Sesjarige kry ná jare eindelik hartoperasie

Klein Chenelle Nimrod in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

“Is my hart toe?”

Dít was ’n sesjarige van Queenstown in die Oos-Kaap se eerste woorde kort nadat ’n gaatjie in haar hart in ’n Kaapse teatersaal herstel is en sy ’n tweede kans op die lewe gegee is.

Klein Chenelle Nimrod se naam het langer as drie jaar op die Oos-Kaapse departement van gesondheid se waglys vir ’n hartoperasie verskyn, voordat sy haar operasie begin vandeesmaand kon ondergaan.

Dít met behulp van die Pelo-stigting, ’n maatskappy sonder winsbejag wat fondse insamel vir die behandeling van kinders met kongenitale hartsiekte.

Chenelle is die stigting se eerste begunstigde en een van 200 kinders wat jare lank op ’n hartoperasie wag.

Dié wysneus droom nou daarvan om ’n verpleegster te word.

Natasha Nimrod, Chenelle se ma, vertel aan Maroela Media dat Chenelle oënskynlik blakend gesond was voordat sy in 2018 met hardlywigheid begin sukkel het. Sy was toe maar drie jaar oud. Natasha het haar jongste dokter toe geneem en die dokter het hulle na ’n hospitaal in Gqeberha (Port Elizabeth) verwys met die vermoede dat daar moontlik iets fout is met Chenelle se hart.

Daar het ’n hartchirurg bevestig dat Chenelle ’n gaatjie in haar hart het wat herstel sal moet word indien sy ’n normale lewe wil lei.

Klein Chenelle Nimrod in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

“Ons glo sy is gebore met die gaatjie in haar hart, maar ons het dit nooit agtergekom nie. Sy was ’n normale kind wat lekker gespeel het. Sy was nooit regtig siek nie…” vertel Natasha nou ná drie jaar van doktersafsprake.

Chenelle het aanvanklik nie goed op behandeling reageer nie en die dokter het in Augustus aangedui dat sy nie veel langer vir ’n operasie sal kan wag nie.

Natasha – wat in daardie stadium pas by ’n nuwe werk begin het nadat sy lank werkloos was  – was genoodsaak om haar nuwe werk te los om na Chenelle om te sien.

Dit was dus ’n bestiering toe die Nimrods se paaie met die Pelo-stigting gekruis het. Hulle kon Chenelle se operasie in vennootskap met die Busamed-hospitaal in Paardevlei, Kaapstad, enkele weke daarna moontlik maak.

“My baba was so sterk gewees ná die operasie. Sy kon drie dae later al self loop. Die dokters kon dit nie glo nie,” vertel Natasha.

Klein Chenelle Nimrod (Foto: Verskaf)

Chenelle is sowat ’n week ná die operasie ontslaan en intussen terug by die huis waar sy ses weke lank moet aansterk voordat sy sal kan terugkeer skool toe.

Klein Chenelle, wat aanvanklik weens die gaatjie in haar hart gesukkel het om gewig op te tel, begin reeds lyf kry en sal na verwagting ’n normale lewe vorentoe kan lei.

Sy vertel dat Chenelle ná die operasie daarvan droom om ’n verpleegster te word.

“Sy trek deesdae mediese handskoene by die huis aan wanneer sy speel. Sy het alles gehoor wat die verpleegsters in die hospitaal praat en nou moet haar sussies [onderskeidelik 12 en 17 jaar oud] daarna luister.

“Sy is die baba, maar eintlik die oudste in die huis met daardie mond van haar,” skerts Natasha.

Die Nimrod-gesin beoog nou om bewusmaking oor Chenelle se toestand te skep.

Die Pelo-stigting sê dit word geraam dat een uit elke 1 000 babas met kongenitale hartsiektes gebore word. ’n Pasgebore baba word boonop elke ses uur by die waglys gevoeg word van diegene wat chirurgie en/of behandeling nodig het.

Klein Chenelle Nimrod in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Dudu Mvimbi Leshabane, woordvoerder van die stigting, sê daar is tans nog vyf ander kinders in die Oos-Kaap wat dringend mediese ingryping nodig het. Een van hulle is ’n sesjarige wat reeds van geboorte af vir ʼn operasie wag.

Dr. Michael Janson van die Busamed-hospitaal wat deel was van die span wat die operasie op Chenelle uitgevoer het, sê kinders kan sowat twee jaar wag vir ʼn operasie, voor dit dringend word om hulle te opereer ten einde hul lewens te red.

“Ek is baie bly dat die operasie suksesvol was, aangesien dit die eerste kind is wat onder hierdie projek geopereer is. Ons doel is om soveel as moontlik kinders by te staan ​​indien ons die nodige finansiële hulp kry.”

Natasha wil graag die Pelo-stigting bedank sowel as Wings and Wishes, ’n organisasie wat kroniese siek kinders vervoer, wat gehelp het om Chenelle tot in die Kaap te kry waar sy die lewensreddende operasie kon ondergaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Zombie ·

Darem goeie nuus! Mens is maar bekommerd as mens kyk na die lae toelatingsvereistes vir sommige voornemende mediese studente.
Mens is dankbaar vir die organisasie se onbaatsugtigheid.

Jerry ·

Baie bly, maar hoekom sulke lang waglyste. Kan n Samaritaan nie so nou en dan na vore kom nie. Of is dit net oor geld geld geld, dis al. Who cares.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.