‘Skenk bloed’, pleit siek Kiara (18) se pa

Kiara Rossouw is ‘n kranige perderuiter ten spyte van haar stryd teen Fanconi se sindroom. (Foto: Verskaf)

“Ons het nie ʼn Back A Buddy-fonds of so iets waar mense vir ons kan geld skenk nie. Die enigste manier waarop mense werklik vir Kiara kan help, is deur gereeld bloed en plaatjies te skenk.”

Só sê Steph Rossouw, pa van die 18-jarige Fanconi se sindroom-lyer, Kiara Rossouw, wat in 2019 haar boetie aan die dood afgestaan het weens dieselfde siekte.

Keagan (11) het destyds die land se harte aangegryp nadat die minnesanger Manie Jackson hom oor dié seuntjie ontferm en sy storie met die land gedeel het.

Hy het reeds op agtjarige ouderdom diep in Suid-Afrikaanse gehore se harte gekruip toe hy in Desember 2016 saam met Manie die liedjie, “Die hemel weet”, opgeneem het. Die opname was deel van ʼn versameling van al Jackson se musiekvideo’s wat op ʼn DVD uitgereik is.

Die tantieme van hulle duet is gebruik om te help om Rossouw se mediese onkostes te dek. Hy het egter ʼn bakterie opgetel en is in die oggendure van 13 Desember 2019 oorlede.

Kiara saam met haar ouers, Steph en Chantel. (Foto: Verskaf)

Kiara hou egter steeds aan met veg teen dié resessiewe beenmurgsiekte, wat uiteindelik tot gevolg gaan hê dat die beenmurg nie meer funksioneer nie. Hoewel ʼn beenmurgoorplanting ʼn moontlikheid is, is daar te veel risiko’s daaraan verbonde aangesien Kiara ook ʼn diabeet is.

Die kans dat daar ʼn geskikte beenmurgskenker vir Kiara beskikbaar sal wees in Suid-Afrika, is ook uiters skraal.

“Kiara moet weekliks bloed- en plaatjieoortappings kry. Weens die aard van haar siekte kan sy nie regtig bloed ontvang wat ouer as drie dae is nie, en die afgelope ruk moes sy soms bloed kry wat tot sewe dae oud is.

“In haar geval kan sy nie enigsins sonder die bloedoortappings leef nie, so sy moet vat wat sy kan kry, al is daar ʼn groot risiko vir infeksies en allergieë.”

Kiara leef voluit ten spyte van haar siekte. (Foto: Verskaf)

Volgens Steph is daar soms doodeenvoudig geen bloed of plaatjies beskikbaar nie. “Dit is skrikwekkend dat ons soms sien hoe babas en ander siek kinders ook by die hospitaal weggewys word omdat daar nie bloed beskikbaar is nie.”

Hy sê hy is bewus van sommige mense wat redeneer dat hulle nie bloed gratis wil skenk nie, terwyl Steph en derduisende ander pasiënte vir die bloedoortappings moet betaal.

“Ek wil ʼn beroep op mense doen om nie daarin vas te kyk nie. Bloed- en plaatjieskenkings red kinders en ander mense se lewens. Dit is wat vir Kiara aan die gang hou.”

Nog iets wat die jong Kiara die afgelope ruk ʼn nuwe lus vir die lewe gegee het, is die vooruitsig van ʼn matriekafskeid wat haar tannie spesiaal vir haar reël.

Die spoggeleentheid vind op 10 Junie by Sun City plaas en sowat 30 van Kiara se naaste vriende en familielede gaan teenwoordig wees.

Sy is onlangs deur die gemeenskapsradiostasie, Groot FM, tydens die Jou Mense My Mense-program verras met ʼn besoek deur die gesogte ontwerper Thomas Thompson. Hy gaan vir haar die rok van haar drome maak.

Kiara is baie lief vir perdry. (Foto: Verskaf)

“Ons gaan groot met die reëlings,” sê Kiara opgewonde aan Maroela Media.

Hoewel Kiara self baie siek is, is sy baie bekommerd oor een van haar vriendinne wat geldelike ondersteuning nodig het om self ʼn dringende mediese prosedure te ondergaan.

“Dit is die tipe kind wat Kiara is. Sy is self baie siek, maar haar bekommernis lê by iemand anders,” sê Steph.

  • Volg die skakel na die Suid-Afrikaanse Bloeddiens se webwerf vir die naaste skenkingslokaal. Plaatjies kan ook deur die bloeddiens geskenk word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cecilia ·

More ek sal met graagte help as mens weet wat is Kiara se bloed groep wat sy benodig, want as sy nie bloed ouer as twee dae kan ontvang nie sal ek graag daar wil wees om te sien dat sy bloed onmiddelik ontvang as ek reg verstaan. want wat help dit mens schenk en dit gaan dan nie na Kaira toe nie, net n vraag??

Elizma ·

Cecilia, Dit is nie net Kiara wat bloed kort nie, dus as genoeg mense skenk, kan Kiara EN so baie ander kinders gehelp word om te lewe.

Cecilia ·

Hi Elizama, ek verstaan dis hoekom ek wel bloed skenk. wat my bekommer is Kaira vra vir hulp so op n manier kan mens haar dalk eerste help en dan kan die res van die bloed na ander kinders ook gaan wat hulp nodig het.. was maar net n direkte voorstel…

Sandra ·

Ek het ‘n skaars bloedgroep en het gereeld bloed geskenk, Ongelukkig het ek nou ‘n siekte wat my daarvan weerhou. Deur bloed te skenk, bly jy ook gesond aangesien jou liggaan gedurig dan nuwe bloed vervaardig. this knife cuts both ways.

Nettie ·

Delia, weet jy hoeveel van die mense wat hier kommentaar lewer is deur swart mense aangeval, beroof, verkrag of het familie wat vermoor of verkrag is deur swart mense?

Dan moet wit mense heeldag hoor hoe raswette ingestel word, hoe jou voorouers verkragters, moordernaars en diewe is, hoe ons nie hier hoort nie en moet terug Europa toe. Die haat en aanslag is fel. Toon simpatie met die mense wat dit nie meer kan hanteer nie.

Ons ander wat kan, skenk nog bloed vir almal.

Amee ·

Ek is B-neg en sal graag wil help as dit is wat Kiara nodig het en naby aan my is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.