Seun (10) sterf toe petrol ontplof: ‘Hy is in die Paradys’

Dylan Fourie. Foto: Verskaf

Dylan Fourie. Foto: Verskaf

“Ek weet my kind is in die Paradys. Sy saak met die Here was reg. Hy sit by Jesus se voete en het geen pyn meer nie.”

Só het Eldoret Fourie, ʼn ma van Rustenburg, aan Maroela Media gesê ná haar seun, Dylan (10), die afgelope naweek gesterf het weens komplikasies nadat brandende petrol op hom beland het. “Dit voel of ʼn stuk van my hart weggeskeur is,” het ʼn emosionele Eldoret gesê. “Ek soek hom oral. As ek deur die huis loop en weer van sy speelgoed sien, dan loop die trane van voor af. Ek worstel met soveel vrae. Hoekom moes dit gebeur? Maar ek is nie kwaad nie. Ek weet hy is in die Paradys.”

Eldoret het Donderdag vertel hoe vinnig die ongeluk gebeur het wat die lewe van haar en haar man, Dawie, se jongste geëis het. “Ons het die Vrydagaand gebraai en ek het in die kombuis kos opgeskep. Dawie was aan die ander kant van die huis besig om ʼn gloeilamp om te ruil wat geblaas het, toe Dylan en sy sussie, Kate-Lynn (11), besluit het hulle wil vir ons ʼn kampvuur maak,” het Eldoret gesê.

“Sonder ons medewete het hulle ʼn bottel petrol gaan haal en op die vuur gegooi. Die petrol het natuurlik aan die brand geslaan en die bottel het ontplof. Binne sekondes was Dylan aan die brand.”

Eldoret het uitgehardloop en die vlamme by ʼn buitekraan geblus. Dawie het vir Dylan onder koue water in die stort gesit, terwyl sy die veiligheidsmaatskappy gebel en ʼn ambulans ontbied het. Binne vyf minute was die ambulans daar en Dylan is na ʼn Rustenburgse hospitaal gehaas.

Hy het 70% brandwonde oor sy lyf opgedoen. Van die brandende petrol het ook op Kate-Lynn gespat en sy het matige brandwonde op haar bene opgedoen.

Dylan is later die aand geopereer om die gebrande vel te skrop en te verbind en daarna in die waakeenheid van die hospitaal opgeneem. “Hy was by sy bewussyn en kon met ons praat,” het Eldoret gesê. “Die dokters het dit oorweeg om hom na ʼn hospitaal in Johannesburg te laat oorplaas, maar daarteen besluit omdat hulle bang was dat sy hart en longe nie die vlug sou kon hanteer nie.”

Dylan het Saterdagnag aan sy beserings beswyk. Volgens Eldoret vind sy berusting in die feit dat haar kind naby aan God geleef het en die meeste van elke dag in sy kort tyd op aarde gemaak het. “Hy was so ’n opgewonde, borrelende kind wat altyd gelag het. Ons kan nie een foto van hom kry waarop hy ongelukkig lyk nie. Op elke foto sien jy net die groot glimlag,” het sy gesê.

“Hy was ʼn kind wat vir niks teruggestaan het nie. Hy was mal oor rugby en ʼn uitblinker in akademie, ʼn regte go-getter. Hy het natuurlik sy seuntjie-streke gehad, maar was lief vir die lewe. Dylan was ʼn pragtige kind wie se sonstraaltjies soveel mense se harte aangeraak het. Ons sal hom nooit ophou mis nie.”

ʼn Roudiens vir Dylan sal Saterdag om 14:00 by die NG Tuine-kerk in Rustenburg gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.