Ses dood, nog 11 vermis in kitsvloed by Ladysmith

(Foto: Verskaf)

Ses mense is dood en nog 11 vermis ná ʼn verwoestende storm Sondagaand die Ladysmith‑omgewing in KwaZulu-Natal getref het en ʼn kitsvloed tot gevolg gehad het.

Strome water het motors van die hoofpad meegesleur en mense in huise vasgekeer, het provinsiale owerhede gesê.

Volgens Samantha Meyrick, woordvoerder van IPSS Medical, was die plaaslike dierebeskermingvereniging (DBV) en karavaanpark onder andere heeltemal oorstroom. Verskeie voertuie het glo ook weggespoel.

“Al die diere by die DBV is egter gered en teruggeneem. Een het vermis geraak, maar is vinnig teruggevind.

(Foto: Verskaf)

“ʼn Polisiebeampte verbonde aan die hondeenheid se soek-en-reddingspan het Maandag onverpoosd gewerk om die liggame van ses mense terug te vind. Daar word vermoed dat nog 11 mense steeds vermis word,” sê Meyrick.

Drie liggame is in ʼn minibus-taxi met nege passasiers gevind. Die ander ses word steeds vermis.

Een liggaam is in die puin van ʼn huis wat heeltemal verwoes is, gevind, terwyl twee ander mense wat ook in die huis was, steeds vermis word.

Minstens twee ander mense is dood nadat hul motors deur die Bellspruit-rivier meegesleur is.

Die soektog na die vermiste persone is egter later Maandag gestaak terwyl die uitgeputte enkele polisiebeampte en sy hond op bykomende polisiehulpbronne gewag het.

“IPSS Search and Rescue het later ʼn viermanspan, en twee voertuie ontplooi om saam met die polisie te werk.

“Bykomende lede bly op bystand om ontplooi te word om verder hulp te verleen indien nodig en ons vennote, die Al-Imdaad-stigting, sal hulp verleen aan diegene wat deur hierdie vloede geraak word,” sê Meyrick.

Nog hewige storms word Dinsdag reg oor die provinsie verwag.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.