Skoolbustragedie: ‘Ons bid vir krag, kalmte, liefde’  

Ses leerders van die Riebeeckstad Hoërskool in die Vrystaat het in die ongeluk gesterf. (Foto: Facebook / Paramedics, SAPS and Firefighters South Africa)

Die LUR van onderwys in die Vrystaat sal Riebeeckstad Hoërskool vandag [Woensdag] saam met lede van die provinsiale onderwysdepartement en beraders besoek nadat ʼn busongeluk Dinsdag die lewe van ses leerders van dié skool geëis het.

Die ongeluk het op die R70 Ventersburg-Senekal-pad sowat 30 km buite Ventersburg plaasgevind. Verskeie ander leerders is in die voorval beseer.

“Ons bid vir krag, kalmte en die liefde van God oor ons skool, gemeenskap en almal wat betrokke is,” het die skool Woensdag op sy Facebook-blad gesê.

Maroela Media het vroeër berig die leerders was van ʼn sportgeleentheid naby Rosendal op pad terug huis toe, toe die bus waarin in hulle gery het omgeslaan het.

Ses leerders van die Riebeeckstad Hoërskool in die Vrystaat het in die ongeluk gesterf. (Foto: Facebook / Paramedics, SAPS and Firefighters South Africa)

Luidens die verklaring van die premierskantoor was 58 meisies betrokke, terwyl ʼn verklaring van die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, dié syfer op 43 plaas.

Ses leerders is op die toneel dood verklaar en vier is ernstig beseer. Meer as 40 ander kinders het ligte tot matige beserings opgedoen.

Volgens die departement van basiese onderwys het ʼn wiel van die bus glo “losgekom” waarna die bestuurder beheer daaroor verloor en dit omgeslaan het. Na verneem word, het een van die bus se bande glo gebars.

Jan van Niekerk, leier van die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat, het die party se meegevoel Woensdag met ouers, leerders en onderwysers van die skool betuig.

Ses leerders van die Riebeeckstad Hoërskool in die Vrystaat het in die ongeluk gesterf. (Foto: Facebook)

Hy het egter sy misnoeë uitgespreek oor die toestand van paaie in dié provinsie, hoewel dit nie bekend is of die toestand van die betrokke pad wel tot die ongeluk bygedra het nie.

“Hierdie is nie die eerste busongeluk wat in die onlangse verlede lewens in die Vrystaat geëis het nie.”

“Die VF Plus het die Vrystaatse regering voorheen gevra om die pad tussen Warden en Vrede te herstel ná die dood van ʼn onderwyser in 2021.

“Hoewel dit nie duidelik is of die pad waarop die bus gereis het ten tyde van die ongeluk ʼn bydrae gelewer het nie, berus daar ʼn verantwoordelikheid op die provinsiale regering om toe te sien dat die toestand van paaie nie tot onnodige lewensverlies bydra nie.”

Die party sê hy sal ondersteuning bied aan die betrokke families, leerlinge en onderwysers.

“Hierdie gebeurtenis is hartverskeurend en die VF Plus bid almal betrokke die vrede van Christus toe.”

Die ANC in die Vrystaat het intussen ook aangedui dat lede van dié party die skool en later ook die geraakte families sal besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Willem ·

Ons harte en gebede gaan uit na die mense
Daar is net een probleem die premier en minister stem nie ooreen met die getal nie

Arno ·

Dit is baie baie sad. Persoon verantwoordelik vir onderhoud van die bus moet aangekla word. Duidelik uit die fotos dat die bande nie gebars het nie maar dat die wiele wel afgekom het.

Pieterbusa ·

Dis ‘n hartseer tragedie wat vermy kon gewees het. Die wiele kom letterlik af oral in ons land.

ProPatria ·

Waar is Ramaphala en Motshega?
Hierdie is n nasionale ramp.
Hopelik skenk die regering ook fondse om almal kondig by te staan…….

Victor ·

Ons het hierdie naweek daardie selfde pad gery.
Ek kan getuig, die toestand van daardie pad is absoluut haglik.
Dit is ‘n doodsvonnis om daar te bestuur.
Die hele pad bestaan net uit slaggate en slote.
Die departement van paaie behoort direk vir hierdie tragedie aanspreeklik gehou te word.

Victor ·

@Arno

Dit is seker moontlik dat swak instandhouding ‘n rol gespeel het.
Maar, ek kan uit onlangse ervaring op daardie pad getuig dat enige voertuig daar onklaar kan raak.
Daardie slaggate en slote is so erg dat ek nie verbaas sal wees as dit ‘n voertuig se wiel af ruk nie.

daarsdit ·

Ons het self in 2022 2x bande as gevolg van slaggate verloor, mens kan nie almal vermy nie al wil mens. Van daaraf ry ons Kroonstad om. Ek wonder nog heeltyd hoekom die bus so slegte pad gery het.

Danie ·

RIV.
Het Google Maps gebruik om na die pad tussen Senekal en Ventersburg te kyk. Op die 10m aansig is die slaggate in die pad duidelik sigbaar. Die lug foto is in die afgelope maand bygewerk.

Arno ·

@Victor seker so ja maar jy kan die wheel studs duidelik sien, glad nie af nie. Daai wiele het losgekom. Agter wiel wat gebars het sou n ander en beter uitkoms gehad het, maar hier het die wiele virseker afgekom en was nie vas nie…..

hpven ·

@ Arno en Victor; Ek stem saam Arno. Victor, ek ry daagliks sulke paaie en kan nie anders as as met jou saam te stem insake lewensgevaarlike padtoestande. Ons begin al sulke teerpaaie vermy deur grondpaaie te ry waar moontlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.