Shuri die kameelperdjie sterk goed aan

Shuri word gevoer. (Foto: Facebook/HESC)

Shuri, die drie dae oue kameelperdjie wat einde verlede maand deur die Hoedspruit se eenheid vir bedreigde spesies (HESC) in Limpopo ingeneem is, sterk goed aan.

ʼn Nabygeleë natuurreservaat het op 30 Augustus ʼn veearts in die omgewing in kennis gestel van ʼn byna pasgebore kameelperd wat swak en gedehidreer in die veld lê. Die veearts het met HESC in kontak gekom om die diertjie in te neem.

Volgens Estelle Walmsley, ʼn woordvoerder van HESC, het Shuri aanvanklik gesukkel om die spesiale melk wat hulle vir haar gee te drink, maar sy het intussen gewoond geraak aan die tietiebottel en word by die dag sterker.

“Sy drink nog steeds sowat drieuurliks die spesiale melk wat deur die veearts vir haar voorgeskryf word. Die melk bevat vitamine en minerale om haar kragte op te bou. Sy kry op die oomblik net hierdie melk,” sê Walmsley.

“Toe sy by ons aangekom het, moes sy binneaarse voeding kry en pypies is in plek gehou met swart kleefpleister en verbande wat om haar nek en kop gedraai is. Kurators op die plaas het gedink sy lyk nes Black Panther se suster Shuri in die fliek.”

Shuri bly tans in haar eie kamp waar sy onder kwarantyn is. Sy slaap snags binnenshuis en loop bedags buite rond.

“Ons kan haar nog nie vrylaat op die plaas nie, want sy is nog nie sterk genoeg daarvoor nie. Haar toestand is nog op en af, maar dit gaan werklik beter met haar en daarvoor is ons dankbaar.”

Shuri. (Foto: Facebook/HESC)

Volgens Walmsley het Shuri se ma haar nie weggegooi nie, maar was sy self in ʼn bedenklike toestand toe sy en haar kalfie in die natuurreservaat aangetref is.

“Sy was self gedehidreer en swak, en kon eenvoudig nie vir Shuri voed nie. Sy was verhonger en in ʼn ellendige toestand, moontlik as gevolg van die droogte en ander probleme in die reservaat.”

Walmsley sê klein Shuri het veel meer energie het sedert haar aankoms by die sentrum.

“Ons beoog altyd om die diere wat ons rehabiliteer weer vry te laat in hul natuurlike omgewing. Ons weet egter nog nie wanneer dit vir Shuri gaan moontlik wees nie. Sy is nog baie jonk en swak en ons moet haar eers gesond kry.”

Besoek die HESC se webwerf hier om geldelik by te dra tot Shuri se voeding. Besoek ook die HESC se Facebook-blad om op hoogte te bly van Shuri se vordering.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

modiglianigirl ·

Wat van die Mamma kameelperd? Kry sy óók sorg en voeding? Ek hoop só.

Tiptol ·

Wil ek ook weet. Klink of daar glad nie diere op daai reservaat moet wees nie.

JohanR ·

Moenie DAAI vrou van Shuri laat weet nie. Sy sal sy hart kom uit skeur en daarmee staan en spoeg op Facebook.

Dennis ·

Sal ook graag wil hoor wat van die ma geword het. So dankbaar vir mense en instansies wat hulle ontferm oor ander mense en diere in nood.

Skappie ·

Baie dankie vir wat julle vir hierdie kameelperdjie doen. Mag Shuri gou sterk en gesond word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.