Ses swaar gewapende aanvallers het Sondag omstreeks 08:30 op ʼn plaas naby Tzaneen in Limpopo toegeslaan.
Marius Jacobs, stigter van die Watchdog Tzaneen-inisiatief en bedryfsbestuurder van Canine Security, het aan Maroela Media gesê ʼn vrou wat die eienaar van die plaas is en die plaasbestuurder het saam ontbyt geëet toe hulle deur die aanvallers oorval is.
“Die aanvallers was glo swaar gewapen met haelgewere en handwapens,” het Jacobs gesê. “Hulle het die vrou en die man vasgemaak en die man met ʼn vuurwapen geslaan terwyl hulle geëis het dat die vrou die kluis se sleutels aan hulle oorhandig.” Volgens Jacobs het een van die aanvallers ʼn skoot op die man afgevuur, maar dit was mis. Die vrou het daarna die kluissleutels aan die mans gegee.
Die aanvallers het selfone, skootrekenaars en vuurwapens geroof voordat hulle in die plaasbestuurder se Toyota Corolla op die vlug geslaan het. Jacobs het die nommerplaat van die voertuig as BWG 040 L bevestig.
Die man kon later daarin slaag om homself los te wikkel en hy het die vrou losgemaak voordat hulle gaan hulp soek het. Jacobs het gesê private veiligheidsmaatskappye en die polisie was vinnig op die toneel. Volgens hom is die man en die vrou nie ernstig beseer nie.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig, maar kon nie onmiddellik meer inligting gee nie. Maroela Media wag op terugvoer.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
25 Kommentare
Enige politieke partye of ministers wat dalk die voorval wil veroordeel?
Ja, asook die Vryheids Front Plus.?
Wys dit ook elke aamd saam met die doodskisvideo op hoofnuus asook die talle plaasmoorde.
Wonderwerk dat hulle nie gemartel en vermoor is nie. Baie dankbaar daarvoor.
Kleure asseblief!!! Maak nie saak of dit swart op wit,wit op swart, of swart op swart of wit op wit geweld was nie. Van nou af soek ons die kleur by ALLE berigte!!! Nie net wanneer dit sekere mense pas nie!!!!