Skrywer van ‘Noem my Skollie’ sterf

John W. Fredericks (Foto: Facebook)

John W. Fredericks, die draaiboekskrywer van die fliek Noem my Skollie, is Sondag in die ouderdom van 73 tuis oorlede.

Fredericks, op wie se lewe dié Oscar-benoemde fliek gegrond is, is net vroeër vanjaar met pankreaskanker gediagnoseer.

Francis Thorne, Fredericks se suster, het sy afsterwe op sosiale media bevestig.

“Dit is met ’n hartseer hart wat ons totsiens sê aan my broer John Fredericks, die draaiboekskrywer van Noem my Skollie. Rus in vrede my broer. Weg maar nooit vergete,” het sy geskryf.

Alishia van Deventer, publisiteitsbeampte in die Afrikaanse vermaakbedryf, het Sondagmiddag aan Maroela Media gesê sy het verneem van Fredericks se afsterwe.

“Hy was een van die mees inspirerende persone wat ek die voorreg gehad het om te ontmoet en mee saam te werk. Dit was lewensveranderend om hom te ken. Sy nederigheid was ongekend,” het Van Deventer gesê.

“Vir iemand wat grootgeword het soos hy het en toe alles oorkom het… Hy het gewys dat as jy wil, jy jou lewe kan verander en iets daarvan maak.”

“Hy is vir my ’n ikoon. My hart is bitter seer,” het Van Deventer gesê.

John W Fredericks en metgesel. Foto: Maroela Media

Maroela Media het vroeër berig die bekroonde fliek wat in 2016 uitgereik is, handel oor Fredericks se lewensverhaal en vertel hoe dié suksesvolle skrywer en regisseur agter ʼn vullishoop grootgeword het. Met geen heenkome nie en as lid van ʼn bende, het hy egter daarin geslaag om sy lewe om te draai met die krag van geloof.

Noem my Skollie vertel die verhaal van vier tieners – AB (geïnspireer deur Fredericks) en sy drie beste vriende, Gimba, Gif en Shorty, wat in die armoedige bendewêreld van die Kaapse Vlakte grootword. Die vier probeer die bendes vermy wat eintlik deel is van hul daaglikse lewe, maar wanneer AB deur ’n traumatiese ondervinding gaan, besluit hulle om ’n bende te stig om hulself te beskerm.

Die vier vriende pleeg nie ernstige misdade nie, maar word deurentyd deur die polisie dopgehou. Uiteindelik word ’n ouer AB en Gimba in hegtenis geneem tydens ’n inbraak en tot twee jaar tronkstraf gevonnis.

AB besluit in die tronk om sy storievertel-talent te gebruik om die geharde misdadigers te vermaak.

Sedert die nuus van Fredericks se dood bekend geword het, het boodskappe van medelye op sosiale media ingestroom.

Die vervaardiger David Max Brown skryf: “Die dag het gekom om afskeid te neem van my vriend John W. Fredericks. Ons het almal geweet dit kom maar dit is steeds te gou. John, jy was ’n konstante inspirasie. Jy leef voort in harte, gedagtes en in al jou stories.”

ʼn Aanhanger skryf dat die fliek een is wat sy nooit sal vergeet nie. “Dankie dat jy jou storie vertel het”, terwyl ʼn ander een skryf dat Fredericks geleef het om sy meesterstuk op die grootskerm te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lallie Jooste ·

Dit was een van die beste flieks wat ek ooit gesien het. Simpatie aan sy naasbestaandes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.