Sewe gou vas ná aanval op polisie

(Foto: Verskaf)

Spoedige optrede deur die polisie het Saterdagaand tot die inhegtenisneming van sewe verdagtes gelei wat met die aanval op polisiebeamptes in die Maluti-nedersetting in die Oos-Kaap verbind word.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het twee beamptes van die polisie se misdaadvoorkomingseenheid omstreeks 23:45 ʼn nakomingsinspeksie by ʼn taverne in die Maluti-nedersetting gedoen toe hulle aangeval is deur klante wat omgekrap was oor die sluiting van die taverne.

“Die klante het die beamptes met klippe bestook en hul voertuig se venster en voorruit beskadig. Hulle het ook die beamptes se vuurwapens, ʼn 9 mm-pistool en R5-geweer, gesteel,” sê Naidu.

Die beamptes het bystand ontbied en ʼn taakspan is onmiddellik daarheen gestuur.

“Met die lede van die taakspan se aankoms op die toneel het hulle op die twee beseerde beamptes, onderskeidelik 39 en 41 jaar oud, afgekom. Hulle is omtrent ʼn kilometer van die taverne met kopbeserings aangetref. Een van die beamptes se skouer was ontwrig.”

Die beamptes is hospitaal toe geneem vir verdere mediese behandeling.

Die taakspan het die gebied om die taverne gefynkam en lede van die honde-eenheid het kort daarna ʼn 23-jarige verdagte aangekeer waar hy in bergagtige gebied geskuil het.

(Foto: Verskaf)

“Een van die beamptes se 9 mm-pistool is in sy besit gevind.”

ʼn Tweede verdagte (27) is langs die pad in hegtenis geneem. Hy is in besit van ʼn ongelisensieerde rewolwer en ammunisie gevind.

“Met behulp van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is ʼn 23-jarige verdagte in ʼn huis in die gebied opgespoor. Hy is in besit van ʼn CZ 75-pistoolgevind.”

ʼn Vierde verdagte (27) is in boeie geslaan nadat hy Sondag omstreeks 03:00 na die polisiestasie gegaan het om ’n vals verklaring af te lê. Die verdagte het glo ʼn storie versin dat hy gesien het hoe iemand die gesteelde R5-geweer in die begraafplaas weggesteek het.

“Die R5-geweer is opgespoor en dié man is in hegtenis geneem.”

(Foto: Verskaf)

Die vier verdagtes is aangekla vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Nog drie verdagtes, tussen die ouderdomme van 23 en 34 jaar oud, is later ook vasgetrek vir die aanval op die polisielede, asook kwaadwillige saakbeskadiging. Die twee vuurwapens waarop beslag gelê is, is vir ballistiese toetse gestuur.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris in die Oos-Kaap, het die polisie se taakspan geloof vir hul spoedige optrede.

“Te danke aan die spoedige en meedoënlose pogings van die taakspan is al sewe verdagtes aangekeer. Die vuurwapens wat van ons lede gebuit is sowel as die twee ander vuurwapens is suksesvol teruggevind. Ons is dankbaar daaroor omdat dit sal verseker dat hierdie gevaarlike wapens nie teen ander gemeenskapslede gebruik sal word nie,” sê Mene.

“Die onwrikbare toewyding, ondersteuning en bystand van die GPF en gemeenskapslede is van onskatbare waarde. Dit is deur die samewerking tussen wetstoepassingsowerhede en die gemeenskap dat ons veiliger woonbuurte vir almal kan skep.

“Aan diegene wat dit waag om ons manne en vroue in blou aan te val, rig ons ’n streng waarskuwing dat ons nie sal rus totdat geregtigheid geskied nie. Diegene wat vir sulke misdade verantwoordelik is, sal deur ernstige gevolge in die gesig gestaar word.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karoo ·

Kan jy nou meer… so iets eenvoudige, as die Polisie nie meer eers veilig is en wet en orde kan handaaf nie. Hoe lyk die toekoms?

Anel ·

Dit is net vir my baie vreemd dat lede so maklik ontwapen word. As iemand my wspen by my probeer vat, sal dit sy laaste keer wees!

Harley Davidson ·

Swak beamptes wat van hulle wapens beroof word het hulle weggehardloop en die wapens gelos of is die wapens met ‘n paar klappe by hulle gevat?

Danie ·

Polisie is gou om aanvallers aan te keer wanneer hulself aangeval word maar laat dit nou n plaasmoord wees dan vat hul maande en jare of sluit die mense op wat die aanval aanmeld soos daardie twee jong dames.

Woes ·

Hierdie booswigte was gewapen, so wat verhoed die polisie om te skiet. O ja hulle het mos meer regte as ons wetsgehoorsame burgers. Die laaste wat hy sal sien is die flash van my 9mm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.