Skoleondersteuning­sentrum wil só uitdagings in Afrikaanse onderwys pak

Toekomsberaad-Danie-Brink

Dr. Danie Brink is nou die besturende direkteur van die Skoleondersteuningsentrum. Brink het met Maroela Media gesels oor die sentrum se toekomsplanne vir Afrikaanse onderwys. Foto: Reint Dykema.

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) is vroeër in Augustus as ʼn onafhanklike instelling van die Solidariteit Beweging bekendgestel met die missie om een van die rolspelers te wees wat die toekoms van Afrikaanse onderwys te help verseker.

Volgens dr. Danie Brink, die besturende direkteur van die SOS, wil die organisasie openbare skole ondersteun om uitnemend te wees, maar sal die organisasie ook hulp aan ander vennote verleen om ʼn volledige private Afrikaanse onderwysaanbod te ontwikkel.

Die sentrum fokus juis op skaars vakrigtings soos wiskunde, wetenskap en rekeningkunde, terwyl dit ook gehalte-onderrig in die vak Afrikaans en die grondslagfase wil ondersteun en uitbrei.

“Die SOS het vir die afgelope ses jaar binne Solidariteit Helpende Hand gefunksioneer as ʼn gedeelte van die organisasie se werk om armoede te voorkom deur in skole en hulle onderwysers te belê.

“Uitdagings op die Afrikaanse onderwysfront is nou so groot dat dit ʼn aparte nuwe organisasie geregverdig het.

“Ons kan nou fokus op die professionele ontwikkeling van onderwysers. Daarmee saam ontwikkel ons ook nuwe tegnologiese oplossings vir onderwys in die vorm van die Wolkskool. Dit skep die geleentheid vir Helpende Hand om die organisasie op die maatskaplike uitdagings van die land toe te spits,” sê Brink.

Brink se passie vir die onderwys strek al oor ʼn lang tyd. “Ek was self ʼn onderwyser vir 17 jaar. ʼn Gedeelte daarvan was ek ʼn wiskundeonderwyser en later ook ʼn skoolhoof. Onderwys is maar in my bloed en dit is hoekom dit nou weer vir my lekker is om te kan fokus op onderwyssake.

“Ek het ook ʼn belangstelling in die professionele ontwikkeling van onderwysers. Kyk, as ʼn mens ʼn onderwyser aanvanklik goed oplei, is dit uitstekend, maar as jy kan voortgaan om hulle verder in hulle loopbane te ontwikkel, dan kry jy eintlik ʼn vermenigvuldigingseffek. Jy bekwaam dalk een onderwyser, maar hulle gaan verder en gee elke dag vir 150 of 200 kinders klas. Dit is die soort opbrengs wat jy kry as jy in ʼn onderwyser se opleiding belê.”

Die SOS het juis in Junie ʼn onderwyskongres in Gauteng en die Wes-Kaap aangebied waar ongeveer 800 onderwysers opgelei is met nuwe wenke vir onderwys in die grondslagfase, wiskunde, Afrikaans, wetenskap en rekeningkunde vir al die fases van skoolopleiding.

“Dít was die grootste kongres van sy soort en ons het uitstekende terugvoer oor die kongresse gekry,” spog Brink.

Hy sê hoewel die uitdagings vir Afrikaanse onderwys groot is, is dit ook nog op talle plekke steeds rooskleurig. “Dit voel soms ons maak ʼn fout as ons sê ons wil dié toekoms verseker, maar daarom is dit die SOS se missie om dit wat reeds in Afrikaanse onderrig bestaan en van wêreldgehalte is, in stand te hou.

“Dit is ook so dat daar talle nuwe uitdagings in onderwys is en daarom wil ons nuwe oplossings bied. Dit is hoekom ons kyk, dink en droom oor nuwe Afrikaanse private skole.”

In die nabye toekoms is die SOS reeds besig om die Wolkskool te ontwikkel. Volgens Brink benut die Wolkskool tegnologie om bestaande Afrikaanse onderwys te herbedink sodat dit “nog meer en beter uitkomste kan lewer”.

“Baie van ons Afrikaanse kinders is in skole van wêreldgehalte, maar tegnologie kan help dat hierdie kinders selfs beter voorbereid is en leer nog beter kan plaasvind.

“Die Wolkskool kan gehalte-onderwys na die uithoeke van ons land neem, veral daar waar verstedeliking dalk ʼn probleem is. Solank daar internet is, kan die Wolkskool goeie opleiding aan Afrikaanse kinders bied.”

Brink sê die SOS wil help om ʼn gesonde Afrikaanse onderwyspyplyn van kleuterskool tot tersiêre onderrig teen 2030 te skep.

“As ons Afrikaanse onderrig van gehalte vir Afrikaanse kinders in elkeen van hierdie fases kan verskaf, is die toekoms van Afrikaans beslis rooskleurig. Tog is dit ook so dat as een van hierdie komponente in die onderrigpyplyn ontbreek, skakel mense noodgedwonge oor na Engels as die onderrigmedium.

“Dink maar byvoorbeeld as daar nie Afrikaanse tersiêre opsies is soos wat ons dink en doen met Akademia nie, dan verval die nut van Afrikaanse hoërskole. As daar nie meer Afrikaanse hoërskole is nie, dan verval die nut van Afrikaanse laerskole.”

Brink meen daar is ʼn netwerk van organisasies wat na hierdie pyplyn wil omsien en dit wil ondersteun. Juis dít maak die toekoms van Afrikaanse onderwys blink.

  • Besoek gerus Skoleondersteuningsentrum.co.za vir meer inligting. Die SOS stel ook binnekort die webwerf, Wolkskool.co.za, weer bekend met ʼn nuwe baadjie en opgraderings. Volgens Brink sal dit eersdaags dié plek wees waar leerders en onderwysers gehalte-opleiding in Afrikaans kan kry.
  • Dr. Danie Brink, die besturende direkteur van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), het onlangs in Maroela Media se ateljee met Esté Meyer Jansen gesels oor die nuwe onafhanklike instelling van die Solidariteit Beweging se toekomsplanne. Luister na dié gesprek boaan hierdie berig. Brink verduidelik waar die organisasie in die groter Suid-Afrikaanse onderwysprentjie inpas en hoe die SOS wil help om die toekoms van Afrikaanse gehalte-onderwys te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ouma van 6 ·

Ek kan nie verstaan hoekom die regering nie by Namibia gaan kers opsteek oor hoe hulle afrikaanse skole werk nie. Dit word deur die staat ondersteun want ongelukig kan nie alle afrikaans sprekende ouers privaat skole bekostig nie. So die idee van Solidariteit is goed maar ongelukkig nie haalbaar vir arm afrikaners nie. my kinders val ook onder hierdie groep en my kleinkinders sal nooit die binnekant van daai skole sien nie.

Disselboom ·

Die berig klink goed en gee moed, maar by ‘n tweede en ‘n derde keer se lees voel dit tog of daar iets kort: substansie. Dis vaag – toegegee, onderwys is ‘n begrip met heelwat abstraktheid, maar daar is geen aanduiding van waar en wanneer die volgende onafhanklike, akademies-vrye Afrikaanse skool gebou gaan word nie. Wolkskool is moontlik goeie bydrae, maar dit vervang nie die noodsaaklike skoolwees in sy kultuurvorming nie. Kennis en tegniek kan op baie maniere geleer word, menswees word geleer deur saamwees.

Johan Neuteman ·

Is dit nie moontlik dat SOS en die BCVO kan hande vat vir Christelik-Afrikaanse onderwys, en sommer AROS en Akademia en die ICO ook, soos wat Afriforum en TLU en Sakeliga oor die grondsake doen nie? Daar is mos CVO-skole, en skole van die ICO (as ek die internetsoektog se inligting gebruik) wat reeds die fisiese skolestrukture aan die gang het, en dan kan SOS ondersteun en help en daar saamgestaan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.