Skermtyd in pandemie vererger aandagafleibaarheid

(Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

Moderne tegnologie het dit vir ons moontlik gemaak om tydens die Covid-19-pandemie in die gemak van ons tuiste voort te gaan met alledaagse take, soos werk, onderrig en sosialisering.

Kenners meen egter die sowat 80%-toename in skermtyd het direk aanleiding gegee tot ʼn toename in simptome van aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS of ADHD, in Engels), soos ʼn gebrek aan fokus, swak konsentrasie en rusteloosheid onder volwassenes én kinders.

Aandaggebrek (ook bekend as aandagafleibaarheid) word gekenmerk deur ʼn aanhoudende patroon van onoplettendheid, hiperaktiwiteit en impulsiwiteit. Dit kan ontwikkeling en funksionering benadeel, en word dikwels verbind met gedrags-, kognitiewe en sosiale probleme.

AGHS is die algemeenste psigiatriese versteuring wat by kinders voorkom. Dit raak ongeveer een uit elke 20 kinders, van wie ongeveer 65% van hulle óók in volwassenheid daarmee saamleef. Ongeveer een miljoen volwassenes in Suid-Afrika word hierdeur geraak.

Renata Schoeman, psigiater, professor, lid van die Suid-Afrikaanse Gemeenskap van Psigiaters (SASOP) en sameroeper van die AGHS- spesiale belangegroep, sê dat studies in verskeie lande, waaronder China, Indië, Australië, Kanada, die VSA en die Verenigde Koninkryk, ʼn buitensporige toename in skermtyd gedurende die pandemie aandui, wat die verergering van aandagafleibaarheidsimptome onder gediagnoseerde asook ongediagnoseerde mense veroorsaak.

“Die oormatige tydbesteding aan elektroniese toestelle soos televisie, skootrekenaars, selfone of tablette verswak konsentrasie-, geheue- en leervermoë. Dit dra ook by tot slaapversteurings, vetsug, depressie en angs.”

Prof. Schoeman sê die afhanklikheid van tegnologie as resultaat van die uitdagings met Covid-19 is veral problematies vir kinders en volwassenes met AGHS.

(Foto: Jorge Fernandez/Unsplash)

“Kinders en volwassenes met ernstige AGHS-simptome, veral ondeurdagtheid, loop ʼn groter risiko om te veel tyd aan digitale skerms te bestee. Dit kan skadelike nagevolge hê, waaronder internetverslawing of problematiese gebruik van digitale en sosiale media.”

Hoewel aanlyn onderrig en die gebruik van tegnologie tydens die pandemie ook ʼn positiewe uitwerking op sommige kinders met AGHS het, is dit nie oral die geval nie.

“Sommige van hierdie kinders floreer in meer selfstandige en buigsame omgewings, sonder die daaglikse fisieke en sosiale spanning en afleidings wat in die skoolomgewing ondervind kan word.”

Sy vertel egter dat dit vir ander erg problematies was om aan die gebrek aan struktuur, ondersteuning en roetine gewoond te raak.

“Van die leerders het gesukkel om aan te pas by die isolasie wat Covid-19 meegebring het, asook die gebrek aan buitemuurse aktiwiteite, soos skoolsport.

“Skermtyd kan leerders in staat stel om sosiaal verbind en ingelig te bly, maar die impak van oormatige skermtyd op ʼn mens is onafwendbaar. Dit verswak konsentrasie-, geheue- en leervermoë en dra by tot slaapprobleme en wanbestuur van emosies.”

Tydens die Covid-19-pandemie het adolessente met AGHS en ouers van kinders met die sindroom wêreldwyd probleme met die handhawing van roetines en die bestuur van afstandsonderrig aangemeld.

(Foto: Niklas Hamann/Unsplash)

“Die klagtes het meestal verband gehou met verveeldheid, gebrek aan motivering, veranderinge in slaappatrone, asook ʼn styging in stresvlakke, angstigheid en depressiwiteit,” vertel prof. Schoeman.

“Hierdie simptome is veel erger by die AGHS-pasiënt wat aansienlik meer tyd aanlyn bestee het en minder tyd aan fisieke of buitemuurse aktiwiteite bestee het. ʼn Duidelike verskil in die impak is veral sigbaar by kinders wat in minderbevoorregte gebiede woon, of in gebiede waar tegnologiese hulpbronne nie maklik toeganklik is nie.

“Oormatige skermtyd stel ʼn groot risiko vir verslawing by AGHS-pasiënte, en dit is van sleutelbelang dat ouers meer gesonde alternatiewe in hierdie moeilike tyd ondersoek.”

Prof. Schoeman merk op dat daar terselfdertyd ʼn hewige toename in die aantal volwassenes is wat simptome van aandagafleibaarheid ervaar, en by ouers wat ʼn AGHS-assessering vir hul kinders versoek.

Sy verduidelik dat die skielike toename in ouers wat ʼn professionele AGHS-diagnose versoek, waarskynlik te wyte is aan die verandering om skielik van die huis af te werk en toesig te hou oor jou kind se aanlyn onderrig.

(Foto: John Schnobrich/Unsplash)

“Volwassenes wat van die huis af werk, terwyl hulle tussendeur toebroodjies moet maak en hul kind aanhoudend moet aanmoedig om skoolwerk te doen, het moontlik ekstra probleme met geheue, konsentrasie, organisasie en motivering tydens die pandemie opgedoen, wat gelei het tot ʼn toename in volwassenes wat ʼn professionele diagnose van en behandeling vir AGHS soek.”

In April vanjaar het ʼn tydskrif van die VSA, ADDitude, wat op die sindroom fokus, berig dat ʼn kwart van sy lesers eers die afgelope jaar met AGHS gediagnoseer is, en 26% van die lesers het gesê dat hul kinders in hierdie tyd amptelik daarmee gediagnoseer is.

“Die pandemie het dit vir sommige ouers die eerste keer moontlik gemaak om die gedragspatrone waarvan onderwysers en ander kundiges hulle voorheen oor gewaarsku het, eerstehands te ervaar.

“Hoewel daar nog nie spesifiek ondersoek ingestel is oor die toename van AGHS-diagnoses in Suid-Afrika tydens die Covid-19-pandemie nie, is daar talle lande wêreldwyd wat ʼn styging in AGHS-simptome gemeld het.”

Prof. Schoeman beklemtoon die noodsaaklikheid om ʼn gesondheidswerker soos ʼn pediater, psigiater of sielkundige te raadpleeg vir ʼn formele AGHS-diagnose, of om te bepaal of daar ander moontlike oorsake is wat bogenoemde simptome veroorsaak.

Dit is aanbevelenswaardig om elektroniese toestelle en televisies in leefvertrekke te hou, waar die gebruik daarvan deeglik gemoniteer kan word. Talle studies toon dat kinders met televisies, selfone en ander elektroniese toestelle in hul slaapkamers ʼn groter risiko loop vir gesondheidsprobleme soos vetsug, swak slaapgewoontes, depressie en dwelmmisbruik.

Wees bewus van die hoeveelheid tyd wat jy en jou kinders aanlyn of voor skerms deurbring en probeer dit beter bestuur. Prof. Schoeman stel voor dat skermtyd glad nie deel van etenstyd moet wees nie. “Skakel die televisie af tydens ete, geniet jou gesin se geselskap, en probeer om gesonde eetgewoontes aan te moedig.

(Foto: Vitolda Klein/Unsplash)

“Ouers met jonger kinders kan uit ʼn groot verskeidenheid digitale netwerke geskikte inhoud vir hul kinders kies, en dit dan saam met hulle geniet en moniteer. Belangrike boodskappe en morele waardes kan op hierdie wyse aan die kinders oorgedra word. Dit moedig hulle aan om hul eie vrae op te stel en dra opvoedkundige waarde oor aan die inhoud, deur middel van ouer-kind-wisselwerking,” sê sy.

“Studies toon dat die deeglike bestuur van skermtyd kinders motiveer om aan fisieke en buitemuurse aktiwiteite deel te neem, of om meer gereeld te lees. Dit is daarom baie belangrik dat ouers perke stel en daarby bly.”

Sy moedig ouers aan om ʼn gesonde voorbeeld vir hul kinders te stel: “Beperk die tyd wat jy voor enige digitale skerm deurbring, neem deel aan fisieke en buitemuurse aktiwiteite en lees gereeld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.