Skootrekenaars vir studente: EFF eis Blade se kop

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die EFF eis die afdanking van Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, weens “verdoemende bewerings” van tenderbedrog wat verband hou met die verkryging van skootrekenaars vir behoeftige studente, asook die beweerde wanbestuur van die departement se finansies.

In April verlede jaar, in ʼn poging om die uitwerking van die Covid-19-inperking op studente te verminder, het die departement ʼn proses van stapel gestuur om skootrekenaars vir alle studente wat deel is van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS), aan te koop.

Bewerings van korrupsie met dié proses – wat die aankoop van 500 000 skootrekenaars behels het – het sedertdien aan die lig gekom.

Die geskorste direkteur-generaal van die departement, Gwebinkundla Qonde, beweer luidens ʼn berig in City Press onder meer dat Nzimande hom aangesê het om verkrygingsbepalings vir die skootrekenaarkontrak te verontagsaam.

Qonde het die arbeidshof ook reeds genader met ʼn aansoek om sy skorsing onbillik en onregmatig te verklaar en ter syde te stel.

Qonde voer ook aan pres. Cyril Ramaphosa het sy pleidooie om in te gryp, verontagsaam.

Hy is verlede maand geskors, maar voer onder meer aan Nzimande het sy pogings om sy werk te doen bemoeilik.

“Qonde het aangedui hoe ʼn newelagtige ministeriële taakspan, wat op die been gebring is om die verkrygingsproses van die skootrekenaars te bestuur, opdrag gegee is om voort te gaan met ʼn bestaande kontrak om die skootrekenaars te bekom, eerder as om die tender te adverteer om mededingendheid te bevorder,” lui ʼn verklaring van die EFF.

“Dit is gedoen onder die dekmantel van noodverkryging, wat die tesourie afgekeur het, en het gelei tot druk deur Nzimande op Qonde om voort te gaan met die ooglopend onregmatige en onwettige proses om die skootrekenaars te bekom.”

Dit is nie die eerste keer dat die EFF eis dat Nzimande die trekpas kry nie.

“Nzimande is welbekend vir intimidasie en die gebruik van sy posisie om mense by Setas te verwyder om geld te kry vir entiteite na aan hom en diegene wat hy in strategiese posisies plaas. Dit is geen verrassing nie dat hy betrokke is by nog ʼn skandaal, terwyl daar ʼn voortgesette ondersoek is na die finansies van die nasionale vaardigheidsfonds.”

Die EFF bestempel Nzimande as ʼn “hardvogtige en korrupte partysugtige” wie se enigste doel in die regering is om die belange van diegene wat sy posisie verseker, te beskerm.

“In die lig van ʼn dodelike pandemie sluit hy aan by ʼn lang lys van ministers wat die noodverkrygingsproses probeer gebruik het om diefstal te bevorder,” sê die EFF.

Die party beskuldig Nzimande voorts daarvan dat hy geen waarde heg aan aanspreeklikheid nie en nie belangstel om ʼn oop en verantwoordelike sektor te bestuur nie.

“Nzimande het wat ʼn ontwikkelingsektor moes wees in sy koninkryk verander; een wat floreer op beledigings, ontwyking en die gebruik van openbare platforms om studente te bespot.”

Die EFF sê Nzimande moet dadelik uit sy pos verwyder word en ondersoek word vir die beweerde rol wat hy gespeel het in die ineenstorting van Setas en die kanalisering van geld van die departement deur kameraadskap en onregmatige tenderprosesse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Baardman ·

EFF se skynheiligheid laat my lag. Nietemin stem ek saam dat Blade maar kan gaan

Misky ·

Daai studente leer in elkgeval nie en sal nie weet wat om met ‘n skootrekenaar te doen nie. Los sommer die hele aangeleentheid en hou op geraas maak

Chris ·

Ek het n paar woonstelle wat ek aan studente verhuur wat NsFas toelaag kry en ek sal jou sê ek dink daai hele toelaag word uit gedrink.

Kobus ·

Wonder of daar rekenskap gegee kan word van al daai skootrekenaars.

koos10 ·

EFF, julle het ook geeis dat Zuma moet tronk toe gaan, en toe dit gebeur help julle om die land af te brand. Julle is die hoof narre in die SA sirkus!

Heinrich ·

Drie punte wat vir my hier uitstaan:
– korrupsie van die ANC / kommuniste se kant af, geen verassing nie, en was te verwag.
– EFF nogal heel paraat op op ‘corruption watch’, soos hulle in Engels sê “That’s rich!”. Hulle sou ‘n VBS getrek het indien hulle in beheer van die proses was.
– Die belangrikste punt is dat Qonde hom op due president beroep het maar dat dié ‘n blinde oog gedraai het…hy is nie enige iemand se redder nie maar die hoof van die stropingsparty in SA, dit was nie in die ANC se belang om op te tree nie.

Peetjie ·

Die vrot appels val so een na die ander van die boom af…

Kokerboom ·

Kan die kaderregering asb vir ons gewone mense ook se waar die vrugteboord is waar die Randebome groei?!!!Die feit dat Minister moet gaan is nie eers onderhandelbaar nie!!

Louis ·

Net nog ñ onbeholpe kader ontplooing wat daar sal sit tot die onderwyskas leeg is en dan op vet pensioen gaan.

Philip ·

Dit is kameraad malemmer teen kameraad blade tog beide van hulle geswore kommuniste nou waar kom die lojaliteit en die eensgesindheid nou in die tweede plek met hulle saam. Ek het n vuil vermoede dat geld/ aansien en n ingeboude minderheids/meerderheids gevoel mekaar die stryd aangese het

JM ·

Hoor wie praat!! Mense wat in glashuise woon, wat so arrogant is om met klippe te gooi. Het die EFF vergeet van die VBS bank?

Tanniepetoors ·

Ek het nie gedink dat daar sal ‘n dag kom wat ek moet erken Julius Malema het iets sinvols kwytgeraak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.