Skoolgeld groot kopseer vir skole, ouers

Al hoe meer ouers trek noustrop en sukkel om skoolgeld by te hou. (Argieffoto: Maroela Media)

Talle skole trek noustrop terwyl ouers al hoe meer eerder terugbetalings aan hul huislenings of skuld probeer byhou – eerder as om skoolgeld te betaal. En terwyl skole volgende week heropen, sal ouers opnuut hul sente moet omdraai om dié geld te probeer bybring.

Suid-Afrika se werkloosheidskoers staan in hierdie stadium op 34,4%, met die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkingsmaatreëls wat al hoe meer mense onder finansiële druk plaas. By openbare skole het ouers die opsie om aansoek te doen om volle of gedeeltelike kwytskelding van skoolgeld. Dit is egter nie ʼn opsie by private skole nie, wat die basiese kontrak weens nie-betaling kan opskort – maar ook eers aan die einde van die jaar.

Michelle Dickens, uitvoerende hoof van TPN Credit Bureau, sê die betaling van skoolgeld is siklies van aard, met die vierde kwartaal van die jaar se skoolgeld wat gewoonlik die meeste betaal word. Dit kan toegeskryf word aan die feit dat sommige skole rapporte weerhou tot skoolgeld betaal is, sê Dickens, óf omdat ouers bonusse ontvang en die ekstra geld gebruik om uitstaande skoolgeld te betaal.

“Die Covid-19-pandemie en gevolglike inperkingstye het gelei tot ʼn groter persentasie van ouers wat nie skoolgeld ten volle vereffen nie. Gegewe dat skole op hierdie inkomste staatmaak om hul bedryfskoste te dek, sukkel hulle al hoe meer om hul geldelike verpligtinge na te kom,” sê Dickens.

Altesame 66% van openbare skole en 65% van private skole moes sedert die aanvang van die pandemie hul begrotings besnoei. Slegs 23% van openbare skole en net 26% van private skole kon hul begrotings bestuur met die skoolgeld wat hul ingesamel het, terwyl 11% van openbare en 9% van private skole gedwing is om hul reserwes te gebruik om uitgawes te betaal.

Van dié skole wat gedwing is om op hul salarisrekening te besnoei, het 38% van private skole van permanente onderwysers ontslae geraak. Openbare skole het aan die ander kant geen afleggings van permanente onderwysers gedoen nie omdat die departement van onderwys – dus die staat – die salarisrekening dek, sê Dickens.

Altesame 23% van private skole het administratiewe personeel afgelê en 22% het terreinopsigters verminder. Slegs 13% van openbare skole het administratiewe personeel verminder. Openbare skole het egter veel meer afleggings van terreinopsigters (38%), tydelike onderwysers (25%) en afrigters (13%) gedoen, het die maatskappy se navorsing bevind.

“In die geheel het die meeste skole nie onderwysposte verminder nie, maar hulle het salarisse gesny,” sê Dickens oor die maatskappy se navorsing.

Sy sê anders as ondernemings in ander bedrywe wat slim planne beraam het om slegte skuld in te vorder, het skole nog nie nuwe maniere gevind om slegte skuld te verminder nie en gaan hulle voort om skuld in te vorder op verouderde insamelingsmetodes.

Voor die pandemie het slegte skuld miljoene mense reeds hoofbrekens besorg en dit is ʼn situasie wat sedert Maart 2020 net vererger het. Voor die pandemie kon tot ʼn driekwart van ouers skoolgeld vereffen, terwyl net 45% van ouers dit sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie kon doen.

“Ouers het verlede jaar baie swaar gekry en het behuising, kruideniersware, vervoer en gesondheid eerder as die betaling van skoolgeld geprioritiseer,” sê Dickens.

Wanbetalers verhoog druk

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê skole wat goed bestuur word, bestuur gewoonlik ook hul skuldinvorderingsprosesse goed. Nie alle skole kies om ouers wat nie betaal nie te laat swartlys en in sommige gevalle gaan ouers afbetalingsooreenkomste met die skool aan.

“Wat dit wél is, is ʼn krisis,” sê Deacon oor die betaling van skoolgeld.

Hy sê sommige ouers prioritiseer die betaling van luukses soos uiteet of satelliet-TV.

“Jy misbruik die stelsel as jy kan betaal en dit nie doen nie. Die staat gaan nie vir die geld instaan nie, wat beteken ander ouers moet die las dra,” sê Deacon.

“In Suid-Afrika het ons nie iets soos gratis onderrig nie. Iemand betaal altyd die rekening, selfs in skole waar geen skoolgeld gehef word nie.”

Volgens hom het Suid-Afrika sowat 23 000 openbare skole, waarvan net 3 081 skoolgeld hef. Die staat se bydrae tot dié skole is minimaal. Kwintiel 5-skole – skole met die meeste hulpbronne – ontvang byvoorbeeld net R240 per kind per jaar om die skool te bedryf. Dit is sowat R1 per skooldag.

“As daardie skool se ouers nie skoolgeld betaal nie, is daar nie geld om die skool te bedryf nie,” sê Deacon.

Skole moet dus die grootste gedeelte van hul inkomste op ander maniere – as deur finansiering deur die staat – bekom.

Deacon sê wanneer ouers wat kan, dus nie hul skoolgeld betaal nie, word nie net jou kredietrekord negatief geraak nie, jy verplig ook ander ouers om meer op te dok.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), stem saam dat invorderings by skole toenemend moeiliker word. Boonop doen al hoe meer ouers aansoek om kwytskelding van skoolgeld.

“Dit beteken daar rus ʼn al hoe groter premie op ouers wat betaal.”

Sy sê ʼn skool kan nie weier om kwytskelding te gee aan ouers wat aan die kriteria voldoen nie, maar dat die departement van onderwys in sulke gevalle bitter selde ekstra vergoeding gee. Dit is boonop ʼn omslagtige proses vir skole om bykomende geld weens ʼn kwytskelding van die onderwysdepartement te probeer verhaal. Die departement wil ook nie meer toestemming gee vir skole om van kwintiel te verander nie.

Buys sê ook die bydrae wat die departement lewer, is vir sommige skole weglaatbaar klein en die grootste bydrae is die salarisrekening van onderwysers in departementele poste. Die meeste Afrikaanse skole het egter meer beheerliggaamposte as departementele poste.

Soms doen ouers boonop glad nie aansoek om kwytskelding nie, maar hou bloot op om die skoolgeld te vereffen.

“Skole kry regtig finansieel swaar oor kwytskeldings en wanbetaling. En sonder ordentlike opleiding kan jy nie uit die armoede-vangnet kom nie. Onderwys is dié manier om die negatiewe spiraal van armoede op te hef. Dit is hoekom gehalteonderrig so belangrik is.”

Sy sê ook die situasie is ʼn enorme krisis vir die meeste skole.

“ʼn Mens doen ʼn beroep op ouers om hul skoolgeld te prioritiseer. Die verantwoordelikheid berus by die ouers en die skoolgemeenskap om te verseker dat die skool funksioneel is.

Dis SOS probeer al jare dat skoolgeldvrystellings billik deur die staat vergoed word.

“Die staat is verplig om skole vir statutêr verpligte kwytskelding van skoolgeld, te vergoed. Kwintiel 5-skole ontvang in 2020 ʼn jaarlikse toewysing van R266 per leerder van die staat, terwyl geen-geld-skole (kwintiel 1 tot 3), ʼn toelaag van R 1536 per leerder ontvang.

“Die minimum vergoeding vir leerders wat van skoolgeld kwytgeskeld word, moet dus minstens die verskil opmaak,” sê Buys.

Invorderingsplanne

TPN Credit Bureau sê dit is belangrik dat skole die risikoprofiel van ouers begryp om hul begrotings beter te bestuur en slegte skuld te verminder. Die maatskappy het gevolglik ʼn stelsel spesifiek vir skole ontwikkel waarmee ouers se kredietwaardigheid nagegaan kan word en hul in die kredietburo-omgewing in te trek.

Die stelsel werk deur data in te samel oor ouers om ʼn ontleding van hul betalingspatrone te doen.

“Ouers kry elke maand ʼn SMS van die kredietburo om hul te bedank wanneer die skoolgeld betaal is en om hulle in kennis te stel van die uitwerking daarvan op hul kredietprofiel. Dit is ʼn kragtige instrument om beter betalingsgedrag aan te moedig en laat ouers toe om hul kredietgradering te verbeter bloot deur die skoolgeld betyds en ten volle te vereffen,” sê Dickens.

Volgens haar het een van die skole wat reeds van die stelsel gebruik maak, tot dusver R1,3 miljoen se slegte skuld ingevorder.

“Dit dui daarop dat skole nie slegte skuld as ʼn permanente item op hul finansiële state hoef te aanvaar nie en beter betalingsgedrag teweeg kan bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Perdeby ·

Om ‘n kind te straf om sy rapport terug te hou, is bitter onregverdig teen oor die kind , sou hulle dit met een van my kinders gedoen, kon hulle die rapport gehou het, en ek ek sou my kind uit die skool gehaal het. Dit is baie duidelik dat mense soos Michelle Dickens, uitvoerende hoof van TPN Credit Bureau wel altyd die fondse het om vir haar kindesr te betaal. Daar is mense daar buite wat dit nie breed het nie,en liewers vir ‘n dak oor hulle kinders se koppe sal betaal, en kos in hulle magies. Dit is hoekom daar baie ouers is wat nie hulle kinders terug stuur skool toe , maar dan is die Dept van Onderwys bekommerd oor so baie kinders wat nie terug koms skool toe nie.

Erik ·

So jy dink die onderwysers moet jou kinders gratis onderrig? En dit is reg? Ek noem net, dit is onwettig vir ‘n skool om ‘n rapport te weerhou, al is skoolgeld nie betaal nie .

Erik ·

Skoolgeld is veronderstel om priotriteit vir ouers te wees. Dis ‘n manier om te wys watter tipe ouer jy is en wat vir jou belangrik is. Ek ken ouers wat met duur motors skool toe ry en neerkyk op die ‘arm’ onderwysers, maar wat meer as R90 000 skuld op hul kinders se skoolgeld.

Di ·

Ja veral die wat in groot poste sit en aangestel is deur ANC kaders. Hulle glo mos hulle moet alles verniet kry

Politikus ·

Erik jy het ‘n punt beet wat vermoeënde kansvatters aanbetref, maar daar is werklik ouers wat swaar kry en liefs hul huishuur betaal en kos koop vir hul gesin voordat hulle skoolgeld betaal. As ‘n kind nie snags ‘n dak oor haar kop en kos in haar maag het nie, gaan sy nie kan leer en ‘n sukses van haar skoolloopbaan maak nie. Sulke ouers moet prioritiseer en skoolgeld is ‘n laer prioriteit as skuiling en voedsel.

Erik ·

Politikus, ek stem saam met wat jy sê. Maar offer eers jou DStv of seevakansie op voor jy nie jou kind se skoolgeld betaal nie. Ouers wat nie kos kan bekostig nie, kan aansoek doen tot kwytskelding, selfs as is dit ‘n gegoede skool.

Norries ·

Ek sien dit daagliks, ouers kry 13de tjeks en betaal geen skoolfonds. En is duisende agterstallig. Ek werk by n privaat skool, dit is om van te braak. Hulle het geen skaamte.

Johan ·

Dit is wat gebeur as mense so bang is dat hul dink ekonomie is nie belangrik nie. Laat die covid soustrein reiers die skade probeer betaal….o ja, hulle kan ook nie want die ekonomie is verniet vernietig.

Anel ·

En dan stel die departement “assistente” aan en eweskielik moet die skole hulle betaal. Mense wat baie skole nie nodig het nie en wat op hulle afgedwing is. Nou waar moet die geld vandaan kom? Hoekom moet skole wat alreeds swaar trek nog ‘n bykomend belas word met iets wat onnodig is, maar deur die regering afgedwing word. Dit is die regering se baba. Sorg vir hulle. Maar daar is mos nooit geld nie. Wil net hê en hê en hê maar dink nie wie moet sorg nie. Alles bee. Maar die teen wie gediskrimineer word moet uit gebuit word. Nou moet ouers wat klaar swaar kry sorg vir iets onnodig en waarvoor hulle nie gevra het nie. Geld vir dalk nog ‘n onderwyser of nodig toerusting moet nou vermors word. Geen wonder ouers sukkel met die skoolgeld nie. En ek is seker ouers wat nie alles kan bybring nie sal bereid wees om met instandhouding en ander te help, soos by CVO skole om sodoende hul deel af te koop.

Erik ·

Die assistente word nie deur skole betaal nie, maar deur die onderwysdepartement wat die bedrag oorbetaal aan skole wat dan die assistente betaal.

Ek stem wel saam, assistente is heeltemal onnodig en kom met risiko’s.

Anel ·

Ek het wel nou die dag gelees van plekke wasr die departement nie geld het nie en die skole dwing om die assistente uit die skole se fondse te betaal. Geld wat daardie skole nie het nie of vir begroot het nie en wat dan onwettige uitgawes is.

Erik ·

Anel, daar was sulke gevalle. In daai geval, stem ek heeltemal saam met jou. Dit is egter nie die norm nie.

Perdeby ·

MAW wat sy ook noem is dat indien jy op ITC gelys is jy nie jou kind in ‘n skool kan sit nie, maw hulle ontneem kinders om geskool te word. ONGRONDWETLIK!!!!!!

Alfred E Neuman ·

Maak toe die krediet buros. Dis n gruwelike euwel wat met hand en tand beveg moet word. Dit is verdere en aanhoudende uitbuiting van die armes deur die rykes.

Pierre ·

Maar jy kan verniet na-skools gaan studeer!! I don’t get it?

Erik ·

Wie kan verniet studeer na skool en waar? Behalwe met ‘n beurs miskien, wat maar ook nie eintlik verniet is nie.

Erik ·

Ek wil net bysê, ouers kan aansoek doen om kwytskelding van skoolfooie indien hul inkomste onder ‘n sekere bedrag is. Wat my vurig maak, is ouers wat nie skoolgelde betaal nie, maar duur motors ry en DStv het. Indien jou priotriteite reg was, sou jy eerder jou DStv kanselleer en ‘n goedkoper kar koop alvorens jy nie skoolgelde betaal nie. Hierdie ouers is ook gewoonlik die wat die meeste kla en kritiek lewer oor ‘n skool.

Nettie ·

In sekere Karoo dorpies gaan kinders gratis skooltoe Hoërskool en Laerskool leetders. Hulle betaal geen skoolfonds nie. Maar gaan kyk hoe trek die matrieks aan met die matriek afskeid.

Politikus ·

Slegs diegene wat finansieël swaar trek verstaan werklik die pynlike werklikheid en dinamika agter hierdie onderwerp. Diegene wat skryf en kommentaar lewer vanuit ‘n posisie van relatiewe finansiële bevoorregting moet liefs stilbly want hulle weet nie waarvan hulle praat nie.

Johann ·

Hoekom Skoolgeld betaal Ons betaal tog belasting Groot skole kan maar sny op hulle sport begroting Dis maar ‘n paar kinders wat aan sport deelneem Maar almal moet skoolgeld betaal Waar is die dae toe die onderwyser die afrigter en skydsregter was Deesdae is dit ‘n pos op sy eie om afrigter te wees En onderwysers mag nie meer skydsregtes wees nie

Norries ·

Ouers wil hul inders in privaat skole plaas, maar wil die maandelikse premie van staat skole betaal.

“Champagne taste and beer money”

Erik ·

Pieter, en dikwels beteken duurder skoolgelde en privaatskole nie noodwendig ‘n beter opvoeding nie.

Casper ·

Nou het die laerskool in die dorp waar ons bly aangekondig dat slegs rompe vir meisies toegelaat sal word en dat die rompe net by die skool aangekoop kan word teen R 280 ‘n rompe.Skooltasse mag ook net by die skool aangekoop word.Hoeveel ouers is daar wat dit nie kan bekostig nie.Iewers maak iemand weer baie geld.Romoe by ander winkels kos R 80.00 en lyk presies dieselfde.

marius ·

Het paddapot en sy voorgangers nie belowe dit gaan op die huis wees nie ?

Hasie ·

Ek kan dalk verkeerd wees maar het ‘n sekere Mnr Malema nie gratis opvoeding belowe nie ? Wonder of hy bewus is van die statitieke soos die …….

NWT ·

Ek glo daaraan dat die ” wanbetalers ” die reg misbruik en ek praat nie van diegene wat dit opreg nie kan bekostig om skoolgelde te betaal nie. Naweke hou hulle partytjie. Hulle gee duisende uit op matriek en proms uit maar kan nie die R500 per jaar skoolgeld betaal nie. En diegene wat wel betaal moet hierdie ouers ook subsideer wanneer die skoolgeld die volgende jaar verhoog eord. Dit is ook nie die moeite werd om hul hof toe te neem nie want dit sal meer n regs uitgawe vir die skool wees. Betaling vir opvoeding is laaste op sekere ouers se begroting. Luuksheid eerste en tweedens om onderwysers aan te kla. Hierdie wanbetalers word deur die politici en die wet beskerm. Ek weet van n ouma wat elke maand R20 kom betaal het alhowel sy volle kwytskelding ontvang het. Die skool wou die geld nie aanvaar nie maar sy aangedring en haar rede was ” dit is die minste wat ek kan doen vir my kleinkind se opvoeding.” Elke maand het sy gekom. Ouers moet regtig hul mindset verander.

Lee101 ·

Ek stem saam met Gompie. Dit is moelik vir gesinne as geld nie in kom nie of een lid van die families sit sonder werk en die ander een is verantwoordelik vir alle finansiele betaling. Daar is net soveel geld beskikbaar. Dit is onregverdig teenoor die kind om n rapport weg te hou as of hulle gestraf word vir die slegte ekonomie wat hulle ouers bekom het. Sies vir julle man…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.