Keagan Rossouw (11) sterf: ‘Hy was ʼn vegtertjie’

Keagan Rossouw was ‘n aanhanger van Afrikaanse musiek en het graag self gesing. Foto: Manie Jackson se Facebook-blad.

Medelye en huldeblyke stroom in vir die 11-jarige Keagan Rossouw (11) nadat hy in die vroeë oggendure oorlede is.

Die Afrikaanse minnesanger, Manie Jackson, het op sy Facebook-blad ʼn amptelike aankondiging oor Keagan se afsterwe gemaak.

Volgens Jackson het Keagan se pa hom reeds 04:20 Vrydagoggend geskakel om dié hartseer nuus te deel.

“My hart is stukkend om hierdie aankondiging te maak. Klein Keagan, my maatjie, is vanoggend oorlede. Ek het toestemming ontvang om dit bekend te maak. Baie sterkte aan sy ouers, sy sussie en ook die familie en vriende. Dankie my seun dat jy deel was van lewe,” lui Jackson se inskrywing op sy Facebook-blad.

“Ek het hom altyd my klein dapper soldaatjie genoem. Hy was ʼn regte klein go-getter en het selfs al sy eie kinderboekie geskryf. En dan het hy nog gesing ook!” het ʼn hartseer Jackson aan Maroela Media gesê.

Volgens hom het dié liefdevolle kind met oorgawe en vreugde gelewe te midde van die uitdagings wat Fanconi se sindroom in sy jong lewe veroorsaak het. Rossouw is sonder gehoorkanale gebore en het ʼn gehoortoestel op sy kop gedra wat hom in staat gestel het om te hoor en te kan sing.

Hy is sonder ʼn radius in sy een arm gebore wat daartoe gelei het dat sy arm baie krom was. Sy slukderm was ook aan sy longe gekoppel, wat veroorsaak het dat hy tot op vyfjarige ouderdom met ʼn voedingsbuis gevoer is. Hy was chronies op medikasie en het gereeld bloedoortappings ontvang.

Volgens Jackson het dokters Keagan se lewensverwagting tot op 12 jaar geskat, maar hy voel alles het steeds te vinnig gebeur. Keagan het vroeër vandeesmaand saam met Jackson in sy tuisdorp Rustenburg gesing.

“Ons het nog sy gunstelinge ‘Die hemel weet’ en ‘Donker hart’ gesing. Ons het altyd die oggend na my optredes in Rustenburg gaan brekfis eet en hy het nog ʼn hoenderkuikentjie vir my belowe wat hy grootgemaak het.”

Keagan het ʼn bakterie opgetel en is Donderdagaand van Rustenburg na ʼn hoësorgeenheid in Pretoria gehaas. Sy hartjie het egter vroeg vanoggend gaan staan.

“Keagan se pa het altyd gesê ek is sy ander pa en hy was my held. Sy pa het vanoggend saam met my gewonder wie gaan hom nou in die aand ʼn nagsoen gee.”

CO Productions het ook hulde aan Keagan Rossouw gebring en ‘n foto van hom saam met Robbie Wessels geplaas. Foto: Twitter.com

Dié klein vegtertjie het op agtjarige ouderdom diep in Suid-Afrikaanse gehore se harte gekruip toe hy in Desember 2016 saam met Jackson die liedjie “Die hemel weet” opgeneem het. Die opname was deel van ʼn versameling van al Jackson se musiekvideo’s wat op ʼn DVD uitgereik is.

Die tantieme van hulle duet is gebruik om te help om Rossouw se mediese koste te dek.

Nadat Jackson en Rossouw saam gesing het, het Adam Tas se vrou, wat gehelp het om die musiekvideo te vervaardig, vir Keagan gevra waar hy sy mooi stem gekry het. Hy met sy vinger na bo gewys en gesê van die Here af.

Keagan het gesing vandat hy drie jaar oud is en aanvanklik het hy net vir sy ouers, Stefan en Chantel, opgetree. Op vyfjarige ouderdom het hy begin optree en van sy gunstelingliedjies op feeste en by skole, kerke en ouetehuise gesing. Dit was dan ook dikwels Jackson se liedjies wat hy hier gesing het.

Volgens Jackson was daar nog planne dat Keagan volgende jaar, met sy gesin se toestemming en as sy gesondheid dit sou toelaat, saam met hom in die Kaap ʼn reeks optredes sou doen.

  • Die familie het nog nie enige begrafnisreëlings vir Keagan bekendgemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Elize de beer ·

My diepste simpatie gaan uit na Keagan se familie en Manie….Mag Jesus jul styf vas hou en troos…stefkte aan almal…

Hans ·

en was hy nie ‘n voorbeeld vir ons almal nie. Innige simpatie aan sy ouers, familie en friende.

Betsie Nieuwoudt ·

Elke keer as ek my no 1 liedtjie luister Die Hemel Weet gaan die trane vloei.
R.I.V KEAGAN jy was my super hero. Innige meegevoel aan familie. My hart huil beslis saam met julle

Sanché Vermaak ·

Liewe Keagan…jyt soveel vingerafdrukke en voetspore in menselewens nagelaat. Wens ek kon jou persoonlik ontmoet maar dit was my nie beskore. Manie Jackson en Stella het altyd oor jou gesels as hul by my gekuier het in Bloemfontein en ek dan gesê ek gaaaaannn jou nog eendag drukkie gee want jy is soooo inspirasie vir my. Wel God het anders besluit maar weet jy het groot afdrukke gelos in my lewe. Niks kan jou meer skei van God en weet ek Hy geniet dit nou datjy op Sy skoot sit en sing vir Hom. Geniet elke oomblik. Eendag sal ons ontmoet…nie nou maar eendag in die hiernamaals, dus groet ek tot ons ontmoet. Ons Innige simpatie aan Keagan se Ouers, familie en vriende…mag God jul trane droog met die Groot Troosdoek van Liefde, aanvaarding en berusting. Sterkte en mag God jul elkeen styf vashou in hierdie bitter seer tyd. Liefde. Vermaak en Strydom familie.

Jaco ·

Ek het nog die week na die you tube video gekyk waar Manie hom verras het. Hierdie is ongelooflik sad

Trudie Swanepoel ·

Sterkte aan die gesin en vriende. Maroela Media, dankie dat julle met ons die nuus deel. Mag ons Hemelse vader vir julle vertroos in hierdie hartseer en moeilike tyd. Wat ‘N Pragtige voorbeeld was hierdie seuntjie nie vir ons almal nie.

Chris Buitendach ·

Werklik besondere mens, simpatie aan sy gesin. Weet 1 ding: Die laaitjie het ons land ‘n beter plek gemaak vir baie mense, sy legacy sal vir altyd staan

HP ·

Die Here het een van sy kosbare blomme vroeg gepluk.
Sterkte aan die familie en vriende in hierdie moeilike tyd.

Anoniem ·

Jy laat sommer trane in my ook loop. Rus in vrede liefling kind. Jy sal gewis die blinkste sterretjie wees as ek opkyk sal omie jou daar sien.

Melanie ·

Die eerste keer toe ek hom sien optree het, het hy so diep in my hart gekruip en ek het seker vir 3 dae aaneen “die hemel weet” gesing… hy is nou veilig en gesond in Jesus se hande en al maak dit die seer en leemte nie beter nie, weet hy het nie meer seer nie… ek bid vir sy familie en vriende.. hy was n ware engeltjie

Rudi Labuschagne ·

n Skakel is uit die ketting gehaal die Ketting wat GOD voltooi het daarmee saam hartseer en verlange. Jy is nou n Ster in die Hemel

Sakkie ·

Een troos. Hy het voluit gelewe. Waar hy nou is is geen gebrek of pyn nie.
Sterkte vir almal wat deel van sy kort lewe was.

Helena ·

Hierdie klein seuntjie het met sy groot stem, groot plekke in harte ingeneem. Rus in Vrede prag hemel kind.

ANE ·

Jou aardse reis, is nou voltooi, liewe ou seuntjie! Baie sterkte aan sy familie+geliefdes… mag Hy, julle Krag Gee en Vertroos teen Sy Vaderbors.

Wilma ·

R I V grootman en sterkte aan Manie familie en almal wat hom geken en ondersteun het

George in Bloem ·

‘n Voorbeeld vir so baie van ons wat soms te gou wil opgee. RIV ou seun.

Denise ·

Ek ook ge ken jy het ook by Montana op ge tree en hy was baje naas ou ge wees mag hy in vrede leef mag jesus sy vamielie by staan as daar iets is wat ons mee kan help aseblief in boxs my Denise Van Niekerk is my Facebook naam en van

Gert Retire@Midstream ·

Soveel mooi in soveel mense. Prysenswaardig en navolgingswaardig. Leer hieruit almal

Ander Annie ·

Die Hemel juig! Mooiste Seun met die mooiste lewe! Hy het voluit gelewe. Rus sag liefste Keagan. Innige simpatie aan sy ouers en familie, sook Manie en almal wat vir Keagan so baie geteken het. Die Hemel weet van Keagan en Manie is een van my gunstelinge.

Ilse Strydom ·

In wese was hy net ‘n kindjie gewees wat met oorgawe geleef het. Hyt in sy kort lewe dieper spore gelaat en meer geleef as sommige mense. My hart is sommer seer en die trane loop. Ek kan nie sê arme kind nie. Hy het nie jammerte uitgebring in mense nie. Hyt ‘n gevoel van vreugde gedra en versprei. Hy was pragtig en sy nagedagtenis is een van lewe en geluk. Vir sy familie wil ek sê ek is jammer hy sal gemis word maar julle was geseën uit julle skoene om hom vir die kort tyd in julle lewe te kon hê. Vier sy lewe en mooiheid. Sy dood kan nie eers ‘n skadu gooi oor sy sonskyn persoonlikheid nie. Julle hartseer en gemis is vir julle en ek gun julle dit. Sterkte. Deur al die trane gaan sy wese julle bybly en die son gaan skyn oor almal van julle en julle gaan hom met liefde onthou.

Sandra Rochér ·

Kegan was ‘n dierbare Jesus kind wat almal wat die voorreg gehad het om hom te ontmoet, geïnspireer het. Jys nou veilig in Jesus se arms. Baie sterkte aan sy ouers en familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.