Sitrusvereniging verwelkom nuwe voorsitter

Gerrit van der Merwe het reeds op agtjarige ouderdom met vakansiewerk op sy pa se plaas begin, wat sy lewenslange passie vir die sitrusbedryf gevestig het. (Foto: Verskaf)

Gerrit van der Merwe, ʼn bekende naam in sitruskringe, het Maandag die leisels as voorsitter van die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika (CGA) oorgeneem. Hy sal vir die volgende twee jaar aan stuur van dié direksie dien.

Van der Merwe is die besturende direkteur van ALG Estates (ALG) en het vir die afgelope ses jaar hierdie pos beklee. ALG, wat in Citrusdal in die Wes-Kaap geleë is, bestaan ​​uit ʼn aantal sitrusplase met ʼn trotse geskiedenis.

Van der Merwe se familie boer al agt geslagte lank aan die bolope van die Olifantsriviervallei. Hy het reeds op agtjarige ouderdom met vakansiewerk op sy pa se plaas begin, wat sy lewenslange passie vir die sitrusbedryf gevestig het.

Nadat Van der Merwe sy studies in rekeningkunde aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het, het hy in die sitrusbedryf in die VSA gaan werk. Hy het in 2008 na Suid-Afrika teruggekeer om by die ALG-span aan te sluit.

Oor sy nuwe rol as voorsitter van CGA sê Van der Merwe hy streef om die vereniging in ʼn beter toestand te laat as wat dit aan hom toevertrou is.

“Nie net wat finansies en bates betref nie, maar ook die verbetering daarvan deur op die breër gemeenskap te fokus.

(Foto: Verskaf)

“Om deel te wees van ʼn familie-landbou-onderneming, het ek ʼn groot verantwoordelikheid van rentmeesterskap.”

Hy sê ʼn sitrusplaas – net soos die sitrusbedryf – bestaan ​​uit hardwerkende mense wat daarin glo om tot die Suid-Afrikaanse ekonomie by te dra.

“Een van my doelwitte is om sitrus meer gemeenskapsgesentreerd te maak en hopelik kan ek so ʼn verskil maak.”

Van der Merwe sê die gevoel van gemeenskap en eenheid is in Julie verlede jaar ten toon gestel toe die verwoestende vloede skade van byna R500 miljoen aan produsente in Citrusdal aangerig het. “Alle rolspelers het daarna bymekaargekom om te help herbou en na ʼn beter toekoms te streef.”

Die CGA-raad bestaan ​​uit 23 direkteure. Die direkteure verteenwoordig 15 verskillende produsentstreke, met twee direkteure wat opkomende boere in die suidelike en noordelike streke verteenwoordig. Die vereniging het ook ʼn direkteur van regeringsbetrekkinge en ʼn direkteur wat aan die hoof van die finansiële en risiko-hersieningskomitee staan.

Justin, uitvoerende hoof van CGA, het Van der Merwe met sy aanstelling as voorsitter gelukgewens.

“Hy bring nuwe energie en baie ervaring tot hierdie uiters noodsaaklike rol. Hy verstaan die besigheid van die sitrusbedryf deur en deur. Sy leierskap sal sonder twyfel waardeer word.”

Chadwick sê dit is egter ʼn kritieke en deurslaggewende tyd vir die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf.

“Die bedryf het ʼn paar jaar gelede groot beleggings in aanplantings gemaak en ons kan sien hoe oesgroottes dienooreenkomstig toeneem.

“Projeksies wys dat die bedryf binne die volgende agt jaar ʼn bykomende 100 miljoen 15 kg‑kartonne sitrus kan uitvoer indien alle rolspelers saamwerk. Dit kan 100 000 nuwe werkgeleenthede skep en miljarde aan buitelandse verdienste genereer.

“Maar daar is uitdagings wat dringend gepak moet word sodat ons hierdie doelwit kan bereik,” sê Chadwick.

Van der Merwe het swak logistiek en marktoegang as die twee uitdagings uitgelig wat hom veral bekommer.

“Ons spoornetwerk en hawens moet baie doeltreffender werk en onregverdige EU-handelsregulasies moet beveg word. Hierdie twee struikelblokke staan ​​in die bedryf se pad.

“As voorsitter het ek ʼn span toegewyde en talentvolle CGA-raadslede agter my. Ons is veral gefokus op maniere waarop ons met die regering kan saamwerk om seker te maak dat die bedryf doeltreffend kan funksioneer om inkomste te behou en selfs te verhoog.”

Die uittredende voorsitter, Hannes de Waal, van die Sondagsriviervallei in die Oos-Kaap, sal nou as een van die twee ondervoorsitters dien. Jan-Louis Pretorius, van Letsitele in Limpopo, sal as die ander ondervoorsitter dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Goldy ·

Waarom gaan dit so goed met hierdie organisasie? Omdat hulle egte regte boere aanstel wat weet waarvan hulle praat, nie geldskuiwers of wetsmense van beroep wat net weet van papierwerk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.