Skudding in Kaapstad bevestig; onverwant aan aardbewing aan die kus

Grafika: Volcano Discovery

ʼn Skudding wat Saterdagaand in Kaapstad gevoel is, is veroorsaak deur ʼn aardbewing van 2.5 ongeveer 10 km noord van Malmesbury in die Wes-Kaap, het die Raad vir Geowetenskappe (CGS) gesê.

Dié skuddings is egter nie verwant aan ʼn skudding van 6.2 wat sowat 1 600 km suid-suidoos van Kaapstad plaasgevind het, soos vroeër vermoed is nie.

Die CGS het bevestig ʼn aardbewing het Saterdagaand om 20:41 plaasgevind en die Suid-Afrikaanse Nasionale Seismograaf-netwerk het dit opgeteken.

“Talle berigte van inwoners in Kaapstad het aangedui dat hulle in dié tyd ʼn skudding gevoel het. Dit wil voorkom of dit nie verwant is aan die aardbewing wat om 19:10 aan die kus plaasgevind het nie,” het Mahlatse Mononela, woordvoerder van die CGS, in ʼn verklaring gesê.

Geen tsoenami-waarskuwing is uitgereik nie en die CGS stel die publiek gerus dat daar nie ʼn dreigende gevaar is nie. “Daar is geen rede tot paniek nie,” het die Mononela bygevoeg.

Inwoners het Sondagoggend op sosiale media laat weet hulle het weer ʼn gerammel gehoor en skuddings gevoel.

Die aardbewing aan die kus was op die mid-oseaniese rif halfpad tussen Afrika en Antarktika. Al die plate om Suid-Afrika dryf verder van Suid-Afrika af, en neig om minder ernstige aardbewings te veroorsaak – anders as waar die plate na mekaar toe gedruk word, soos die Andesgebergte. Waar die plate langs mekaar verbyskuur, soos in die VSA se San Andreas-verskuiwingsvlak, is die aardskuddings gewoonlik ook nie so sterk nie. Uitsonderings kom wel voor, soos gevalle in die Noord-Atlantiese Oseaan waar tsoenami’s beide Noord-Amerika en Europa verwoestend getref het.

Die groot aardbewings wat Kaapstad sedert die vroeë negentiende eeu getref het, was van die Milnerton-verskuiwingsvlak afkomstig, en het groot skade aangerig. Tot matrose wat op skepe in Tafelbaai voor anker gelê en slaap het, is uit hul hangmatte geslinger. Die Koeberg-kragstasie se ontwerpers het vir sulke aardbewings voorsiening gemaak.

Die belangrikste is egter dat wegdrywende plate selde aardbewings van sewe oplewer, terwyl baie min tsoenami’s deur aardbewings van minder as sewe veroorsaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

capie ·

Daar was vanoggend nog een teen 09:12 en ‘n kleiner een teen 09:27

annie ·

Ons is toe nie de darling of de world nie… en moet dalk maar nederig raak. Die idee dat ons aan die Skepper opdragte kan gee soos in die storie van die reus van die lamp wat ja-baas sodra die ou lampie gepolish word, is verwaand verby. God bless Africa en nie eers asseblief nie is katistrofaal stupid verby.

Boerkind ·

Selfs die plate dryf weg van Suid Afrika….. nogal betekenisvol op ‘n siniese manier….

Moedeloos ·

My ouma het altyd gesê raak aan die natuur en hy vat sy regmatige deel terug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.