Sikloon Freddy kry tweede asem

(Foto: Twitter)

Vier mense, onder wie twee kinders, is Maandag dood toe die tropiese storm Freddy ’n tweede asem gekry en na Madagaskar teruggekeer het. Freddy het verlede week stoom as tropiese sikloon verloor.

Meteoroloë beskryf hierdie onverwagte draai as “’n rare verskynsel”.

Volgens meteoroloë se voorspellings gaan Freddy ook later vandeesweek weer Mosambiek tref.

Dit blyk in hierdie stadium asof Freddy die sikloon in die aangetekende geskiedenis van siklone in die Indiese Oseaan is wat die verste bly beweeg het; dit het 8 000 km oor drie weke beweeg en het groot skade aangerig.

Owerhede in Madagaskar het Maandag bevestig ’n eenjarige is dood toe ’n huis weens sterk winde en swaar reën ineengestort het nadat Freddy as tropiese storm die suidweste getref het.

Nog ’n kind van twee jaar oud is in ongespesifiseerde omstandighede dood. Twee vroue in hul 50’s is ook dood.

Altesaam 11 mense is in Madagaskar dood sedert Freddy die eerste keer aan die einde van Februarie toegeslaan het. Nog sewe is in Mosambiek dood toe die sikloon dié land getref het.

Volgens Rivo Randrianarison, hoofvoorspeller by Meteo Madagaskar, is hierdie onverwagte draai van Freddy uiters raar en is die laaste weerstelsel wat ’n soortgelyke pad gevolg het, in 1998 aangeteken.

“Freddy kan verdere reënval veroorsaak, wat dus verdere vloede, riviervloede en grondverskuiwings kan meebring,” het Randrianarison gesê.

Die aantal mense wat tot dusver in Madagaskar deur die sikloon geraak is, het tot meer as 15 000 toegeneem, met meer as 600 huise wat vernietig is.

Freddy het Maandagmiddag sowat 130 km suidwes van die suidwestelike kusstad Toliara gewoed, met windspoed van tot 125 km/h.

Daar word voorspel dat die sikloon sal versterk namate dit weer in Mosambiek se rigting beweeg.

Die storm het in die eerste week van Februarie langs die noordweste van Australië en suidelike Indonesië begin vorm en is later na ’n tropiese sikloon opgegradeer.

Die tropiese sikloon het twee weke gelede Mosambiek getref en die noordoostelike gebiede van Suid-Afrika het die uitwerking daarvan gevoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

TruthDealer ·

Miskien is Moeder Natuur nou net baie naby versadigingspunt met die “vlooie op haar rug”. Sy kan ons almal afskud soos n hond water afskud na n bad. Met al die mensdom se tegnologie en gesofistikeerde ontwikkeling..is ons nog maar steeds net vlooie op die rug van n baie groot, ongelooflik kragtige hond.

Witbaard ·

Hulle moet sy naam na Cyril venander. Hy rig ook groot skade aan n land aan

Danie ·

En voor 1990’s sou enige Meteoroloë gesê dit is onmoontlik. So iets gebeur nooit. Dit is net legende. Moenie met ons stry nie want ons is die kundiges.

Truman Burbank ·

Voor 1990’s was dit “onmoontlik”. Is tegnologie nie wonderlik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.