Seun met Down se sindroom inspirasie vir spesialis bakkery

Lynne Rutherfoord en haar seun Joshua. (Foto verskaf)

Waar op aarde gaan haar seun met Downsindroom eendag werk kry? So het dit vier jaar gelede by Lynne Rutherfoord van Kaapstad gespook nadat Joshua (nou 25) sy skoolloopbaan voltooi het.

Dit is iets wat vir elke ouer van kinders met intellektuele uitdagings ʼn bekommernis is. Werk is reeds vandag so skaars, wat nog vir jongmense met verstandelike beperkings.

“Na Joshua se geboorte het ek en my man, John, baie daaroor gesels om vir hom ʼn werksgeleentheid asook moontlike behuising te skep as hy ouer word,” vertel Lynne.

“Dit moes iets wees wat ons sou kon uitbrei na ander jong volwassenes met intellektuele gestremdhede aangesien hulle dikwels eensaam is nadat hulle hul skoolloopbaan voltooi het.

“Ons het Down with Dough, ʼn organisasie sonder winsbejag waar ons slegs gluten-en -laktosevrye produkte vervaardig, in Januarie 2019 met die hulp van ʼn soortgelyke organisasie begin wat ons dus in die Noordelike voorstede van Kaapstad kon dupliseer.”

“Na vier jaar werk Joshua nog doodgelukkig by Down for Dough. Hy het ook werk elders gekry waar hy een keer per week vir ʼn skof van drie ure lank by Bootleggers in Durbanville werk. Hulle het hierdie geleentheid gekry deur hul vriendskap met die bestuurder wat bereid was om vir Joshua ʼn kans te gee.

“Die personeel maak hom touwys met die neem van bestellings, tafels afdek en ander nodige take. Hier is hy so gewild dat party kliënte spesifiek op die dag kom wanneer hy werk.”

Lynne-hulle het ook twee dogters, Tayla en Monique, wat binnekort aan haar tweede baba geboorte gaan gee. ʼn Trotser oom as Josh gaan jy nie maklik kry nie. Hy verkondig graag dat hy ʼn oom is.

Diagnose

Aangesien Lynne op 34 met Josh swanger was en daar geen “hoë risiko” rondom haar swangerskap was nie, het sy nie ʼn amniosintese toets ondergaan nie. Aborsie is in elk geval teen hul beginsels.

Dit was eers met Josh se geboorte dat hulle uitgevind het dat hy Downsindroom het.

Sedertdien het Lynne nie weer amptelik gewerk nie, maar op verskeie rade van liefdadigheidsorganisasies gedien en as vrywilliger by verskeie organisasies gewerk.

Een groot familie

Benewens mense met Downsindroom, verskaf Down with Dough ook werksgeleenthede aan mense met ander verstandelike beperkings. Hulle het 13 lede wat op verskillende dae kom werk en 5 of 6 op ʼn keer.

“Ons maak voorsiening vir mense met uiteenlopende intellektuele beperkings, maar 50 persent van ons lede het Downsindroom. Almal funksioneer op verskillende vlakke, of dit nou met Downsindroom, outisme, serebrale gestremdheid of ander verstandelike agterstande is.

By Down with Dough is hulle almal soos een groot gelukkige familie.

“Ons moedig ons lede aan om altyd vriendelik te wees en om hul beste as ʼn span te lewer. Hulle kom goed met mekaar oor die weg en hulle leer vaardighede wat individuele groei aanmoedig in ʼn bedrywige omgewing waar mense boonop vir mekaar omgee.

“Ons bemoedig hulle om hulself uit te daag as sekere take aan hulle gegee word en om waar nodig, vir ander bystand te bied. Dit dra daartoe by dat hulle ʼn doel in die lewe het en dat hulle sukses kan behaal.

“Hulle sien altyd daarna uit om werk toe te kom en kan nie wag vir hul toelae aan die einde van elke maand nie.”

Lynne sê afhangend van hul uitdagings, word hulle aan alle take in die bakkery blootgestel soos die weeg van bestanddele, uitrol en sny van die hondehappies, die pak van brownies, om die pakkies te verseël en om etikette aan te bring. Hulle verrig ook roterende teepouse-verpligtinge, opwas, uitdroog en algemene take soos vee, mop en skoonmaak.

“Party het meer bystand as ander nodig, maar ons moedig hulle altyd aan om hul vaardighede te verbeter.

Werksgeleenthede vir verstandelik gestremdes

Down with Dough het aanvanklik jongmense tussen 18 en 30 in diens geneem, maar die behoefte is so groot dat hulle nou ook ouer lede het. Twee werk heeltyds by hulle en nog twee het werk in die arbeidsmark gekry.

Maar hoe moeilik is dit om werk in die openbare sektor te kry?

“Dit is een van ons grootste uitdagings. Na die pandemie is werk skaars, des te meer vir jong volwassenes wat intellektueel beperk is. Ons beoog om dit te verander en 2024 is die jaar waarin ons ons nog meer gaan toespits om meer van ons werknemers elders te plaas en ook om ons lewensvaardighede-program uit te brei,” sê Lynne.

(Foto: Candice Rodrigues Photography)

“Die belangrikste hier is om veral gedurende die eerste jaar voortdurende ondersteuning tussen die nuwe werkgewer en die jong volwassenes te vestig.”

Wanneer hulle lede elders geplaas word, probeer hulle om ʼn oop verhouding met werknemer sowel as werkgewer te behou.

“As hulle eers aangestel is, besoek ons hulle maandeliks om morele ondersteuning met enige kwelpunte te bied.

“Ons bied ook bystand met uitdagings rondom aanpassings, verandering en voorbereiding van die take.”

Gluten-vry en laktosevry

Down with Dough bak uitsluitlik laktose- en glutenvrye produkte en gebruik hiervoor laktosevrye melk en jogurt, en glutenvrye meel.

“Maar baie mense wat nie allergies vir gluten en laktose is nie, smul ook heerlik aan ons produkte. Ons dubbele-sjokolade-brownies is heerlik en word gereeld deur ons lojale klante gekoop.”

Hoewel daar tans net een tak van Down with Dough (naamlik in Durbanville) bestaan, hoop hulle om later meer takke in ander voorstede in Kaapstad oop te maak sodat daar meer in die toenemende aanvraag vir werk vir jong volwassenes met intellektuele gestremdhede voorsien kan word.

(Foto: Candice Rodrigues Photography)

Hulle vervaardig ook glutenvrye hondekoekies wat al gewilder onder honde-eienaars word omdat dit ʼn positiewe uitwerking op velirritasies en maaggesondheid het.

“Ons het gedurende die pandemie in 2020 met die hondebeskuitjies begin toe ons produksie van ʼn ander organisasie sonder winsbejag oorgeneem het. Hulle moes ongelukkig hulle deure sluit.

“Hierdie onderneming sowel as ons eie Barking Bites-handelsmerk, het geweldig gegroei.”

Terugvoer

Lynne sê die terugvoer wat hulle kry is uitstekend. “Ons ouers is baie waarderend oor die feit dat ons ʼn veilige werkomgewing vir hul kinders skep. Hulle beskou dit ook as ʼn geleentheid vir groei, en vir ʼn onafhankliker leefwyse.”

Dit gaan voor die wind met die organisasie wat toenemende steun van die gemeenskap kry. Nagenoeg 95 persent van hul klante woon binne ʼn radius van 10 kilometer vanaf die bakkery af.

(Foto: Candice Rodrigues Photography)

Hulle voorsien hoofsaaklik aan koffiewinkels, restaurante, skole en kerke in die Durbanville gebied. Slegs 10 persent van hul verkope is aan individue.

“Al meer mense klop by ons aan nadat hulle by ander van ons gehoor het. Ons plaaslike koerant, die Tygerburger, is ons ook baie goedgesind.

Mites

Lynne sê die mites rondom kinders met Downsindroom is dat hulle nooit iets sal kan uitrig nie.

“Dis onwaar. Josh is so ʼn joviale jong man en het ʼn groot impak op mense wat sy pad kruis.

“Hulle is gek daaroor om by hul gesinne, vriende en die groter samelewing ingesluit te word.

“Met vroeë ingryping kan hul intellektuele vermoëns verbeter. Hoewel hulle teen ʼn stadiger pas leer, sal aanhoudende herhaling en bemoediging ʼn verskil maak.”

Lynne se raad vir almal wat kinders met intellektuele beperkings het, is om van jongs af op hul sterk punte te fokus.

(Foto verskaf)

“Moenie hulle vermoëns onderskat nie en laat jou deur hulle lei, maar waak ook daarteen dat hul kanse vat.

“Vertrou jou intuïsie en wees ʼn ambassadeur vir jou kind. Probeer om nie namens jou kind afgehaal te voel nie, want mense tree soms uit onkunde onsimpatiek op.

“Dink aan ʼn oplossing soos dat die kind ʼn T-hempie dra met die woorde; Wees asseblief gaaf. My naam is Xxxx Xxx en ek het outisme of Downsindroom, of wat ook al – veral as hulle nie oor verbale vermoëns beskik nie.

“Sluit by ʼn ondersteuningsgroep aan. Daar is baie ooreenkomste tussen verskeie intellektuele uitdagings.

“Maak ook gereeld tyd vir jouself en sorg so dat jou glas ‘vol’ is.”

Deelnemers sê:

Roelie (20) outisties: “Ek hou daarvan om my vriende hier te sien en deel van ʼn span te wees.”

Sarah (20) outisties: “Almal is so gaaf en snaaks.”

Joshua (25) Downsindroom: “Ek hou van vee, opwas, afdroog en om die brownies te bak. Ek is lief vir my vriend Aidan en ons lag baie.”

Fondse

Fondse word maar altyd benodig aangesien ʼn organisasie sonder winsbejag nie altyd op regeringsfondse kan (of wil) staatmaak nie. Diegene wat skenkings wil maak, kan ʼn belastingsertifikaat kry omdat dit belastingaftrekbaar is.

Hulle bied ook jaarliks ʼn gholfdag aan wat vir hulle aansienlike fondse skep wat gedurende die jaar vir bykomende uitgawes aangewend word, soos byvoorbeeld om bykomende toerusting te koop waarvoor hulle nie begroot het nie.

Mense wat donasies wil gee kan ook tot die lewensvaardighede program bydra.

Down with Dough het nie ʼn winkel met ʼn vooraansig nie en werk streng volgens bestellings per e-pos of per WhatsApp. Stuur ʼn e-pos aan [email protected] of besoek hulle op Facebook of Instagram vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Vir Lynne en John Rutherfoord wil ek net se “We Salute You” vir so uitstaande idee wat nou so n suksesvolle werks geleentheid aan gestremdes geword het.

Colombo ·

Fanus Rautenbach se HEMELKINDERS.Voorwaar hier word goeie werk gedoen.

Suzette ·

Dit was nou lekker om so ‘n mooi positiewe berig te lees.
Doen so voort!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.