Skoolkalender vir 2021 verander wéér

Argieffoto (Foto: Verskaf)

Indien die kalender in sy huidige formaat aanvaar word, sal onderwysers vanjaar minder as drie weke skoolvakansie hê indien naweke en openbare vakansiedae nie ingereken word nie. Leerders sal om en by 22 vakansiedae hê (ongeveer 38 indien naweke en vakansiedae ingereken word).

Die departement van onderwys het Donderdag die voorgestelde wysigings vir die 2021-skoolkalender aan die onderskeie onderwysvakbonde gestuur vir kommentaar. Die wysigings is aangebring aangesien die datum vir die heropening van skole vir die 2021- akademiese jaar met twee weke tot 15 Februarie uitgestel is.

Onderwysers en onderwysvakbonde het reeds hul ongelukkigheid oor die voorgestelde veranderinge uitgespreek en sal Vrydag aan ʼn konsultasievergadering met die departement deelneem om dit te bespreek.

Volgens die gewysigde kalender eindig die eerste kwartaal nou op 23 April. Die tweede kwartaal strek van 3 Mei tot 9 Julie, terwyl die derde kwartaal van 26 Julie tot 1 Oktober duur. Die vierde kwartaal strek van 11 Oktober tot 15 Desember.

Onderwysers moet egter etlike dae tydens die skoolvakansies by die skool wees om administratiewe take te verrig, insluitende 17 Desember.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê onderwysvakbonde is baie ongelukkig oor hierdie wysigings. Dié ongelukkigheid spruit hoofsaaklik daaruit dat onderwysers nou net 19 dae vakansie het en moontlik reeds besprekings vir vakansie gemaak het wat nou sal moet verander. Klopper meen ook dit is “malligheid” dat onderwysers 17 Desember by die skool moet wees.

“Groot ontevredenheid heers onder die vakbonde en ons sal dit more met die departement bespreek. Ons verwag dat dinge warm onder die kraag gaan raak by more se vergadering,” sê Klopper.

Volgens Klopper het klagtes oor dié moontlike wysigings vanaf SAOU-lede ingestroom . Die lede voel grotendeels dat die minder vakansiedae die leerders en onderwysers gaan uitput.

“Lede is ook gefrustreerd omdat hulle voel die datums is nie vas nie en dat hulle nie hul jaar vooruit kan beplan nie. Met sprake van ʼn moontlike derde golf van infeksies wat later die jaar kan kop uitsteek, gaan daar weer ʼn onsekerheid oor die datums heers.”

Volgens Klopper moet talle ouers weer hul vakansieplanne verander en die moontlikheid bestaan dat hulle geld sal verloor.

Die SAOU vra dat lede enige insette of kommentaar oor die veranderinge aan die kalender na [email protected] stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Ag nee REGTIG!!!!!! Hou dit soos dit, stuur die kinders terug skool toe en hou op om belasting betalers se geld te mors. Ons kon alreeds nie in 2020 met verlof gaan nie weens die inperking en die rondskuiwery van datums. Nou verloor ons alweer geld in 2021 en die kinders verloor belangrike leertyd.
Dis totaal absurd!

Lola88 ·

Ja…natuurlik sal die unies ‘n eier lê! So groot ellende dat jy net 19 dae vakansie kry…Meeste van ons kry net 19 dae. As hulle dan nie wil klas gee nie, hoekom wil hulle dan nog onderwyswers wees? Ons almal is verontrief deur hierdie hele tydperk, bietjie aanpas en bietjie opofferings maak vir ‘n jaar of twee in jou lewe, om ons jongmense se toekoms te vorm, kan tog seker nie die einde van jou wêreld beteken nie?

Wolraad ·

Die belangrike verskil is dat ‘n mens by ‘n ander werk jou 19 dae kan kies. Onderwysers kan nie verlof insit soos die res van ons nie.

Lola88 ·

Wolraad – dit is so ja, maar hulle het die professie gekies. En in die moeilike tyd kan baie van ons ok nie ons verlof dae kies nie

Tanya ·

Ja seker nie, maar kan dit beplan, hulle kan wel afsiek vat. Hulle kan darem seker hulle vakansie weg beplan rondom die 4 periodes skool vakansie.

Pandora1 ·

Wolraad, die 19 dae is AFGESIEN van die gewone verlof wat hulle kan insit… MAHALA. Ek en jy as belastingbetalers betaal vir daarvoor. En die onderwysers betaal die unies om te baklei vir nog meer… op die gewone ou op straat se rekening.
Ek raak regtig nou gatvol vir die onderwysers wat so kla oor hulle “verlof”. Meneer en Juffrou, jy het reeds 18 dae betaalde verlof volgens wet, hoeveel wil jy nog hê?

Francois ·

Ek stem. Hulle kla oor niks. Hulle kry nog steeds vol salaris terwyl ek verplig is om skoolgeld en naskool geld te betaal terwyl die skool nog steeds toe is anders verloor my kind sy plek in die skool.

Liesel ·

Ja nee regtig hulle wou later begin. Hulle het 2 weke ekstra verlof klaar gekry

Wilhelm ·

Klink of Chris Klopper sal verkies dat skool toe bly vir 2021, dan hoef niemand hul vakansie planne te verander nie.

Andre ·

Ek wens ek was so gelukkig om van 17 Desember verlof te he!

QueenB ·

Rerig nou die meeste mense kry net vyftien dae vakansie verlof wat kan so erg wees die unies mors net tyd ons kinders moet skool gaan 2020 het hul so baie tyd verlore gegaan

Jakez ·

Hulle vergeet van die 6 weke wat hulle alreeds aan die begin van 2021 gehad het teen die tyd dat die skole oopmaak vir die jaar.

rotsvygie ·

Meeste gewone werkers werk van 8h00 tot 17h00, elke dag van die jaar, met 15 dae verlof. Dan reken ons nie eers oortyd ure in nie. Dit klink nie vir my na ‘n ramp as onderwysers 19 dae verlof het nie. Ek neem dan ook aan dat die hele Januarie wat reeds 21 werksdae het nie ingereken is in die verlof berekening nie. Alhoewel opvoeders waardeer word, is dit ook net ‘n werk met betaling, soos enige ander werk.

Gogga ·

Wel, ek is geensins gelukkig met die moontlikheid van minder vakansiedae nie. Hoe gaan die kleineres die pas volhou? En die wat dink onderwysers is met “vakansie”…ken jy ‘n onderwyser persoonlik? Ek glo nie! Ek ken ‘n paar, en weet jy dat hulle die sout van die aarde is? Hoeveel keer laasjaar moes hulle hulle leerplanne aanpas agv ons regering se onvermoe om reg te beplan. Hulle bly soveel ure per week na-skool, hoeveel ure in jou kind se vakansietyd is hulle by die skool vir voorbereiding en vergaderings om jou kind se veiligheid te beplan, bespreek en te verseker. Dink mooi voor jy ‘n klip gooi of vinger wys na ‘n onderwyser.

Lize ·

Ek is egter baie meer bekommerd oor my kind se veiligheid en lewe as gevolg van Covid as enige vakansies of geletterdheid.

Ilke ·

Mens is maklik om kommentaar te lewer, as jy nie self n onderwyser is nie. Daar is al +/- 1 600 onderwysers oorlede van Covid. Ongelukkig ken ekn hele paar. Onderwysers word elke dag aan die virus blootgestel, maar nogsteeds word daar gekerm en gekla, en kommentaar gelewer dat hulle lui is, en net langer vakansies wil he. Beide my ouers is onderwysers, en 2020 het regtig die mat onder hulle uigepluk. My ouers geniet dit om onderwysers te wees, en geniet die kinders verskriklik. Ewe skielik moes hul deur`n rekenaar klas gee, en alles eletronies doen. My pa was baie gelukkig om amper ten volle van Covid te herstel. Dit was regtig aaklig om hom so siek te sien. So vir my ma en pa se veiligheid, sal ek se die departement moet eers seker maak alle skole ten volle geskik en gereed is voordat hulle die onderwysers en julle kinders se lewens in gevaar stel.

Pandora1 ·

Ilke, ek hoor wat jy sê. Maar dan moet jy in dieselfde asem noem hoeveel gesondheidswerkers oorlede is aan die virus. Hulle kan nie kies om by die huis te bly tot die virus pad gevat het nie… Soos ‘n dokter, verpleegster en polisieman, het ‘n onderwyser sy of haar loopbaan gekies. Ek kom uit ‘n familie van onderwysers, so, ek ken ‘n hele paar. Baie onderwysers stap wel die ekstra myl om klas aanlyn of deur middel van tegnologie te gee, maar glo my, baie sluip in die malls rond, net bang vir die virus verby die skoolhek en nie verby die kar se deur as hulle by Menlyn stop nie.

Michelle ·

Ek lees dat vakbonde ontevrede is. Ek lees ook dat die kinders 22dae en onderwysers 19dae vakansie het…. Ons is midde in n pandemie en mense kerm en kla oor vakansie planne??
Nee werklik, gaan kyk lank en diep in jou eie oë in die spieël hier is veel, veel meer tersprake!

Karel Kobus Kruger ·

Google “chris klopper saou” en jy kom af op n interessante Citizen artikel van Junie 2019 oor die knaap……

Tanya ·

Ek hoop dit gebeur, want ons het wragtie waar al heel jaar skool geld betaal en skaars skool gehad, geen afslag nie, die van ons wat nog wel werk moes rond hardloop om vakansie verblyf vir die kinders te kry vir die verlengde vakansie en dan nog ook die ekstra uitgawes. Iewers moet hulle ook iets opgee. Hulle werk ure is minder as normaal, hulle vakansie tyd is 75+ dae per jaar, vol naweke en vakansie dae en dan nog vol salaris ook. As jy wil ‘n onderwyser wees en wil kla oor jy nooit tyd af kry nie, dan is jou beplanning regtig stupid of jy het regtig ‘ n passie vir kinders/onderwys, moet dan eerder nie kla nie.

Tanya ·

Ek voel regtig jammer vir die onderwysers, dit kan nie maklik wees nie. MAAR Ons almal is ook maar in dieselfde bootjie. Vakansies is gekanseleee, nie seker oor verlof en en en….. Op die ou einde gaan dit oor die kinders. Hulle raak agter. Hulle kan nie bekostig om langer by die huis te bly nie. Nie alle ouers is in staat om tuis onderig te gee nie of albei ouers werk. Hoe gemaak nou? Hulle kan nie nog tyd verloor nie….

Tanniepetoors ·

Onderwysers, leerders en ouers het almal my empatie en simpatie in hierdie baie onseker tyd, maar regtig, iemand kan nie tel nie. Van 1 Januarie tot 15 Februarie wanneer skole hopelik sal heropen is reeds 30 weeksdae. Wat is dit.vir die leerders anders as vakansie?

Nannied ·

Ons leef in onseker tye met hierdie gogga wat amok maak. ‘n Mens moet maar probeer kalm bly en dit dag vir dag neem.

Erik ·

Dit is nie regtig waar nie. Die vakansie, as jy begin by 1 Januarie die jaar tot 1 Februarie, is op sy eie alreeds meer as wat meeste mense in die privaat kry. Dan is daar nog 3 vakansies die jaar op die nuwe kalendar en Desember is aan die einde van die jaar is ook nie ingesluit nie. Ek is self ‘n onderwyser.

wim ·

Ek het gedink die vakbonde gaan ongelukkig wees as hul die implikasies sien van dit waarvoor hul gevra het.

Hul offer ‘n kinders se toekoms namens hulle op, oor hul danig besorg is oor veiligheid. Trouens hul is kampstig meer besorg oor die kinders se gesondheid as die ouers. Baie ouers wil kinders in die skool hê, maar vakbonde besluit eenparig, dit beteken die sogenaamdw model c vakbonde ook.

Hul weerhou ouers wat nie tuis kan werk nie, daarvan om ‘n inkomste te verdien, maar sodra hul self 15 dae minder vakansie het, dán skielik skop hul vas.

Hier is ‘n voorstel: Aangesien gevalle reeds ietwat onverwags vinnig ‘n piek bereik het, hoekom vra hul nie dat skole tog vroeër heropen nie? Dan is almal mos gelukkig.

Wat op Aarde het hul gedink gaan gebeur toe hul vra vir 15 Februarie? Almal moet opofferinge maak, word gedwing om dit te doen, behalwe hulle.

lodewyk ·

Op die oomblik is die onderwysers nog ekstra 2 weke by die huis,ons almal moet aanpas volgens die Covid pademie by ons werks plekke,as ouer betaal ek getroud my skoolfonds,of die skool nou oop maak of nie,dus die tyd wat nou verlore raak moet seker iewerste ingehaal word om kwaliteit onderig te verseker!

Mad Mike die Rhodesiër ·

Los hierdie skool vir die Wolkskool en vergeet van al daai druk. Dan kan jy begin leer nou al of wanneer jy wil.

Violet ·

Onderwysers het nie gevra dat skole later oopmaak nie. Hulle beplan nog die hele vakansie oor hoe al die werk gedoen moet word as kinders op rotasie is. Nou moet alles oorgedoen word.

Ek lees baie oningeligte kommentare. Wie het begin met skole moet later oopmaak? NDZ, nie die unies nie. Ek verstaan nie hoekom party mense so negatief, afkrakend en ongeskik is met onderwysers nie.

Almal probeer werk met dit wat ons het, niemand het laas jaar gevra dat skole en besighede moet toe wees nie. As jou werkplek toe is wat kan jy doen?

Chantel ·

Nou wat de hel wil hierdie vakbonde he. Ons as ouers maak ook maar vroeg in die jaar reëlings vir Desember-vakansies, ons moet ook maar aanpas. Hoe anders gemaak. REGTIG mnr/juff die onderwyser/res, almal “suffer” hieronder NIE net julle nie.
Ek wonder net, het mense niks geleer uit verlede jaar nie. Hierdie jaar gaan verseker nie ook NORMAAL wees nie. Moet nie planne maak nie, anders gaan jy aan die kortste end trek.
Ons sal maar net moet leer, hoe om dit te vat soos dit kom.
Almal trek swaar hieronder veral as jy steeds skool-gaande kinders het.

Candice ·

Ek kry 15 werksdae verlof… ai… en ek werk tot net voor Kersfees.. ai… en ek kry net Desember vakansie… ai… nie die res van die jaar nie… ai…. en ek moet skool gee sonder betaling as hle nie by die skool is nie…. ai!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.