Sesjarige verdrink in rioolgat

(Foto: Thamsanqa Mbovane/GroundUp)

Deur Thamsanqa Mbovane vir GroundUp

Ontstoke inwoners van KwaNobuhle in Kariega (Uitenhage) in die Oos-Kaap het die naweek teen die adjunkburgemeester en haar afvaardiging uitgevaar ná ʼn sesjarige seuntjie verlede week in ʼn gat vol riool verdrink het.

Die seuntjie, Likamva ‘Liyema’ Nzewuza, is Dinsdagoggend ter ruste gelê.

Likamva het verlede week Dinsdag sokker saam met sy maats gespeel op ʼn oop stuk grond langs die besige Bucwastraat toe hy in die gat geval en verdrink het. Die gebied het verskeie dreins wat nie werk nie en vuil water stroom in die straat af van wyk 45 en verby wyke 43 en 44.

Inwoners van die gebied kla al jare lank oor die riool.

Brandbestryders moes ʼn leer gebruik om die kind uit die gat te haal. ʼn Ooggetuie het aan GroundUp gesê Likamva se maats kon hom nie uit die gat red nie en hulle het hul ouers laat weet wat op hul beurt die brandbestryders ontbied het.

“Brandbestryders moes onder die water rondvoel om die liggaam op te spoor. Toe hulle uiteindelik iets swaar voel, het hulle hom na bo getrek. Die seuntjie was oorlede en sy klere was deurdrenk met riool. Mense het begin huil,” het sy gesê.

Lede van die burgemeesterskomitee het die gebied Vrydag onder leiding van adjunkburgemeester Babalwa Lobishe besoek.

“Julle kom net wanneer ons kinders sterf,” het inwoner Phindile Teyise gesê.

Burgemeesterskomiteelid Yolisa Pali het onderneem dat die munisipaliteit die familie met die begrafnis sal help. Sy het gesê die rioolstelsel is ingewikkeld om te herstel, maar “ons sal ingenieurs stuur om dit vanaand nog te herstel”.

Lobishe het dieselfde belofte gemaak. “Ons sal dit regmaak,” het sy gesê.

Sabelo Mabuda, raadslid van wyk 45, het aan die skare gesê hy het in die gebied rondgery en foto’s geneem van die riool wat in Bucwastraat af stroom. “Ek meld al hierdie lekkasies aan, insluitend die rioolkanaal. Ingenieurs sal dit permanent herstel,” het hy gesê. “Hulle werk aan ʼn strategie om dit vir eens en vir altyd op te los.”

Die munisipaliteit het Vrydag vragmotors gestuur om die kanaal skoon te maak en werkers het dit met grond bedek.

Toe GroundUp die kind se familie egter Maandagmiddag besoek het, was die gat weer oop en vuil water het uit die drein langsaan gespoel.

Die familie het gesê hulle is te hartseer om verder te praat.

  • Hierdie artikel is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Blikkies ·

Ongeag wie dit is, dit bly hartseer as ‘n kind so moet doodgaan. Ek voel jammer vir sy familie. Dit nou gesê, hulle kla al jare oor die probleem, maar hoekom bly hulle dan stem vir die mense wat niks doen nie. Hoeveel kinders moet nou nog in riool verdrink voor hulle besef miskien moet hulle vir iemand anders stem wat dit regmaak.

mattk ·

Dit is net verbasend hoe vinnig beloftes nou gemaak word om die dreine te herstel na die tragedie plaas gevind het. Hierdie kaders voel ‘n veer vir die gemeenskap. vir hulle gaan dit oor die mag in beheer en die geld in hulle sakke. Innige meegevoel aan die ouers.

Hasie ·

Solank dit net nie die burgermeester en Kie se kind is nie ….thanks but no thanks …jul ry die gravy trein maar gee nie om wie die gravy verskaf nie …

Eugene ·

Geen munisipaliteit gee om in so situasie nie. Hulle trek almal skouers op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.