Sesde verdagte vas oor beweerde loterybedrog

(Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Die Valke het ʼn sesde verdagte aangekeer in verband met bewerings van grootskaalse bedrog by die nasionale loteryfonds.

Die diefstal by die fonds in verband met dié saak beloop sowat R1,5 miljoen.

Fulufhelo Promise Kharivhe (41) is in hegtenis geneem en aangekla van bedrog wat spruit uit ʼn gewysigde finansieringsaansoek wat in Oktober 2018 by die fonds ingedien is.

Sy het haar Woensdagoggend, vergesel van haar regsverteenwoordiger, aan die Valke in Johannesburg oorgegee, sê kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke.

Die Valke se ondersoek het bevind dat ʼn bedrag van R200 000 in Oktober 2018 na ʼn bankrekening van ʼn maatskappy wat aan Kharivhe behoort, Thwala Front, uit die bankrekening van ʼn organisasie genaamd The Message oorgeplaas is.

Doctor Tumisang Makweya (39), beter bekend as Dr. Tumi, en sy vrou, Kgaogelo Makweya (36), word as komiteelede van die organisasie aangedui. Dr. Tumi is ʼn bekende gospelsanger en mediese dokter.

Die egpaar is in April reeds in hegtenis geneem en op borgtog van R3 000 vrygelaat.

Kharivhe is intussen ook op borgtog van R3 000 vrygelaat nadat sy in die Palm Ridge-handelshof verskyn het.

Saam met haar in die beskuldigdebank was die Makweya-egpaar, asook medebeskuldigdes Christopher Tshivule (46), Thomas Ndadza (48) en Mukondeleli Tshivule (26).

Die ses verskyn na verwagting weer op 14 Julie in die hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aikie ·

Waar in Suid Afrika is daar deesdae níe bedrog nie? Liewe Vader! Ek slaan my hande saam in ongeloof! Wat gaan met die wereld aan?

Persheks Adri ·

Kyk die bedrag vir borg teenoor die bedrog bedrag magtag! Pragtig geleer by kaders. Wonder of hulle gaan op daag by hof…

jzjz05 ·

En so duur dit voort ,ek wonder hoe gaan die geskiedenis die nuwe SA beskryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.