Skoolplasingfiasko: ‘Blik op skole onder Bela-wetgewing’

(Argieffoto: Maroela Media)

Die 2024- akademiese jaar kon oudergewoonte nie sonder voorval in Gauteng afskop nie weens alewige probleme met skoolplasings.

Solidariteit skryf dié uitdagings toe aan “slordige beplanning” deur die Gautengse departement van onderwys.

Die organisasie se onderwysernetwerk het Dinsdag gesê die departement se alewige swak beplanning rakende die plasing van leerders getuig van die moontlike gevolge, sou die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) wet word.

Die omstrede Bela-wetsontwerp is in Oktober verlede jaar in die Nasionale Vergadering aanvaar. Die spertyd vir skriftelike kommentaar op die Wysigingswetsontwerp is intussen van 19 tot 31 Januarie vanjaar uitgestel.

Die uitstel word verwelkom deur organisasies wat gekant is teen die wetsontwerp.

Johnell Prinsloo, beleidsontleder en navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het op die vooraand van die eerste skooldag van die jaar gesê die departement se “onvermoë” om sy mandaat ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet (SASA) uit te voer én te beplan, kniehalter gehalte-onderrig.

“Dit hou gevaar in vir die toekoms van ons land se kinders.

“Dit is duidelik dat die Gautengse departement van onderwys se aanlyn plasingstelsel, wat reeds verantwoordelikheid van skole af wegneem, gebruik gaan word om Afrikaanse skole se taaldemografie te probeer verander,” aldus Prinsloo.

Solidariteit glo ook die verwarring en onsekerheid wat met skoolplasings gepaardgaan, plaas ʼn bykomende las op skoolgemeenskappe.

“Die departement toon ook ʼn gebrek aan insig oor die uitwerking wat hierdie skoolplasings op skoolinfrastruktuur, algemene hulpbronne en die bestaande leerders sal hê,” sê Anlia Archer, koördineerder van die Solidariteit Onderwysernetwerk.

“Die werklikheid is dat die departement lank reeds bewus is van die aantal leerders wat jaarliks per graad verwag word. Daar word nou eers, minder as ʼn week voor die skole heropen, aandag daaraan geskenk.”

Die voorgestelde Bela-wetgewing, indien dit van krag word, kan reeds bestaande probleme net vererger. Dit sal aan owerhede wat nie eens die vermoë het om leerderplasings te bestuur nie, selfs groter magte ten opsigte van skolebestuur gee.

(Argieffoto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Solidariteit doen ʼn beroep op ouers en skoolgemeenskappe om saam te staan en om Solidariteit se aksies teen die nalatigheid en vergrype van regeringsamptenare te steun.

“Die toekoms van ons kinders mag nie in die kloue van die staat beland nie,” sê Archer.

AfriForum was een van dié wat die uitstel vir skriftelike kommentaar op die voorgestelde Bela-wysigingswetsontwerp vandeesweek verwelkom het.

Die burgerregteorganisasie se kommentaar is reeds ingedien, “maar weens die erns van die saak moet elke geleentheid om kommentaar teen die kommerwekkende aspekte van Bela in te dien, aangegryp word”.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, kon nie alle belanghebbendes weens die afgelope feestyd hul kommentaar betyds indien nie.

Diegene het nou nog twee weke om dit te doen.

“Gemeenskappe het ʼn reg om self oor die taal van en toegang tot hul skole te besluit. Moedertaalonderrig is noodsaaklik vir die beste leeruitkomste. Beheerliggame bestee ook jaarliks miljoene rande om ekstra poste in skole te skep sodat kinders nie in oorvol klaskamers beland nie. Indien die huidige weergawe van die wetsontwerp aanvaar word, sal ouers hierdie finale besluitnemingsmagte verloor en kinders sal nog meer uitgelewer wees aan die politieke magspeletjies en administratiewe wanbestuur van die owerhede,” meen Bailey.

“AfriForum doen nou ʼn beroep op almal wat belange by ons kinders se toekoms het, om aan hierdie openbare raadplegingproses deel te neem, selfs al het hulle by vorige geleenthede reeds hieroor mondelinge of skriftelike kommentaar gelewer.

“Elke geleentheid om die wetsontwerp teen te staan, moet ten volle benut word – die saak is té belangrik om enige kans vir kommentaar te ignoreer,” sê Bailey.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ronel ·

Elke dag verwonder ek my net aan die feit daar is absoluut NIKS waaraan die regering vat wat hulle nie in die afgrond in stamp nie! Sowat van ‘n SADIM “touch”het ek lanklaas beleef. Steeds staan Ramaposa trots rond en maak asof hy die hele wereld ‘n beter plek gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.