Ses op stemdag in KZN in hegtenis geneem

Die polisieteenwoordigheid is sigbaar by die stadsaal in Durban. (Foto: ANA)

Ses mense is tot dusver in hegtenis geneem nadat betogings in KwaZulu-Natal opgevlam het terwyl miljoene Suid-Afrikaners by stemlokale aangemeld het om te stem.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, sê een persoon is in Ntuzuma in Durban in hegtenis geneem en nog vyf by Bergville in die KwaZulu-Natalse Middelland. Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) moes vier stemstasies in Bergville weens betogings sluit. Owerhede is na die toneel ontplooi in ʼn poging om die stemstasies weer oopgestel te kry.

Betogings het vroeër vandag reeds in Ntuzuma, Cato Manor, Cato Crest en Umgababa opgevlam. Paaie is met brandende bande versper, maar die tonele is redelik vinnig opgeruim. Volgens Naicker het al die betogings met ontevredenheid oor dienslewering verband gehou.

Bheki Cele, minister van polisie, het gesê die drie gebiede wat vroeër deur die polisie as brandpunte in die provinsie geïdentifiseer is, was egter tot dusver kalm. Die KwaMashu‑hostel, asook Ndwedwe en Lindelani in die iLembe-distrik word noukeurig deur die SAPD gemonitor.

(Argieffoto)

Cele het verslaggewers toegespreek nadat hy sy stem by Lamontville naby Durban uitgebring het. Hy het voor dit die Umlazi-omgewing besoek, ʼn gebied berug vir politieke geweld en betogings.

Bykomende beamptes is in KwaZulu-Natal en in Noordwes ontplooi – Noordwes is ook as ʼn probleemarea geïdentifiseer weens onluste in die provinsie. Weermaglede en polisiereserviste is op bystand sou probleme in die provinsies ontstaan.

Volgens Cele word laerisiko-stemlokale deur twee polisiebeamptes beman, mediumrisiko-stemstasies deur vier polisiebeamptes en minstens ses beamptes is by hoërisiko-kiesstasies ontplooi. Die minister het gesê daar is “verskeie” gebiede in KwaZulu-Natal wat medium- en hoë risiko is.

Hy het die OVK geloof wat “hul bes gedoen het” om al die stemlokale betyds te laat oopmaak.

Lt.kol. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het ook bevestig dat geen ander betogings tot dusver aangemeld is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan Nel ·

Intelligensie daal tot ‘n besonderse laagtepunt as jy die één geleentheid wat jy kry om swak dienslewering reg te stem, ontwrig met ‘n betoging.

SjN ·

Seker ses hoogs intelligente persone wat tot die daad oorgegaan het, dienslewering is glo die oorsaak, hoop hul party kom met oplossings

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.