Shoprite bestee R560 miljoen om ligte aan te hou

Dit lyk of die kleinhandelaar stygende koste – veral dié om die uitwerking van beurtkrag teen te werk – aan verbruikers begin oordra. (Foto: Shoprite)

Dit word al hoe duurder om sake in Suid-Afrika te doen met ʼn duidelike voorbeeld hiervan die kleinhandelreus Shoprite wat weens voortgesette beurtkrag meer as ʼn halfmiljard rand aan diesel vir kragopwekkers opgedok het om die ligte tydens beurtkrag aan te hou.

Shoprite het pas sy syfers vir die ses maande tot 1 Januarie bekend gemaak. Winkels in die groep se stal sluit in Checkers, LiquorShop, House & Home, Usave en MediRite.

“Die groep se bykomende besteding aan diesel om kragopwekkers aan die gang te hou sodat winkels ononderbroke tydens fase 5 en fase 6 van beurtkrag kon handel dryf, het in die tydperk op R560 miljoen te staan gekom,” lui die winkelgroep se bedryfsverklaring.

Verkope by winkels in die groep het met 16,8% toegeneem tot sowat R106,3 miljard en rekordverkope is tydens Swart Vrydag­-verkope en verkope oor die feestyd aangeteken.

By Shoprite en Usave het verkope met 15,1% gegroei en verkope by LiquorShop was 35,6% meer.

Pryse styg

Dit lyk of die kleinhandelaar stygende koste – veral dié om die uitwerking van beurtkrag teen te werk – aan verbruikers begin oordra en die prys van produkte by winkels in die groep het in die sesmaandetydperk met ʼn aansienlike 9,4% toegeneem.

Die maatskappy sê as deel van sy verbintenis om ʼn prysleier in die mark te wees, het verbruikers danksy die Shoprite en Checkers Xtra Savings-program altesame R7 miljard bespaar.

“Dít, tesame met die uitwerking van die jaar-op-jaar-verhoging van sowat 55% in die prys van brandstof op ons verskaffingsketting, sal lei tot ʼn effens laer bruto winsgrens vir die tydperk.”

Shoprite sê ook hy het ʼn versekeringsuitbetaling van R245 miljoen in die tydperk ontvang – vir verliese wat hy weens verlede jaar se Julie-onluste gelei het, maar dit is weggekalwe deur die bykomende R90 miljoen wat hy aan versekering bestee het om soortgelyke gebeure te dek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.