Skrywer, historikus Dan Sleigh sterf

Dan Sleigh (Foto: NB Uitgewers/Facebook)

Die bekroonde skrywer en historikus, dr. Dan Sleigh, is vroeër vandag in die ouderdom van 85 jaar oorlede.

Hy is in sy huis in Pinelands, Kaapstad, dood.

Sleigh is bekend vir sy skryfwerk en publikasies soos onder meer sy debuutbundel, Duif oor water, en die romans Eilande, Afstande en Wals met Matilda. Hy het daarby boeke met ʼn historiese fokus geskryf soos Jan Kompanjie: Die wêreld van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, asook Die Hugenote, Ruiters teen die Ryk en was medeskrywer van Die aanslag op die slaweskip Meermin, 1766.

Sleigh was ʼn kenner op die gebied van die VOC.

Volgens Hester Carstens, Sleigh se uitgewer, is Sleigh se dood ondenkbaar.

“Om Dan Sleigh te moet prysgee, is om ʼn menslike juweel van onskatbare waarde te verloor. Om in sy teenwoordigheid te kon wees, was vir almal wat hom beleef het ʼn seëning. Hy gaan verskriklik gemis word,” sê sy.

Volgens Tafelberg en NB-Uitgewers het Sleigh vir sy literêre werk verskeie toekennings verower soos die Suid-Afrikaanse Letterkundige Toekenning, Suid-Afrikaanse Akademie-medalje vir Geskiedenis en ʼn Lewensprestasie-toekenning.

“Sleigh het die weg gebaan vir baie aspirant-skrywers in Suid-Afrika,” sê sy uitgewers in ʼn verklaring.

Sleigh is in 1966 getroud met Dewetia Hendriksz, ʼn kunstenaar en kunsdosent aan die Kaapstadse Onderwyserskollege en Ruth Prowse Kunssentrum. Hulle het saam ʼn dogter, Jean. Hendriksz is in 2006 oorlede.

Sleigh is in 1938 aan die Langebaanstrandmeer aan die Weskus gebore. Hy het in 1987 sy doktorsgraad in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal. In 2001 het hy die Sanlam-romanwedstryd gewen met Eilande, waarvoor hy ook etlike ander pryse ontvang het.

In 2015 was sy roman 1795 die wenner van NB-Uitgewers se Groot Romanwedstryd. Die WA Hofmeyrprys sowel as die ATKV -Prosaprys is aan hom vir dié roman toegeken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.