Ses mans, wat na bewering betrokke was by politieke sluipmoorde, polisiemoorde, kitsbank-ontploffings, transitorooftogte en taxi-verwante voorvalle, is in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem.
Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het Woensdag in ʼn verklaring gesê beamptes van die taktiesereaksie-eenheid, nasionale ingrypingseenheid, die polisie se eenheid vir openbare orde en die lugvleuel, werk onverpoosd om die sinnelose moorde in dié provinsie te voorkom. Die span is tans ontplooi in die noorde van KwaZulu-Natal waar vyf persone ʼn week gelede dood is.
“Die lede het Dinsdag ʼn deurbraak gemaak deur ses vermeende huurmoordenaars, tussen 34 en 52 jaar oud, in hegtenis te neem,” het sy gesê. “Die mans het vermoedelik tussen Gauteng en KwaZulu-Natal opgetree en was betrokke by taxi-verwante voorvalle, polisiemoorde, kitsbank-ontploffings, transitorooftogte, politieke sluipmoorde, gewapende roof en kapings. Hulle is net buite Richardsbaai in hegtenis geneem en het sewe ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in hul besit gehad.”
Mbhele het gesê die polisie sal die verdagtes ondervra en die vuurwapens word gestuur vir ballistiese toetse.
Genl.maj. Bheki Langa, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die polisiebeamptes geloof vir die inhegtenisnemings. “Ons is vol vertroue dat die inhegtenisneming van hierdie mans ʼn bydrae sal lewer om voorvalle van geweld in die provinsie te beperk. Ons loof die lede van die gemeenskap wat besluit het om met ons span saam te werk en hierdie oortreders aan te keer. Dit wys dat ons gemeenskappe nog vertroue het in die polisie, en dat misdadigers verag word.”
Mooi KZN SAPD!
Hoop net hul vind uit waar jy van die vuurwapens kry Mooi werk SAPD
Shjoe, hulle is mooi effektief wanneer dit kom by HIERDIE misdade…
Knap gedaan SAP. Ek hoop net nie hulle is oor n week uit met R500 borg nie.
Mooi so!
Ons salueer die Gemeenskap en die Polisie, kom ons maak SA n veilige land.