Slagoffer van geslagsgeweld vertel haar storie

Ian Cameron en Janelle Laattoe (Foto: Action Society)

“Ek het sedert 2018 stilgebly, maar nou sal ek my storie vertel; anders as vroue soos ek wat nooit die kans gekry het nie,” sê Janelle Laattoe, ʼn slagoffer van geslagsgebaseerde geweld. “Ek moes vir meer as ʼn jaar lank toekyk hoe hofverskynings uitgestel word; hoe my mishandelaar vry rondloop, drie ander vroue aangerand is en my dossier verdwyn het. Maar nou praat ek, en dit is nie hoe my storie sal eindig nie.”

Action Society, in samewerking met Philisa Abafazi Bethu, het Janelle toegelaat om vandag haar storie te vertel en die lig te werp oor hoe die strafregstelsel slagoffers van geslagsgebaseerde geweld versaak.

Janelle het uiteindelik in 2019 die moed gehad om ʼn saak aanhangig te maak teen haar kêrel wat haar mishandel het, sê Ian Cameron, woordvoerder van Action Society. “Hy is in hegtenis geneem en het oor die volgende jaar en ʼn half ʼn paar keer in die hof verskyn, maar die saak is in Desember 2021 voorlopig teruggetrek. In Januarie 2022 het Janelle daarop begin aandring dat haar saak op die hofrol geplaas word. Niks het gebeur nie. Uit desperaatheid het sy by Action Society aangeklop en ons het die saak aanvaar.”

Ná 15 oproepe na die Delft-polisiestasie en verskeie kere wat die stasie in persoon besoek is, het Action Society en Janelle uitgevind dat haar dossier skoonveld is. Haar laaste verklarings is boonop ook nie digitaal gestoor nie.

“In stryd met Suid-Afrikaners wat in Augustus vroue vier, is die land se strafregstelsel heeltemal onsuksesvol om slagoffers van geslagsgebaseerde geweld en moord op vroue te ondersteun. Daar is geen rede tot viering nie,” voeg Cameron by.

Lucinda Evans, die stigter van Philisa Abafazi Bethu, sê niks het vir vroue verander van die 1956-struggle tot 2022 nie, en dat dit deesdae erger is om ʼn vrou in Suid-Afrika te wees.

“Die stelsel versaak ons vroue en kinders,” sê Cameron. “Maar ons sal steeds geregtigheid najaag vir Janelle en elke ander vrou en kind in dié situasie, selfs al moet ons van voor af begin.”

Cameron sê hy het begrip dat polisielede onder geweldige werksdruk is met die minimum of geen hulpbronne nie. “Dit is ʼn haglike toestand. Ons kyk na die minister van polisie, die hele strafregstelsel en die regering om hul versuim te erken en doeltreffende stappe te begin doen om die aanslag teen vroue en kinders te voorkom. Daar moenie net optrede voor TV-kameras wees nie. Ons het aanspreeklikheid nodig.”

Action Society het al lankal sy oplossing tot misdaad in Suid-Afrika voorgehou:

  • Doen ʼn vaardigheidsoudit in die polisie om die meriete van aanstellings te bepaal en beamptes af te dank wat nie op meriete aangestel is nie.
  • Laat alle lede ʼn leuenverklikkertoets ondergaan om te bepaal of hulle by enige korrupsie betrokke is. Indien wel moet hulle afgedank word.
  • Herstel misdaadintelligensie-vermoëns.
  • Stel weer die spesialis-eenhede aan wat doeltreffend ernstige gewelddadige misdaad kan takel sonder dat hulle in die gemeenskap woon waar hulle werk.
  • Misdaad-ringleiers, insluitend dié met verbintenisse in die regering, moet geteiken word en uit bedryf gestel word.
  • Herstel reservis-vermoëns, veral om die spesialis-eenhede te ondersteun. Dit is van uiterste belang dat dié reserviste nie uit die betrokke gemeenskappe kom nie om seker te maak dat daar nie enige intimidasie kan plaasvind nie.
  • Betaal polisiebeamptes behoorlike salarisse.
  • Implementeer polisie-afwenteling in die Wes-Kaap as ʼn bewys van die konsep.

Action Society se voorlegging kan hier afgelaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Martie Smartie ·

Het Action Society teenwoordigheid in Gauteng waarby mens betrokke kan raak? Ek haal my hoed af vir Ian Cameron

Yolandie ·

Respek aan jou Ian dat jy die kurrupte sisteem aanpak en die breer gemeenskap so ondersteun met jou goeie werk. Vir jou gaan dit duidelik oor diensbaarheid en die veiligheid van alle Suid-Afrikaners. Maar ek twyfel of ou Minister Cele met sy designer hoedjies ‘n duit omgee.

Miena ·

Ek kan nie glo dat dossiere of sake noem dit wat jy wil, verlore raak nie. Ek was (jare gelede) deel van die oorspronklike span wat van provinsie tot provinsie gereis het van Lds Kantoor na Lds Kantoor om n stelsel op die been te bring vir aantekeninge van 1e verskrynings, herverskynings, en afgehandelde sake. dit was ten doel ook om die stelsel te laat (DoJ&CD, DKD en die SAPD) verbind met mekaar (op n rekenaar-sisteem). Wanneer n saak aanhangig gemaak word by SAPD word n computer file oopgemaak met CAS nr. Dag van verskyning by Lds Kantoor word die file opgeroep en alle nodige aantekeninge word gemaak. (Dit vervang die ou transkribeerder masjiene) Met tronkstraf kan DKD dit weer open. Dit het ons amper 2 jaar geneem om die sisteem op die been te bring en ons het goed gedoen… totdat daar nie instandhouding gedoen was nie en die mense wat opgelei was om die werk te doen is weg – nodeloos om te se – die volk wat agtergebly het weet nie hoe om n rekenaar te gebruik nie.

Ontnugterde senior ·

Dis ‘n skande dat daar kwansuis elke jaar optogte en veldtogte teen geslagsgeweld gehou maar niks verander nie. Die publiek sal moet begin aandring om ‘n sertifiseerde afskrif van hulle klagstate wat by die polisie ingedien word te kry wanneer die klag gele word sodat hulle dit beskikbaar het wanneer die dosier “verdwyn”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.