geleer hoe om in situasies op te tree nie. Ek het tydens my opleiding net twee keer “les” gekry in selfverdediging ! Jy leer so met die tyd op jou eie. Baie Polisiebeamptes dink ‘n vuurwapen kan alles regmaak. My ondervinding het my geleer dat praat tydens huis moles meer help. Ek vertrou gladnie die meeste Polisiebeamptes op my rug te beskerm nie. Opleiding is uiters swak en daar word na opleiding nie weer verdere opleiding gegee nie en die wêreld verander te vinnig. Kwaliteit rekrute en -opleiding bestaan nie in die SAPS nie. Die +-2 jaar van opleiding bestaan uit “sit in die voertuig of in die gemeenskapsentrum. Kom dit by skiet vermoëns, sal vermeende oortreder beter kan skiet

SjN ·

Hoekom het die 2 de polisieman nie gehelp en opgetree nie, hy het ook seker te voet gevlug.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ander beampte was dalk ‘n vrou wat kleiner is as die krimineel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.