Skote klap buite klubrugbywedstryd in Mamelodi

Die gat in die Nissan Qashqai (Foto verskaf)

“Dit is net genade van die Here dat ons veilig is.”

Só sê Amoré Malan (22) nadat sy en haar kêrel, Ruan Pretorius, Saterdag in ʼn skietvoorval in Mamelodi, noordoos van Pretoria betrokke was.

Pretorius is afrigter van die tweede span van Noordelikes-rugbyklub in Pretoria-Noord.

Die paartjie het omstreeks 13:45 in ʼn Nissan Qashqai gery, op pad na die klub se wedstryd toe die voorval gebeur het. Google Maps het hulle met ʼn pad agter om die veld laat ry.

“Dit was ʼn enkelbaanpad verby ʼn sjebien en ʼn motor het van voor af gekom,” vertel Malan aan Maroela Media. “Ons het stadiger en na die kant van die pad gery sodat die ander motor verby ons kon kom. Twee gewapende mans het skielik langs ons verskyn. Ek het in ʼn vuurwapen se loop vasgekyk en Ruan het in ʼn loop vasgekyk.”

Malan sê Pretorius het kalm gebly, haar platgedruk en net bly sê “asseblief, nee”. Hy het dadelik begin wegry van die gevaar toe vier skote op hulle motor gevuur is. Genadiglik het net een van die skote hulle getref.

Hulle het aanvanklik gedink dit was dalk net loskruitpatrone, maar toe hulle by die veld stilhou en die gat in die voertuig sien, het hulle besef dit was inderdaad skerp ammunisie.

“Dit is net genade van die Here dat ons veilig is. Die koeël sou Ruan in die maag getref het as dit deur die paneel gekom het,” verduidelik Malan.

Volgens Danie Engelbrecht, hoofafrigter van Noordelikes-rugbyklub, is dit heeltemal onaanvaarbaar en moet daar dalk besin word waar die wedstryde gespeel sal word. Hy het die voorval reeds onder die aandag van die presidentsgroep gebring. Daar is sowat 10 spanne in die liga waarvan Noordelikes-rugbyklub deel is. Noordelikes speel Saterdag teen Stanza-rugbyklub.

“Ons het nie vanoggend in ʼn konvooi na Mamelodi gery nie, maar ons sal beslis vanmiddag almal eers wag totdat alle wedstryde afgehandel is en dan in ʼn konvooi huis toe ry,” het Engelbrecht bygevoeg.

Die polisie stel ondersoek in na die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Soos Sam Ramsany destyds gesê het: Jy kan nie normale sport in ‘n abnormale samelewing beoefen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.