Skiettragedie by berugte uitkykpunt

Voëlklip. (Foto: John-George Gittins)

Nóg ʼn oënskynlike selfdood is gepleeg by die berugte Voëlklip-uitkykpunt naby Heroldsbaai. Dit het aan die lig gekom nadat verbygangers ʼn bejaarde paartjie met skietwonde op ʼn bankie by die uitkykpunt gewaar het.

Alvin Godfrey, ʼn Facebook-gebruiker, was een van die mense wat die liggaam van ʼn man Sondagmiddag hier aangetref het. Sy erg beseerde vrou was langs hom op die bankie.

Die polisie ondersoek nou ʼn saak van poging tot moord. ʼn Geregtelike doodsondersoek is ook begin.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê die paartjie – albei in hul laat 70’s – het skietwonde aan die kop opgedoen. Die vrou is in ʼn bedenklike toestand na ʼn hospitaal gehaas.

“Dit wil voorkom of die paartjie van hul huis in Heroldsbaai na een van die uitkykpunte gestap het. Een eggenoot het die ander geskiet voordat dié persoon hom- of haarself geskiet het. Ons kan nie in dié stadium bevestig wie eerste geskiet is nie.

“Geen verdere inligting is in dié stadium beskikbaar nie.”

Godfrey het Maandag aan Maroela Media gesê dat hy net ná die polisie en ambulansdienste by die toneel aangekom het.

Die slagoffers was toe nog op die bankie.

Hy het kort voordat hy op die toneel afgekom het ʼn video van die Voëlklip-omgewing geneem – juis omdat hy die natuurskoon van die omgewing wou uitbeeld wat oor die afgelope ruk berug geword het vir tragiese nuus weens ongelukke en beweerde selfmoorde.

Ek maak hierdie video en praat van die mooiheid van die omgewing en dat mens net gewoonlik slegte nuus van Voëlklip hoor. Die volgende oomblik kom ek op ʼn toneel af waar twee ou mensies hul lewe probeer neem het op ʼn bankie met ʼn uitsig oor die see.

“Die oom het dit ongelukkig nie gemaak nie en die tannie is nou hospitaal toe en leef nog. Baie hartseer om te sien,” het hy by dié video en foto’s van Voëlklip geskryf.

Posted by Alvin Godfrey on Sunday, April 3, 2022

 

Pojie sê die egpaar se name word op versoek deur hul naasbestaandes nie bekendgemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Misky ·

Hoe tragies en dis asof die mooi area net hartseer en bedroefde mense aanlok wat in beproewing gedompel is. Innige meegevoel met die naasbestaandes en die beseerde tannie.

Elize ·

So tragies maar ek oordeel nie want die oumense kry baie swaar in hierdie land.

Marlene ·

So hartseer as iemand nie ander uitweg kan sien nie! Sterkte aan dié wat agterbly

Marius ·

Die oumense se pensioene maak dit nie want die anc is maar te gretig om ‘n groot hap daaruit te vat met belasting en heffings. As jou geld op is waarvan moet jy lewe ?

Byekonfyt ·

Sjoe, dis erg. Mens kan verstaan waarom dit n berugte plek genoem word. Hoe gemaak om van die stigma ontslae te raak?

LIEZL ·

Bid bid bid en seël die plek af met die naam van ons Vader en Heilige gees. En glo en vertrou dat dit omgekeer kan word

Koen ·

God wil hê dat baie mense bid en offergawes gee. Dis al wat gaan help. Ek is besig om te reël. Sal banknommer gee.

Hannelie ·

Ek kan net dink hoe hartseer moet dit vir hul kinders en naasbestaandes moet wees. Dis iemand se pa en ma.

Swerwer ·

Hartseer verby. Wat sal 2 mensies daartoe dryf om sover te gaan. Dit is absoluut traumaties.
Innige simpatie en meegevoel met die familie en naasbestaandes van die bejaarde paartjie.

Moedeloos ·

Trots. Kon seker nie meer kop bo water hou met alles wat so duur is nie en wou nie hul kinders met hul probleme belas het nie. Ek kan my nie indink hoe hierdie kinders/naasbestaandes moet voel nie. Ek huil saam met hulle oor hierdie tragedie

JohanR ·

Lyk asof die plek nou die plek geword het om jou eie lewe te neem?

Impact ·

Dit is ongelooflik hartseer dat soveel tragedies aan die pragtige plek gekoppel word. Siestog, die arme mensies trek almal swaar – wie weet hulle daartoe kon gedryf het. Soms voel mens net asof daar nie ‘n uitweg is nie, en is jy skaam om enige hulp te vra want mense veroordeel mos deesdae makliker as om mense te probeer help. ANC help mos nie ons mense nie, nie eens hulle eie nie, net hulleself en hulle maatjies wat hulle in posisies plaas.

Casper ·

Liewe hemel mense,wat is daar aan die plek wat soveel hartseer al veroorsaak het.Tenslyte van wat in ons land aangaan is die lewe nog ‘n lied.Wat moet verkeerd gaan dat mense nie meer wil aangaan met die lewe nie.Ek was ook op die punt om dit aan myself te doen.God het die oomblik toe ek dit wou doen my broer aangesê om my te bel.Na 3 sessies by ‘n sielkundige 23 jaar gelede is ek nog net so gelukkig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.