Ses dood in ongeluk naby Nelspruit

Verskeie van die passasiers is uit die taxi geslinger. (Foto: Verskaf)

Die Kersnaweek het dodelik in Mpumalanga begin met nege mense wat Saterdagoggend in twee afsonderlike ongelukke in die provinsie dood is.

Die eerste ongeluk was tussen ʼn motor en ʼn sportnutsvoertuig wat reg van voor op die N4 in die omgewing van Vosman gebots het. “Die oorledenes sluit albei bestuurders en een passasier in,” sê Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in die provinsie.

ʼn Man en ʼn vrou het in die sportnutsvoertuig gereis en is op die toneel dood verklaar.

In nog ʼn botsing is ses mense dood toe die minibus waarin hulle gereis het, vroeg Saterdagoggend op die R38 tussen Barberton en Mazana omgeslaan het.

“Daar word vermoed dat die bestuurder dalk beheer oor die voertuig verloor het. Dit het omgeslaan en verskeie kere teen die berg afgerol,” sê Mmusi.

Verskeie mense is ook beseer en na die Barberton-hospitaal vir behandeling geneem.

Bagasie lê besaai oor die pad waar die ongeluk gebeur het. (Foto: Verskaf)

Kyle van Reenen, woordvoerder van die nooddiens Emer-G-Med, sê verskeie mense is uit die bussie geslinger toe dit omstreeks 05:00 by Nelshoogte omgeslaan het.

“Die minibus het ʼn sleepwa tydens die botsing gesleep en het mense van Johannesburg na Mosambiek vervoer.”

Ondersoeke word na albei voorvalle gedoen.

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het weer by mense gepleit om rustig te ry en nie die spoedgrens te oorskry nie. Veral diegene wat lang afstande reis, moet genoeg rus.

“Ons sien dat die meeste dodelike ongelukke snags en in die vroeë oggendure plaasvind. Die oorsaak van sommige van hierdie ongelukke, glo ons, kan aan bestuurdersmoegheid toegeskryf word. Motoriste moet dus genoeg langs die pad rus wanneer hulle lang reise onderneem,” sê Shongwe.

Die LUR het ook sy medelye met die slagoffers se geliefdes betuig en die beseerdes ʼn spoedige herstel toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.