Sikloon Freddy breek dalk rekord

(Foto: WXloverguy’s page/Twitter)

Tropiese sikloon Freddy is op koers om ʼn rekord op te stel as die tropiese sikloon wat die langste nog gewoed het.

Freddy het teen Maandag ʼn tweede asem gekry en na Madagaskar teruggekeer en sal volgens die Verenigde Nasies se Wêreld Meteorologiese Organisasie (WMO), Mosambiek die naweek vir ʼn tweede keer tref.

“Freddy gaan voort op sy roete,” het Clare Nullis, woordvoerder van die WMO gesê.

Freddy woed al 33 dae lank as ʼn tropiese sikloon sedert hy op 6 Februarie aan die Noord-Australiese kus as ʼn tropiese storm ontwikkel het.

Die huidige rekord word gehou deur die orkaan John, wat in 1994 31 dae lank as orkaan gewoed het, het die WMO gesê.

Freddy het van tyd tot tyd tot onder tropiese stormstatus verswak, soos toe hy die eerste keer oor Mosambiek en Zimbabwe beweeg het.

Sodra Freddy homself uitwoed, sal ʼn WMO- klimaatkundige komitee die data assesseer om te bepaal of ʼn nuwe rekord wel opgestel is, ʼn proses wat maande kan duur.

Freddy het die suidelike Indiese Oseaan oorgesteek en op 21 Februarie Madagaskar getref, die eiland oorgesteek voordat hy Mosambiek op 24 Februarie bereik en talle lewens in albei lande geëis het.

Freddy het oor Mosambiek en Zimbabwe beweeg, wat swaar reën en oorstromings meegebring het.

Die sikloon het daarna sy energie verloor, maar toe vandeesweek ʼn onverwagte draai gemaak en na die kus terugbeweeg, waar hy vog uit die warm water opgetel en sy krag herwin het.

Gevaarlike oplewing verwag

Freddy sal na verwagting op die laatste Saterdag deur die dag Mosambiek se noordelike provinsie Zambezia tref.

Die sikloon beweeg stadig, wat beteken dat hy naby die kus hou en meer vog optel. Die warmer water in die see kan ʼn toename in die storm se intensiteit veroorsaak.

“Daar kan baie verwoestende winde wees, swaar reën wat tot oorstromings kan lei – nie net in Mosambiek nie, maar ook noordoos van Zimbabwe, suidoos van Zambië en Malawi,” het Nullis gesê.

Die verwagte reënval word tussen 200 mm en 300 mm voorspel, maar dit kan meer as tussen 400 mm en 500 mm oor die grondgebied wees.

“Dit is meer as twee keer die gewone maandelikse reënval.”

Malawi kan ook “baie swaar neerslae en oorstromings” te wagte wees, het Nullis gesê.

Die laaste siklone wat die hele suidelike Indiese Oseaan oorgesteek het, was die tropiese siklone Leon-Eline en Hudah in 2000.

Die VN se Wêreldvoedselprogram het gesê hy het vooraf personeel en tegniese ondersteuning gereed gekry voordat Freddy Mosambiek tref. Die program probeer om 90 000 mense met voedselbystand te help en ʼn verdere 65 000 met finansiële hulp.

Freddy het na raming 226 000 mense in Madagaskar geraak, daarna 170 000 mense in Mosambiek voordat hy ʼn verdere 40 000 mense geraak het by sy terugkeer na Madagaskar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.