Ses met 8kg se olifanttande betrap

Foto ter illustrasie. (Foto: SAPD)

Die Valke se span in Durban het Donderdag ses mans in hegtenis geneem nadat 8,1 kg se olifanttande in hul besit gevind is.

Die mans, almal tussen die ouderdom van 27 en 40, kon nie ʼn behoorlike rede verskaf nie waarom hulle die tande in hul besit het toe hulle deur lede van die Valke by die King Shaka-internasionale lughawe voorgekeer is.

“Die Valke het inligting ontvang oor mans wat in besit is van olifanttande. Hierna is drie mans voorgekeer toe hulle by die lughawe inry en twee olifanttande in hul voertuig aangetref is,” lui ʼn verklaring wat die Valke Vrydag uitgestuur het. Die mans is onmiddellik in hegtenis geneem en daar is op die voertuig beslag gelê. Volgens die verklaring is die tande ongeveer R200 000 werd.

Die ondersoek het polisie toe na ʼn lodge in die noorde van Durban gelei waar nóg drie mans in hegtenis geneem is. Na wat verneem word was die mans in Durban om ʼn moontlike koper vir die tande te soek.

Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Verulam-landdroshof verskyn.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.